‘Beëindig grendeltyd’, verklaar mediese kundiges wêreldwyd  

(Foto: Twitter)

Epidemioloë en openbare gesondheidspesialiste oor die wêreld heen het in ʼn gesamentlike verklaring ʼn beroep gedoen dat alle grendelmaatreëls reg oor die wêreld opgehef moet word. In die verklaring, genaamd die Great Barrington Declaration, spreek mediese kundiges hul ernstige kommer uit oor die negatiewe fisieke en sielkundige uitwerking van die voortgesette Covid-19-beleide.

Panda (Pandemic Data and Analytics), die plaaslike multidissiplinêre beleidsinisiatief, het onlangs ʼn wetenskaplike adviesraad van mediese kundiges gestig, waarin al drie die kundiges wat dié verklaring uitgereik het, dien. Dit maak Panda die mees gesaghebbende teengrendelorganisasie in die wêreld.

Die adviesraad en outeurs van die verklaring bestaan uit die kundiges prof. Martin Kulldorff van die Harvard-universiteit, prof. Sunetra Gupta van die Oxford-universiteit en prof. Jay Bhattacharya van die Stanford-universiteit. ʼn Verdere 4 229 mediese en openbare gesondheidswetenskaplikes, 7 664 mediese praktisyns en 107 985 mense uit die algemene publiek van oor die hele wêreld het die verklaring onderteken.

Die Great Barrington Declaration beveel aan dat ʼn beleid van gefokusde beskerming die huidige drakoniese grendelmaatreëls vervang.

“Die huidige grendelbeleide het ʼn verwoestende uitwerking op korttermyn- en langtermyn- openbare gesondheid. Die gevolge, om ʼn paar te noem, sluit in ʼn laer kinderinentingskoers, verergerende kardiovaskulêre siektes, minder kankertoetsings en verswakkende sielkundige gesondheid – wat tot ʼn hoër mortaliteitskoers in komende jare sal lei, met die werkersklas en jonger gemeenskapslede wat die swaarste las gaan dra. Om kinders van skool te weerhou is ʼn groot onreg,” lui die verklaring.

Dit sê voorts dat dit onherstelbare skade gaan berokken indien hierdie maatreëls voortgesit word totdat ʼn entstof beskikbaar is, met die minderbevoorregtes wat disproporsionele skade gaan ly.

Navorsing toon dat die sterftekoers meer as ʼn duisend keer hoër onder ouer en swakker mense as jongmense is. Vir kinders hou Covid-19 minder gevaar in as talle ander siektes, insluitend die algemene griep. Namate bevolkings se immuniteit toeneem, daal die risiko van infeksie onder alle groepe, ook die verswaktes.

“Ons weet dat alle bevolkings eindelik tropimmuniteit sal ontwikkel, daardie punt wanneer die nuwe infeksiekoers stabiel is, en dat dit deur ʼn entstof aangehelp kan word. Ons doel moet dus wees om die sterftesyfer en gevaar vir die gemeenskap tot die minimum te beperk totdat ons tropimmuniteit bereik,” verklaar die kundiges.

Die gefokusde beskermingsbenadering is die mees deernisvolle benadering wat die risiko’s en voordele van tropimmuniteit balanseer. Dit behels om diegene wat minimale sterfterisiko loop, toe te laat om hul normale lewens te hervat, om sodoende immuniteit teen die virus op te bou deur natuurlike infeksie, terwyl die hoërisikogevalle beter beskerm kan word.

Maatreëls om die kwesbares te beskerm behoort die kerndoelwit van openbare gesondheidsreaksies tot Covid-19 te wees, glo die kundiges. Afgetredenes behoort byvoorbeeld hul kruideniersware tuis te laat aflewer en hul familielede eerder in die buitelug as binnenshuis te ontmoet. Minder kwesbare mense behoort eenvoudige higiënemaatreëls as deel van hul alledaagse lewe toe te pas om die tropimmuniteitsdrempel te verlaag, soos om hande te was en tuis te bly wanneer hulle siek voel.

Ten einde die minderheid kwesbares te red, moet die laerisiko-massas hul lewens kan voortsit om sodoende enersyds die welvaart te skep wat ons gesondheidstelsel onderhou, en andersyds die immuniteit te kweek wat die virus sal laat kwyn voordat dit die kwesbares aanval, beaam Nick Hudson van Panda.

Panda het van die begin af verskeie variasies van die gefokusde beskermingsmodel voorgestel. “Terwyl die bewyse dit duidelik maak dat grendelmaatreëls en ander nie-farmaseutiese ingrypings geen voordeel inhou nie, het ons nou te kampe met die realiteit van verwoeste lewensmiddele, ontrafelende gemeenskapsbande, sielkundige skade en verwoestende gesondheidsgevolge. Die ‘nuwe normaal’ bedreig nou groot groepe mense met ʼn onsekere en onvolhoubare toekoms,” sê Hudson.

Piet le Roux, koördineerder van die Business for Ending Lockdown-veldtog (B4EL) en uitvoerende hoof van Sakeliga, voeg by dat die verklaring baie gewig dra, gegewe die statuur van sy opstellers en diegene wat dit onderteken het.

Hy verduidelik dat die gefokusde beskermingstrategie in Suid-Afrika sal behels om die grendelmaatreëls op te hef, die noodtoestand te lig en alle verpligte regulasies na vrywillige aanbevelings te verander.

B4EL, wat meer as 50 000 plaaslike sakeondernemings verteenwoordig, doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering om die gefokusde beskermingstrategie te volg in plaas van die huidige Covid-19-grendelstrategie. Die organisasie moedig ook mediese praktisyns, akademici en alle belangegroepe aan om die verklaring te onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

agnes ·

Ek stem saam, sluit al die COVID inperkings af en laat die virus hom self uitroei. Daar gaan meer mense dood aan die slegte ekonomie as aan die virus. Ook weg met die maskers wat tot voordeel gebruik word deur die skelms en rowers. Maskers is in elk geval waardeloos, enige dokter sal dit bevestig.

Trotse Boervrou ·

Ek stem ook 100% saam maar dink jul die Regering gee enigsins om?

Pieter ·

Gister nog ‘n lang stuk rakende Covid-19 geskryf, maar Maroela Media besluit julle mag nie die ander storie insake die Covid-19 oorlog hoor nie. Inperking se doel, tesame met die hele Covid-19 gedoente, is om jou vryhede te ontneem en ander duistere bymotiewe. Covid-19, klimaatsverandering, plastiek in die oseaan is almal deel van ‘n verandering in globale bestuur soos in Davos uiteengesit.

Trotse Boervrou ·

Mense is oningelig Pieter. Hier skuil ‘n lang storie agter die storie.

Dirk Mostert ·

Bly om te sien nog iemand se oe is oop. Jy is seker ook ‘n gekwalifiseerde wetenskaplike soos ek.

Jacobus ·

Goed gebalanseerde wat gebaseer is op baie goeie navorsing. Ongelukkig sienings wat van byna dag een af gehuldig is deur meeste denkende mense (sluit die waarskuwings in vir mense wat kwesbaar is). Ons magsbehep kaders kon nie die versoeking weerstaan om ongevraagde en oorbodige knel aksies te steun nie. Ten spyte van tonne waarskuwings is die ekonomie feitlik vernietig en ‘n heie massa kaders, en vriende van kaders, is onregmatig is nou skatryk. Mr Ramaphosa dis skandalig – mens omring jou deur werklike kundiges, nie deur persone wat jou vertel net wat jy wil hoor nie.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja nee. Die probleem is dat die Wêrelgesondheidsorganisasie het hul monde verbrand met COVID-19. Tog dis gedoen vir ‘n rede: die tyd van die Antichris is op hande en die grendeltyd is die voorbereiding vir die tyd van Openbaring.

Jan ·

Baie, baie dankie Maroelamedia. Uiteindelik is daar ‘n mediahuis wat iets bydra om ‘n wêreld wat van sy sinne beroof is weer op koers te kry.

Dirk Mostert ·

As sewentiger maak ek heftig beswaar om op grond van ouderdom geteiken te word. Beeindig grendeling, PUNT. Griep en verkoue word veroorsaak deur coronavirusse. Dis presies wat die TOETS optel. Vorige jare se griepseisoene het netsoveel sterftes en infeksies opgelewer. Dit is net nie vir propaganda misbruik soos tans nie. Die tweede golf korreleer met die winter in die noordelike halfrond.

Vriendelike Frikkie ·

Sal graag wil sien oor 10, 20 of 30 jaar van nou af as daar oor die geweldige skade wat die tweede golf gebring het, nog so geredeneer gaan word. Die tweede golf is ‘n werkliheid. Kyk Spanje en Frankryk se statistieke. Leer uit die lesse van die verlede. In 1918 was dit die tweede golf wat die meeste sterftes gebring het. Mense het toe ook slim geword na die eerste golf.

Johan ·

Dis 100jaar later my ou…word wakker. Al gehoor van moderne medies, of probeer jy nog die virus “uit bloei”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.