Bedrywighede by Kaapstad-hawe hervat

Die Kaapstadse hawe. (Foto: Jean van der Meulen/pixabay)

Die Stad Kaapstad het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se aankondiging dat die bedrywighede in hawens in Suid-Afrika ten volle herstel word, verwelkom. Dit volg nadat daar verlede week  ʼn aanval op Transnet se IT-stelsel was wat dié maatskappy se bedrywighede, veral by hawens, onderbreek het. Dit het onder meer tot ʼn agterstand in die verwerking van goedere na en van hawens gelei.

Maroela Media het vroeër berig beweging van aankomende en vertrekkende vaartuie is met die hand aangeteken weens onderbreking in die IT-stelsel. Dit het glo tot groot vertragings gelei, maar bedrywighede by haweterminale is nietemin nou, ʼn week later, hervat.

Volgens David Maynier, Wes-Kaapse LUR van finansies en ekonomiese geleenthede, het die Kaapstadse hawe daarin geslaag om die afgelope week werk aan vier vaartuie af te handel en meer as 2 760 vraghouers te verwerk. Altesaam 400 invoerhouers is namens vrageienaars afgehaal.

“Die aanval het ʼn beduidende impak op die IT-stelsel van die Kaapstad-hawe gehad. Die bedrywighede was ver onder die daaglikse gemiddeld van meer as 2 000 houers per dag,” sê Maynier.

In totaal het sewe dae se werk verlore gegaan met meer as 10 000 houers wat vertraag is en twee vaartuie wat besluit het om nié die hawe van Kaapstad aan te doen nie. Drie vaartuie wat reeds die hawe moes verlaat het, is steeds in die hawe terwyl ses voor anker lê en wag om vas te meer.

Boonop word die bedrywighede by die Kaapstad vraghouerterminaal ook deur gure weer beïnvloed.

“Die uitvoer van goedere is van kritieke belang vir ons ekonomiese herstel in die Wes-Kaap, en hoewel ons die terugkeer van Transnet se IT-stelsels verwelkom, bly ons bekommerd oor die vertragings wat dit tot gevolg gehad het.

“Ons sal voortdurend met Transnet kontak maak oor die situasie by die Kaapstad-hawe, aangesien dit van uiterste belang is dat pogings aangewend word om die agterstand in te haal en invoerders en uitvoerders se vertroue in die hawediens te herstel.”

Volgens Maynier is die installering van die langverwagte hidrouliese spanningstelsels in die Kaapstadse vraghouerterminaal om vasmeer te vergemaklik nou ʼn topprioriteit. “Ons sal dringend saam met die TNPA (Transnet se nasionale haweowerheid) hieraan aandag gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Daar is vroeer berig dat dienste by hawens so power is dat daar baie vertragings is maar nou word die aanval op die IT stelsel blameer. Wys mens hoe aanhoudend lieg die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.