Bedrywighede hervat by Mpuma-kragstasie

Argieffoto: GCIS

Eskom het Donderdag bevestig bedrywighede het ná vier maande by die Camden-kragstasie in Mpumalanga hervat.

Dit is danksy ʼn suksesvolle projek om as uit ʼn onveilige dam by die stasie te verwyder. “Eenheid 8 van die stasie is vandag op die netwerk gesinchroniseer en eenheid 5 sal na verwagting Vrydagmiddag aangeskakel word,” het Eskom in ʼn verklaring gesê.

Tussen 1 September 2020 en 19 September 2020 sal nog vyf eenhede aangeskakel word. “Dit beteken ʼn bykomende 1 400 MW tot die netwerk. Eenheid 3 sal egter vir die volgende drie maande afgeskakel bly.”

Bedrywighede by die stasie is op 24 April 2020 opgeskort ná ʼn hersiening van die strukturele integriteit van die asdam. Die kontrakteur het bevind dat die dam sy maksimum hoogte bereik het en dit het dus ʼn gevaar ingehou vir alle personeel op die perseel en naburige gemeenskappe.

Eskom het sowat 795 000 m³ as uit die dam verwyder, insluitend 300 000 m³ wat na ʼn oopgroef myn vervoer word.

Tydens die tweede fase van die projek sal 800 000 m³ as van die noordelike kant van die dam na ʼn myn geneem word. Dié fase sal na verwagting teen die einde van November 2020 afgehandel wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Sarel

Moet ons Eskom.nou geluk wens? Dit beteken net dat die dam nooit gemonitor was nie .