Begeleiding vir toerbusse in Noordwes ná aanvalle

(Foto: Love South Africa/Facebook)

Ingrypende maatreëls is ingestel om aanvalle op toeristebusse in Noordwes, veral op pad na Sun City, te stuit. Dit sluit in die begeleiding van busse te midde van minstens drie gewelddadige aanvalle op besoekers in die gebied.

Lebo Diale, waarnemende hoof van die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake, bewaring en toerisme in Noordwes, sê die toerismeseisoen is op sy kruin en daar was geen tyd om te mors om stappe te doen nie.

“Ons het met sleutel- plaaslike en nasionale belanghebbendes vergader wat insluit toerisme-organisasies, die polisie, private veiligheidsinstellings, toerismeoperateurs en plaaslike gemeenskappe om dringend planne te beraam,” sê Diale.

Een van die ingrypings is die ontplooiing van 35 voertuie op die N4, die R556 en verskeie ander besige provinsiale roetes. Die voertuie sal toerbusse begelei en ʼn sigbare veiligheidsteenwoordigheid op die paaie handhaaf.

Groot toeroperateurs, veral dié wat internasionale toeriste rondry, sal voortaan gevra word om die N4 as vertrekpunt te gebruik, van waar hulle begeleiding na hul onderskeie bestemmings sal ontvang.

Die veiligheidspatrollies het reeds verlede naweek afgeskop en word gesteun deur ʼn toegewyde datainsamelingsagentskap wat inligting aan die polisie verskaf oor die beweging van die toerbusse.

Brett Hoppe, algemene bestuurder van Sun City, het die toerismebedryf by die vergadering met Diale verteenwoordig. Die oord het vier studente uit die toerismegasvryheidsbedryf aangestel om ʼn spesiale datainsamelingsentrum te beman. Die studente sal inligting van plaaslike en nasionale toeroperateurs byhou oor die beweging van busse – en veral dié met buitelanders.

ʼn Sentrale e-pos-adres en toegewyde WhatsApp-nommer is opgestel om inligting te ontvang. Dit word weer met die polisie en ander betrokke partye gedeel. Die datainsamelingsagentskap sal op sy beurt daagliks verslae aan die polisie lewer.

“Dit was kritiek noodsaaklik dat die regering, wetstoepassingsowerhede en die private sektor saamwerk om met oplossings vorendag te kom. As die regering het ons nie genoeg hulpbronne om die probleem op ons eie op te los nie, maar ons het die kennis en die bande om die private sektor te help. Deur ʼn vennootskap te vorm en as ʼn span saam te werk, kon ons die plan blitsig in werking stel,” sê Diale.

Boewe kom glo uit Gauteng

Sun City (Foto verskaf deur Sun International)

In hierdie stadium word daar gefokus op alle roetes wat na Noordwes lei, maar veral op die N4 en R566 wat die toegangspaaie na talle wildreservate en oorde is.

“Hierdie hoë vlak van georganiseerde misdaad is nie algemeen in [Noordwes] nie. Ons het rede om te glo dat misdadigers uit Gauteng die busse na Noordwes volg terwyl hulle glo hulle kan straffeloos hier toeslaan.

“Ons gaan dit nie in ons provinsie duld nie,” sê Diale.

Daar word egter nie net gekyk na misdaad wat op toerbusse gerig is nie, maar na alle voorvalle omdat dit toerisme en gevolglik werkskepping raak.

Hoppe sê Sun City is net een van verskeie geraakte belanghebbendes in die Bojanala-streek wat op toerisme vir ʼn inkomste staatmaak.

“Ons moes betyds ingryp en ek dink die LUR se kantoor, die departementshoof en die hoofdirekteur het absolute prioriteit aan die kwessie gegee. Die provinsiale polisiekommissaris was nou betrokke by die plan en die verskillende inisiatiewe,” sê hy.

Hoppe sê ook die vinnige reaksie van alle betrokkenes bewys wat ʼn vennootskap tussen die regering en die private sektor kan bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Die land onder die ANC het rerig ‘n Mafia staat geword! In die ou Rhodesia het die terreur oorlog naderhand soe sleg geword dat daar militêre konvooie vanaf Fort Victoria(Musivingo) en Bulaways na Beit Brug en anders om was. Jy kon kies of jy dit vou waag, of met die konvooi aankarring. Ons het dit ‘n paar keer gewaag sonder konvooi maar dan trap jy daai lepel diep. Lyk my een van die dae in SA sal alle paaie moet militêre konvooie moet he.

Jan Jacobs ·

Een of ander kader, gaan n geldtjie maak met die begeleiding. Sit die polisie se taktiese taakspan met siviele klere in n bus dan is die probleem opgelos.

Lettie ·

Nou, na baie jare van veilige paaie, is dit nodig om toeriste op paaie veilig te hou. Laat my kop in skaamte sak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Watter buitelandse toeris wil sy/haar swaarverdiende geld hier kom spandeer onder sulke omstandighede?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.