ʼn Vrystaatse boer het met die hulp van die polisie kilometers ver spoor gesny nadat 70 beeste Vrydag op ʼn plaas naby Odendaalsrus gesteel is.
Die beeste was in ʼn kraal op die plaas Ontevrede, toe die boer omstreeks 06:00 gister agtergekom het die diere is gesteel, sê kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder.
Nadat ʼn saak van veediefstal by die polisie aanhangig gemaak is, het die boer en AO Coen de Beer, verbonde aan die Lejweleputswa-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, die spore sowat agt kilometer ver vanaf die misdaadtoneel gevolg en op die beeste afgekom.
Die boer het die beeste as sy diere geïdentifiseer. Altesame 64 beeste is lewend gevind, terwyl ses diere reeds geslag is.
Daar was niemand by die beeste nie en die polisie het ʼn soektog na die veediewe van stapel gestuur.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Sulke vuilgoed. Hoop die diewe word gevang en swaar gestraf.
Hierdie diewe wat onwettige mynwerkers van kos voorsien, is net so n siek spul en dis moeilik om nie hatig teenoor hulle te voel nie. Ek wonder of stedelinge regtig weet onder watter druk en spanning, sonder staatsondersteuning, mense vandag boer.