Bedrywighede sál voortgaan ondanks staking, sê redery

numsaDie lugvaartmaatskappy Comair het gesê bedrywighede sal voortgaan oor die Paasweek indien die Numsa-staking wel gebeur, maar hy gaan hom tog tot die arbeidshof rig om dié staking te voorkom indien moontlik.

“Comair het ʼn gebeurlikheidsplan gereed en beplan om sy daaglikse bedrywighede voort te sit,” het Wrenelle Stander, uitvoerende direkteur van Comair se lugdiensafdeling, in ʼn verklaring gesê.

Dít volg nadat die metaalwerkersvakbond Numsa die maatskappy 48 uur kennis gegee het voordat hulle môre sal begin staak. Die vakbond het ʼn beroep op Comair-bestuur gedoen om sinvol met werknemers se eise om te gaan om ʼn staking so kort voor Paasnaweek te vermy.

Numsa-lede eis sedert Desember verlede jaar ʼn salarisverhoging van 12%, ʼn gewaarborgde 13de tjek, reiskoste, 15% van ʼn basiese salaris as skoftoelaag en ʼn daaglikse oortydtoelaag.

Irvin Jim, hoofsekretaris van Numsa, het in ʼn verklaring gesê die vakbond probeer vanaf verlede jaar om dié arbeidsgeskil op te los. Die twee partye kon nog nie tot ʼn ooreenkoms kom nie.

Volgens Stander het Comair Dinsdag omstreeks 13:00 die kennisgewing ontvang. “Dit laat lughawens se grondpersoneel, wat deur Numsa verteenwoordig word, toe om Donderdag vanaf 13:00 te staak.”

Net meer as 700 van Comair se 2 200 grondpersoneel by Suid-Afrikaanse lughawens is lede van dié vakbond.

“Ons sal alles moontlik doen om ons kliënte op die hoogte te hou en die uitwerking van enige staking te verminder. Ons moedig ons kliënte aan om aanlyn in te boek óf by die selfdiensstasies by lughawens. Bagasie moet by die [betrokke lugdiens] se toonbank ingeboek word. Werknemers van oor die hele maatskappy het ook as vrywilligers aangemeld om ontwrigting te beperk,” het Stander gesê.

Volgens Stander was die maatskappy destyds oop vir onderhandelinge met Numsa. Comair kon egter nie die vakbond se eis ondersteun om die salarisse van 683 werknemers in die bedingingseenheid te verhoog om ooreen te stem met 21 werknemers se hoër salarisse wat nie tydens herstrukturering verlaag kon word nie.

Die vakbond wil hê dat Comair die gaping tussen alle werkers met ʼn loonverskil van minder as R1 000 onmiddellik moet oorbrug, die gaping van werkers met ʼn loonverskil tussen R1 000 en R2 000 binne 12 maande moet oorbrug en die gaping van werkers met ʼn verskil van meer as R5 000 in salaris binne drie jaar moet oorbrug.

Volgens Jim het die bestuur van Comair dié voorstelle geweier. “In plaas daarvan het hulle ʼn verregaande voorstel gemaak dat hoë verdieners nie salarisverhogings mag kry nie totdat die salarisse van ander werkers hulle salarisse ingehaal het. Dit is heeltemal onaanvaarbaar,” meen hy.

“Dié voorstel is onregverdig en daarom het ons dit van die hand gewys en sit ons nou met ʼn dreigende staking.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elna Lush ·

Geen probleem nie!! As n tronkvoël president kon word, dan kan n cleaner seker n loods word? Lekker in d nuwe SA! ……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.