Beer sterf ná verskuiwing uit Oekraïne

Masha die beer. (Foto: Warriors of Wildlife/ Facebook)

Die mishandelde beer waarvoor ’n Suid-Afrikaanse diereredder sy lewe gewaag en vir ’n tweede keer na die oorloggeteisterde Oekraïne gereis het om haar na ’n plek van veiligheid in Roemenië te neem, is dood.

Die Oos-Kaapse diereredder Lionel de Lange het dié hartverskeurende nuus Maandag aangekondig.

“Masha het ’n massiewe beroerte gehad waarvan sy nie herstel het nie,” het De Lange op sy organisasie Warriors of Wildlife se Facebookblad geskryf.

Masha se dood volg maar sowat twee weke nadat sy vanuit die weste van Oekraïne na ’n beerskuiling in Roemenië verskuif is.

“Ek sal nooit die glimlagte op die vlugtelingkinders en hul gesinne se gesigte vergeet soos jy hulle aandag getrek het nie. Hierdie mense het uit die oorlog in Oekraïne gevlug en net soos jy ook gewag om die grens as ’n vlugteling na Roemenië oor te steek,” skryf De Lange.

“Vir ’n paar oomblikke het dié kinders en hul gesinne die gruwels van oorlog vergeet omdat jy hulle laat glimlag het.

“Rus nou, jy verdien dit, my girl …”

Masha die beer. (Foto: Warriors of Wildlife/ Facebook)

De Lange en sy span het Masha in 2018 van ’n sirkus in Oekraïne gered waar sy in ’n klein hokkie aangehou is voor en ná optredes.

“Hoe onregverdig … Hoekom net ’n paar dae van vryheid?” het AMP Libearty, die beerskuiling in Roemenië waarheen Masha voor haar dood geskuif is, intussen op sy Facebookblad gesê.

“Jy het nog nie die bos ten volle geniet nie. Jy het nie genoeg daarvan gekry om te voel dat mense ook goed kan wees nie.

“Vir diegene wat jou liefgehad het en vir jou minstens ’n paar jaar van geluk toegewens het, is die pyn nou groot. Hardloop rustig in die ewige woud, pragtige Masha.”

Masha tydens haar verskuifing saam met haar redders waaronder Lionel de Lange (heel regs). (Foto: Warriors of Wildlife/ Facebook)

De Lange het in Februarie – enkele dae voor Rusland se inval van Oekraïne – na dié land gevlieg om Masha na Roemenië te neem. Die konflik het egter die verskuiwing gekelder en De Lange moes manalleen sy weg te midde van ’n brandstofkrisis na die Moldawië-Roemenië-grens in die suide van Oekraïne vind.

“As enigiemand in Oekraïne nou vir jou sê hulle is nie bang nie, jok hulle,” het De Lange gedurende dié tyd vanuit Oekraïne aan Maroela Media gesê.

De Lange het as deel van sy organisasie, Warriors of Wildlife, al verskeie wilde diere uit private sirkusse en private eienaarskap in Oekraïne gered.

Masha was sy 14de beer gewees om na Roemenië verskuif te word.

Masha die beer. (Foto: Warriors of Wildlife/ Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Phillip ·

Ja Piet
n dier vrek n mens gaan dood(Droogte: Hope diere vrek in Karoo | Landbou)(Honderde honde vrek in Oekraïense diereskuiling | Maroela Media)

Jacques ·

Ou diere gaan ook dood……
Maar kom ons blameer die Russe……

Phillip ·

Honderde honde vrek in Oekraïense diereskuiling | Maroela Media)(Bekende hondekos laat glo diere vrek – FiND iT)

Lollapop ·

Baie dankie Mnr de Lange, jy het Masha se hartjie vir ‘n paar dae gelukkig gemaak.

Helene ·

RIV Masha. Nou is jy vry. Dankie aan almal wat hierdie pragdier se bevryding moontlik gemaak het!!

Charl ·

Dankie Lionel, vir jou opoffering en passie vir diere, rus sag Masha.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.