Befondsing van Zuma se dogter se tv-reeks bevraagteken

Gugulethu Zuma. Foto: Twitter

Gugulethu Zuma. Foto: Twitter

Opposisiepartye in KwaZulu-Natal het Donderdag die R5 miljoen munisipale befondsing van die SAUK televisiedrama, Uzalo, waarvan pres. Jacob Zuma se dogter een van die vervaardigers is, bevraagteken.

ANC-lede in die provinsiale wetgewer het egter die eThekwini Metro munisipaliteit verdedig en gesê die televisiereeks het baie gedoen om Durban se beeld te poets.

Vrae oor die reeks, waarvan Gugulethu Zuma een van die uitvoerende vervaardigers is, is gevra tydens ʼn debat oor die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme se begroting. Die begroting is deur die LUR, Mike Mabuyakhulu, voorgelê.

Happy Khuzwayo van die National Freedom Party het gesê die party is bekommerd omdat die KwaZulu-Natalse Filmkommissie, wat deur die departement befonds word, nie genoeg geld kry om ontluikende talent in die bedryf te ondersteun nie. “Ons is ook bekommerd omdat die regering befondsingsgeleenthede toeken aan mense wat reeds gevestigde politieke verbintenisse in die ANC het,” het Khuzwayo gesê.

“ʼn Goeie voorbeeld is die finansiële ondersteuning wat aan Uzalo gegee word, wat deur pres. Zuma se dogter vervaardig word. Die ANC-geleide eThekwini munisipaliteit het R5 miljoen vir hierdie drama gegee.”

Die ANC se Sibonisa Duma het teruggekap en gesê Gugu Zuma het voordeel getrek uit ʼn projek om ongelykhede van die verlede reg te stel en sy kan nie uitgesluit word net omdat sy die president se dogter is nie. “Julle mag dalk dink dit is verkeerd dat Gugu Zuma ondersteun word weens haar van, maar julle moet dieper kyk. Sy is op Nkandla gebore. Sy is deel van ʼn plattelandse gemeenskap en is ʼn individu op haar eie.”

Mabuyakhulu het Khuzwayo beskuldig hy kyk nie na die voordele om die televisiereeks te ondersteun nie, wat insluit om Durban en KwaZulu-Natal se beeld vir rolprentdoeleindes te poets.

Uzalo is vir die eerste keer in Februarie 2015 in KwaMashu verfilm en die eerste episode het ongeveer vyf miljoen kykers gelok. Die ander twee vervaardigers is Duma ka Ndlovu en Pepsi Pokane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Wens ekt toegang to Zuma se wel uitgebreide stamboom(e). Want lyk my die meester van misbruik van mag en mense leef n welbeplande strategie van óf direk rangtrek óf n swetterjoel nasate en vêrsate te hê wat gryp en vergryp. En as sie sate…ma of ver opraak…wel dan Guptaliseer hy bloot sy vergrepe.

Jan maak n Plan ·

Glo my sys nie die enigte Zuma wat die sous trein ry nie.

Andrea van Vuren ·

Gaan kyk na die 7de Laan gemors. Bernard se minnares is waarskynlik ook deur ons belastingbetalers befonds! 7de Laan binnekort op die ashoop. Rommelstatus!

Jef ·

5 miljoen rand bevondsing vir n drama,as sy oor haar skouer sou kyk dan kan sy sien in watse drama SA beland het danksy haar pa.

Mariaan ·

En Zuma het nou weer hoeveel kinders? So ry elkeen van die spul en hulle aanhangsels die soustrein en plunder die land.

Riaan S ·

” Sy is op Nkandla gebore en so deel van die plattelandse gemeenskap” Asb se vir my hoe dit werk? Dit moet seker so erg wees om in Nkandla te bly en dis op die platteland so ons moet haar jammer kry en befonds. Ek is so moeg vir die korupte spul ek kan naar word. En dit terwyl daar soveel Suid Afrikaners is wat swaarkry en soveel BOERE is wat VERMOOR word!

GES ·

Sy het vroeg begin. Sy reken seker op ‘n lang loopbaan van korrupsie en omkopery.

Johann Marx ·

sjoe, mense se geheues is kort? Ou Alan Boesak het ook die geldjie wat Dan Church aangestuur het om die armes te help gevat en vir sy wit vroutjie Elna Botha/Fluxman/Boesak ‘n TV ateljee gebou….waarvoor sy boekhouer toe die houe gevat het… Die regering en sy trawante steel so baie want daar is so baie om te steel. Hoe gouer daai koekieblik leeg raak en leeg gehou word, hoe gouer sal daar nie meer kommissies van ondersoek nodig wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.