Beëindiging van Telkom-kontrakte dui op impak van wetswysiging

Grafika: businesstech.co.za

Grafika: businesstech.co.za

Telkom se besluit om nie die indiensnemingskontrakte van 480 tydelike werknemers in sy inbelsentrum te hernu nie, vestig opnuut die aandag op die potensiële negatiewe uitwerking wat die Wysigingswet op Arbeidsverhoudinge op indiensneming kan hê, het die vakbond Solidariteit Vrydag gesê.

Volgens die vakbond sal die nuwe wetgewing, wat op 1 Januarie in werking getree het, veroorsaak dat minder mense enigsins werk kry en werknemers wat tydelike werk het se kontrakte ná drie maande nie hernu word nie. Die nuwe wetgewing bepaal dat werkgewers tydelike werknemers, wat langer as drie maande in hul diens is, dieselfde voordele as permanente werknemers moet bied.

Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het aangevoer die regering wil deur middel van die nuwe wetgewing werkgewers dwing om tydelike werknemers permanent aan te stel. “Die wysiging van artikel 198 het egter die teenoorgestelde uitwerking deurdat dit werkgewers ontmoedig om tydelike werknemers in diens te neem,” het Kruger gesê. “Maatskappye sal toenemend dienste uitbestee of noodgedwonge sekere aktiwiteite afskaal eerder as om tydelike werknemers in diens te neem.”

Kruger het gewaarsku dat Telkom se optrede moontlik die begin kan wees van ʼn stortvloed soortgelyke aksies deur ander werkgewers wat deur die nuwe wetgewing aangevuur is. “Solidariteit sal toesien dat geen van sy lede wat tydelik in diens van ʼn maatskappy is se kontrakte voortydig of op ʼn onreëlmatige wyse as gevolg van die nuwe wetgewing beëindig word nie,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die regering daarteen sal moet waak om wetgewing in te stel wat indiensneming kniehalter as hy ernstig is oor sy beloftes dat werkgeleenthede vir Suid-Afrikaners sal toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.