Beeldmateriaal wys vermiste skoolhoof was ‘verward’

[OPVOLG] Phillip du Plessis is Vrydagmiddag gevind. Lees die opvolgberig hier.

Foto: Facebook

Phillip du Plessis, skoolhoof van die Sandringham High School in Johannesburg, word al sedert 4 Julie vermis.

Du Plessis (55) is egter eers vroeër die week as vermis aangemeld nadat hy nie vir die nuwe kwartaal by die skool opgedaag het nie.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê die skool het ook opgemerk dat een van die skool se voertuie nie daar is nie. Die motor is by Carnival City gevind deur middel van ʼn opsporingtoestel.

Volgens Mabona wys kringtelevisiebeeldmateriaal van Carnival City hoe Du Plessis op 4 Julie omstreeks 18:40 in die skool se voertuig daar opgedaag het.

Anrie Saunders, Du Plessis se susterskind, het aan Maroela Media gesê daar het intussen nog beeldmateriaal aan die lig gekom wat wys hoe haar oom omstreeks 22:00 dieselfde aand “heeltemal verward” by Carnival City uitgestap het.

“Hy is ʼn diabeet. Op die beeldmateriaal kan ʼn mens sien sy balans is af en hy lyk nie lekker nie. ʼn Mens kan sien hy is nie bewus van wat om hom aangaan nie.”

Du Plessis het alleen gewoon, maar daar was ook geen teken van hom by sy huis nie.

Volgens Saunders probeer hulle reël dat ʼn soekgeselskap Saterdag die terrein rondom Carnival City fynkam vir leidrade. Sy het gesê lede van die publiek het reeds aangebied om met die soektog te help.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Donderdag die skool besoek. Volgens Mabona het hy sy ondersteuning vir die personeel en kinders uitgespreek in dié moeilike tyd.

Die Brakpan-polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

maak sin ·

ek weet van voggies wat mens na 200 minute ook heel verward gaan laar. veral as jy n diabeet is.

Iemand ·

Moenie gemeen wees nie. Ek het n vriend wat n diabeet is. Sy suiker het erg geval nadat hy insulien gespuit het maar nie genoeg geet het nie. Mense het gedink hy is dronk. Die polisie het hom aangerand toe hul hom arresteer en hy homself verset het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.