Beeskraal-bussie dalk in wrede rooftog gebruik

'n Foto van die bussie wat tydens die rooftog gebruik is. Dit is deur 'n aanboordkamera geneem.

‘n Foto van die bussie wat tydens die rooftog gebruik is. Dit is deur ‘n aanboordkamera geneem.

Die sanggroep Beeskraal se bussie wat vroeër vandeesmaand in Waverley in Pretoria se Moot-gebied gesteel is, is moontlik verlede week gebruik om ʼn wrede rooftog uit te voer.

Charles Smidt, sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler van die groep, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn reaksiebeampte van ʼn veiligheidsmaatskappy het dit onder hul aandag gebring.

“Die man het beeldmateriaal bekom van ʼn bussie wat soos ons gesteelde een lyk. Dit was glo verlede Maandag in Mabopane [noord van Pretoria] gebruik om ʼn vragmotor wat sigarette vervoer het te beroof,” het Smidt gesê.

Nóg beeldmateriaal van die toneel.

Nóg beeldmateriaal van die toneel.

Volgens die beampte is twee Fidelity-veiligheidswagte tydens die rooftog in die kop geskiet.

Smidt het gesê die plakker van die groep se logo asook die voertuig se nommerplate is moontlik verwyder.

“Voor die voorval is die bussie in Eersterust gewaar. Ons het die inligting aan die polisie deurgegee, maar nog nie verder iets van hulle gehoor nie,” het hy gesê.

Die voorkant van die Beeskraal-bussie wat op 6 Junie 2016 in Waverley, Pretoria, gesteel is

Die voorkant van die Beeskraal-bussie wat op 6 Junie 2016 in Waverley, Pretoria, gesteel is

Maroela Media het vroeër berig die bussie was voor Neasa se kantoor in Cunninghamlaan tussen vyf ander motors geparkeer toe dit gesteel is. Al Smidt se kitare en die groep se mikrofone was in die bus.

Die bussie, ʼn swart Nissan Elgrand, het ʼn Botswana-registrasienommer, B227AXH, op gehad.

Enigiemand wat enige inligting het of die voertuig iewers gewaar, word versoek om Smidt te bel by 072 725 2592.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kiepie ·

Daai twee bussies se roosters (grills) voor lyk nie eers nastenby dieselfde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.