Bedrywighede verloop vlot by Pta-dieretuin ondanks staking

Olifante by die Pretoriase dieretuin (Foto: NZG, Facebook)

Die Pretoriase dieretuin het Sondag gesê bedrywighede verloop glad en daar word omgesien na die welstand van die diere en die veiligheid van die besoekers, ondanks ʼn staking deur dieretuin-werkers.

Personeellede wat verbonde is aan die National Trade Union Congress (NTUC) het Saterdagmiddag om 12:00 begin staak. Die dispuut hou verband met ʼn ooreenkoms wat in 2009 onderteken is tussen die dieretuin en verskeie vakbonde wat betref ʼn sewe dag werksweek. Die NTUC eis nou dat dié ooreenkoms gekanselleer word, en dat werknemers oortydbetaling moet ontvang wanneer hulle oor naweke werk.

“Die dieretuin kan nie aan die eise van die vakbond voldoen nie,” het Clifford Nxomani, besturende direkteur van die dieretuin, gesê. “Die dieretuin is sewe dae van die week oop. Dit is onpraktiese en finansieel nie moontlik om aan die vakbond se eise te voldoen nie. Ons het al ʼn paar keer met die werknemers gesels in ʼn poging om die saak op te los. Kragtens ons ooreenkoms word Saterdae beskou as normale werksdae en werknemers ontvang oortydbetaling vir Sondae.”

Voorvalle waar stakers Sondagoggend die ingang na die dieretuin versper het en rommel gestrooi het, is dadelik aangespreek. Die stakers het om 12:00 verdaag nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens hulle ingelig het dat die regulasies van die Wet op Samekomste oortree word.

“Die dieretuin wil graag die publiek verseker dat daar na die welstand van die diere en die veiligheid van die besoekers omgesien word terwyl die staking voortduur. Al die diere word versorg en daar is baie beperkte impak op ander besoekersdienste,” het Nxomani bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Hulle het gedink hulle is onmisbaar, fire hulle en stel mense aan wat wil werk.

Ronel ·

Ek werk my hele lewe lank al Saterdae. Darem nie Sondae nie, maar Saterdagwerk is nog altyd deel wav my werkskontrak en ek aanvaar dit so. Hier is dit weereens bewys: Tevrede met NIKS!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.