Bedrywighede by goudmyn opgeskort ná brand

Argieffoto

Argieffoto

Bedrywighede by Harmony Gold se Kusasalethu-goudmyn in Carletonville in die weste van Gauteng is opgeskort nadat ʼn brand Sondagoggend ondergrond daar uitgebreek het.

Charmane Russell, woordvoerder, het Maandag gesê ʼn ondersoek is van stapel gestuur om die oorsaak van die brand vas te stel. “Bedrywighede word tydelik opgeskort, maar noodsaaklike dienste duur voort,” het Russel gesê. “Werkers het toegang tot beranders na afloop van só situasie. Elkeen wat ondergrond was, is ontruim en geen beserings is aangemeld nie.”

Harmony en die departement van minerale hulpbronne ondersoek die voorval. Altesaam 486 werkers wat tydens die brand ondergrond was, is veilig na die oppervlak gebring.

“Ons is uiters dankbaar dat al ons kollegas sonder beserings na die oppervlak gebring is,” het Graham Briggs, uitvoerende hoof, Sondag in ʼn verklaring gesê.

Alle werkers sal vir waarneming gestuur word om seker te maak dat hulle fisies gesond is.

Die brand het omstreeks 09:40 op vlak 75 sowat 2 300 m ondergronds ontstaan, en is sedertdien onder beheer gebring.

Sommige werkers het na toevlugareas gevlug waar daar vars lug, water en telefoonverbindings na die oppervlak beskikbaar was.

Die brand het glo tydens instandhoudingwerk van ʼn reuse-lugverkoeler ontstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.