Die sanggroep Beeskraal se bussie wat vroeër vandeesmaand in Waverley in Pretoria se Moot-gebied gesteel is, is moontlik verlede week gebruik om ʼn wrede rooftog uit te voer.
Charles Smidt, sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler van die groep, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn reaksiebeampte van ʼn veiligheidsmaatskappy het dit onder hul aandag gebring.
“Die man het beeldmateriaal bekom van ʼn bussie wat soos ons gesteelde een lyk. Dit was glo verlede Maandag in Mabopane [noord van Pretoria] gebruik om ʼn vragmotor wat sigarette vervoer het te beroof,” het Smidt gesê.
Volgens die beampte is twee Fidelity-veiligheidswagte tydens die rooftog in die kop geskiet.
Smidt het gesê die plakker van die groep se logo asook die voertuig se nommerplate is moontlik verwyder.
“Voor die voorval is die bussie in Eersterust gewaar. Ons het die inligting aan die polisie deurgegee, maar nog nie verder iets van hulle gehoor nie,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig die bussie was voor Neasa se kantoor in Cunninghamlaan tussen vyf ander motors geparkeer toe dit gesteel is. Al Smidt se kitare en die groep se mikrofone was in die bus.
Die bussie, ʼn swart Nissan Elgrand, het ʼn Botswana-registrasienommer, B227AXH, op gehad.
Enigiemand wat enige inligting het of die voertuig iewers gewaar, word versoek om Smidt te bel by 072 725 2592.
Daai twee bussies se roosters (grills) voor lyk nie eers nastenby dieselfde nie.
Ek stem saam kiepie iemand maak ‘n fout hier.