‘Beduidende toename’ in Covid-19-gevalle in Pretoria

(Argieffoto: Riaan Cronje)

Daar is ʼn beduidende toename in die aantal aktiewe Covid-19-gevalle in die Tshwane-metro.

Volgens Sakkie du Plooy, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, het die Tshwane-metro tans een van die hoogste Covid-19-voorkomssyfers met 283 aktiewe gevalle per 100 000 inwoners.

Teen Maandag was die aantal aktiewe Covid-19-gevalle in die metro 11 099 teenoor die 7 230 aktiewe gevalle die vorige Maandag. Dit is ʼn toename van 3 869 gevalle die afgelope week.

Oor die afgelope vyf dae is daar daagliks gemiddeld 740 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld.

Du Plooy het gesê daar is veral kommer oor Streek 1 (Soshanguve, Mabopane, Ga-Rankuwa en Akasia) wat die meeste gevalle het, asook Streek 3 (die middestad, Pretoria-Wes, Atteridgeville, die Moot en Menlopark) en Streek 6 (Pretoria-Oos en Mamelodi) wat ook erg geraak word.

“Hierdie getalle kan toeneem namate inwoners van ander provinsies en buurlande terugkeer ná die feesseisoen.

“Ons sal voortgaan om die getal gevalle te monitor soos dit aan die lig kom en ons gesondheidsreaksie daarvolgens aanpas. Dit is van kritieke belang dat ons ʼn situasie voorkom waar gesondheidsdienste in die stad oorweldig word.”

Du Plooy het inwoners versoek om aan Covid-19-regulasies te voldoen deur ʼn veilige afstand van mekaar te handhaaf, ʼn masker te dra, gereeld hande te was en te ontsmet en om plekke waar groot groepe mense bymekaarkom te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.