‘Begin van die einde vir Afrikaans op die Puk’

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die eensydige besluit dat eerstejaarsklasse op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus vanaf volgende jaar deur middel van parallelmediumonderrig aangebied sal word, sal die begin van die einde vir Afrikaans op dié kampus beteken. Sό het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Vrydag gereageer op ʼn amptelike mediaverklaring deur die universiteitsraad se institusionele bestuur rondom die hersiening van die Puk se taalpraktyk.

Luidens die verklaring het die uitvoerende komitee van die NWU-Raad gister besluite onderskryf wat Woensdag 28 Oktober deur die universiteit se bestuur geneem is. Daar is besluit dat parallelmediumklasse vanaf die begin van 2016 in groot eerstejaarmodules op die Potchefstroomkampus van die NWU geïmplementeer sal word. Geen tolkdienste sal in hierdie klasse verskaf word nie.

“Vir die daaropvolgende jare sal hierdie instelling ook geld vir tweedejaarklasse vanaf 2017 en derdejaarklasse vanaf 2018,” het die bestuur in ʼn verklaring gesê. “Dit word gedoen in ooreenstemming met die bestaande taalpraktyk en die behoefte om ʼn meer inklusiewe taalbeleid op die Potchefstroom-kampus te bewerkstellig.” Die uitvoerende komitee het dit benadruk dat Afrikaans nie bedreig word as ʼn taal van onderrig deur hierdie besluit nie.

Buys het egter gesê die besluit is nie deur die universiteitsraad bespreek nie en is sonder die nodige mandaat van die universiteitsraad geneem.

“Die universiteit se institusionele bestuur is nie by magte om enige besluite rondom veranderings aan die universiteit se taalpraktyk te neem nie,” het Buys bygevoeg. “Die aanbied van parallelmediumklasse by die Puk sal bloot ʼn tydelike oorgangsmaatreël wees om Afrikaans uiteindelik as onderrigtaal uit te faseer. Dit is reeds die geval by talle ander universiteite wat ʼn parallelmedium-taalpraktyk aangeneem het.”

Buys meen voorts die besluit is ʼn drastiese afwyking van die universiteit se bestaande taalpraktyk. “Daar is geen behoeftepeiling onder studente, dosente en personeel onderneem om te bepaal of hulle hierdie verandering steun nie. Die uitvoerbaarheid van parallelmediumklasse op die Puk is boonop nie deur die universiteit getoets nie. Daar is dus nie vasgestel of die universiteit oor die nodige infrastruktuur beskik om parallelmediumklasse aan te bied nie. Die model is boonop nie getoets nie.”

Volgens hom sal parallelmediumklasse boonop weens die dubbele aanbieding van klasse onnodige bykomende uitgawes vir die universiteit sal inhou, terwyl dosente se werkslas sal verdubbel en die universiteit se navorsingsuitsette sal afneem.

“Ek sal kragtens my posisie as universiteitsraadslid die kwessie rondom die hersiening van die universiteit se taalpraktyk met die res van die raad en raadsvoorsitter opneem. Hierdie besluit mag eenvoudig nie onbetwis deurgevoer word nie aangesien dit enorme gevolge vir die universiteit en studente inhou. Ons ervaring by ander universiteite, wat dieselfde praktyk volg, is dat sodra ʼn taalgemeenskap se taal uitgefaseer word, die bepaalde groep ook uiteindelik uitgefaseer word,” het Buys gesê.

Die uitvoerende komitee het ook gesê ʼn aggressiewe inisiatief om swart akademici aan te stel en te behou duur voort. “Vir die Potchefstroom-kampus beteken dit, inter alia, dat geen akademikus wat waarde kan toevoeg tot ons akademiese doelwit, as minder verkieslik beskou sal word omdat die persoon nie in Afrikaans kan doseer nie.”

Die uitvoerende komitee het ook in die verklaring bygevoeg dat die kwessie rondom Totius se standbeeld en ander simbole dwarsoor die universiteit dringend bespreek moet word. “Dié saak moet teen 28 Februarie 2016 afgehandel wees,” aldus die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Gideon Wentink ·

As werknemer van die NWU op die Potchefstroomkampus was die verklaring wat deur die Raad onder voorsitterskap van adv. Johan Kruger uitgestuur is uiters onrusbarend. Daar word eensydig aandag gegee aan ’n klein minderheid op die PUK ter wille van “transformasie”.

Afrikaner- en Afrikaanse studente word geheel en al geminag en ek kan nie help om hulpeloos toe te kyk hoe hierdie eens trotse instelling ten gronde gedryf word deur ’n spul rampokkers nie.

Voorwaarts Akademia!

Sara ·

Ons het geen sê nie, net dit wat hulle sê is belangrik! Daar was een uniwesiteit vir ons kinders en nou nie meer nie! Hulle moet mos alles wat afrikaans is uitwerk! Ons kinders moet ook begin betoog!

Gideon Wentink ·

Wat my nog verder tot kommer stem, en wat nie in die berig vermeld word nie, is die volgende paragraaf soos in die persverklaring vervat:

“Verder sal ‘n aggressiewe inisiatief om swart akademici te werf en behou, voortgesit word. Vir die Potchefstroomkampus sal dit onder andere beteken dat geen akademikus wat waarde tot ons akademiese missie kan toevoeg, minder verkieslik sal wees omdat hy/sy nie lesings in Afrikaans kan aanbied nie. In sulke gevalle sal tolkdienste vir Afrikaanssprekende studente beskikbaar wees.”

Dit bevestig dat die raad van die Universiteit nie ’n snars omgee vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal nie, ongeag wat hulle sê.

Vra gerus indien ek die hele verklaring hier moet plaas.

Sune van Heerden ·

Dagsê Gideon

Dankie vir jou boodskap. Die paragraaf wat jy aanhaal verskyn tog byna woordeliks in hierdie bostaande berig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Gideon Wentink ·

Dag Suné. Jammer daaroor. Ek het dit dan waarskynlik aanvanklik oorgeslaan.

Disselboom ·

Gideon haal ‘n belangrike saak aan waar “demografie” die akademiese meriete oorheers. Die Doppers het ten minste so oulike naam daarvoor as hulle swart professore vir die Teologiese Skool beroep (en die kerkorde, roeping en alles moet plek maak vir die demografie) deur dit “kapasiteitsbouposte” te noem.

Dis is ook nogal ‘n vraag waar die drie Dopper-predikante wat op die Potchefstroomkampus se bestuur dien: Prof. RS (Rantoa) Letšosa (Viserektor Onderrig-leer); Prof Fika Janse van Rensburg (Waarnemende Viserektor: Navorsing en Beplanning) en Prof Rikus Fick
(Dekaan: Studentesake) oor die afbreek van Afrikaans op die PUK staan. Nog nie agtergekom dat hulle iets gesê het nie.

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Rampokkers? Na wie verwys jy, Gideon?

PauldB ·

Dis die einde van Afrikaans by die instelling. My kinders is in eerste jaar en mag dalk nog in Afrikaans klaar studeer, dans die plek se dae ook getel….Ai tog, kan die ruggraatlose sogenaamde lyers nie verstaan dat as daar nie rug styf gemaak word, ons binnekort nie meer enige plek in Sa sal hê waar ons net onsself kan wees en ons kultuur en taal besig nie?!

Rynhardt ·

Afrikaners moet stelselmatig hulle eie skole en universiteite begin bou.Sodoende kan ons nense hul kultuur en tradisies uitleef!Die massas kan ou geboue kry en hul durf nie kla wanneer alles daar induie stort nie,want hulle en hul leiers is daarvoor verantwooedelik!

Rikus ·

Rynhardt dit is juis die universiteite en skole wat Afrikaners gebou het wat hulle net instap, oor vat en verwoes. Die kulture en plekke op die PUK is vernoem na mense wat as’tware ‘n bydra gelewer het tot die instansie en die akademiese vooruitgang van die PUK. Nou kom hulle en hervernoem alles na mense wat heel waarskynlik nog nooit eers ‘n voet in Potchefstroom gesit het nie! . . . Die dag as die volk-en-nasie begin om hul eie goed te bou en te sorg vir hul eie vooruitgang (Waarvoor hulle al 12 jaar gehad het), DAN sal daar weer hoop wees vir ons land!

Renier Boshoff ·

Rynhardt. Ons doen dit al vir 21 jaar lank. Die CVO skole bedryf al so lank n suksesvolle skolestelsel wat uitstyg bo die gewone en onlangs by n internasional akrediteringsinstansie internasionale akreditasie verwerf het. Ek staan egter verstom hoe Afrikaners die een ding kan sê en die ander doen. Dit is maklik om te sê: “ons moet” maar ons is tog so bang om eng of konserwatief genoem te word dat ons maar tog ons tyd en geld stoot na organiesasies welwetend dat die ANC sit en wag vir die geleentheid om ons handewerk oor te neem. Ek daag jou en ander uit om nie net te praat nie maar te doen. Kom besoek n CVO skool en kom kyk wat daar gebeur.

Disselboom ·

Renier, waar op die BCVO se webblad is daar meer inligting oor die buitelandse akkreditasie? Dit klink en wil graag die konteks verstaan.

Jan maak n Plan ·

Wanneer sal Akidemia klaar gebou wees en waar kan ons ons studente kinders inskryf??????

Susan Lombaard ·

Dagsê Jan. Akademia funksioneer reeds en bied verskeie graad- en ander kwalifikasies aan. Hulle trek tans in hul nuwe kampus in Centurion in, maar het studiesentrums oraloor die land. Besoek gerus http://www.akademia.ac.za vir meer inligting. Groetnis, Maroela Media

Susan Lombaard ·

Dagsê Jan. Akademia funksioneer reeds en bied verskeie graad- en ander kwalifikasies aan. Hulle trek tans in hul nuwe kampus in Centurion in, maar het studiesentrums oraloor die land. Besoek gerus http://www.akademia.ac.za vir meer inligting. Groetnis, Maroela Media

Jan maak n Plan ·

Ek deboel 2018 ( n man kan in elk geval nie tik nie)

David ·

Die besluit is ‘n absolute tragedie! Ons grondwet erken verskeidenheid, taal en kultuur verskille. Die leuse onder aan die huidige landswapen is Eenheid in verskeidenheid. In Engels “Diverse People Unite”. Hoe kan enige rasionele, intelligente mens wat veronderstel is om die beste belange van die hele land en al sy mense binne die huidige grondwetlike raamwerk besluit om Afrikaans te marginaliseer. ‘n Besluit wat indien dit nie omgedraai word nie sal lei tot die verdwyning, van Afrikaans, as akademiese taal op die kampus.

Een kyk na die Suid-Afrikaanse landskap maak dit duidelik dat die regering teen die gees van die grondwet werk. Rasgebaseerde wetgewing bepaal nou hoe jy aan die ekonomie mag deelneem. Spesifiek Afrikaans word geteiken, en daar word gepoog om dit totaal op Laerskool, Hoërskool en op Universiteit te marginaliseer. Die baie goed gedokumenteerde problematiek met plaasaanvalle en plaasmoorde en die onwilligheid en onvermoë om dit te veroordeel en te bekamp spreek boekdele. Kyk maar wat gebeur met die Afrikaanse simbole en monumente. Ek kan verstaan dat daar meer en meer mense is wat glo dat die regerende party met haat teenoor sy burgers regeer.

Die “sosiale” kontrak is onder druk. ‘n Afrikaanse burger is geregtig op behoorlike spandering van belasting geld. Dit sluit in dat daar van die belasting geld gespandeer moet word aan dit wat vir die Afrikaanse burgers van die land belangrik is. Mnr. die Minister jy sal my kinders subsidieer om in Afrikaans skool en universiteit toe te gaan. Of jy dit nou doen by Potch of by Academia, jy sal want jy werk vir die burgers van die land en ek is een van hulle.

AmY ·

Beteken dit dat ons nou maar weer ons eie Universiteite mag begin? Of mag ons nie?

Disselboom ·

Ons mag en moet soveel doen aan opleiding as waartoe ons die wil, die moed, die deursettingsvermoë en veral die bekwaamheid voor het; maar ons het in ons gemoed dienstig geraak aan “die staat”. Slawe van “die staat” geword.

Volgens die huidige kommunistiese wetgewing moet jy by die staat registrasie kry en elke kursus akkrediteer. So is die tragiese toestand tans dat selfs ons predikantsopleiding aan staatstoestemming onderhewig is, en is ons aan die slaap oor die verhouding kerk en staat waarvoor baie bloed gevloei het in eeue vantevore om dit reggestel te kry. Ons is nie baie ver daarvandaan dat die staat besluit oor wie predikant mag wees en wie nie – soos die situasie alreeds is dat Suid-Afrikaanse predikante wat in Namibië dien, ‘n werkspermit moet hê. Hou maar dop dat predikante nog hulle werk belet gaan word as hulle weier om homoseksuele opsetlikes te trou omdat dit die afgod, Menseregte, oneer aandoen om sulke verbintenisse te weier.

Terug na die punt: wie is die staat om te bepaal wie mag vir wie iets leer? Ons het nie agtergekom hoe ons burgerlike vryheid die afgelope eeu of wat geleidelik opgesuig is nie. Die staat kan wette maak soos dat jy nie iemand mag bedrieg deur iets te belowe wat jy nie lewer nie, maar vir die staat om te sê hy keur die leerplan goed, is verregaande; maar noodsaaklik uit hulle hoek gesien om die sosialistiese programmering deur te voer, ongeag watter skade dit aan die akademie doen.

Maar nou ja, tans is so 99% van die Afrikanerbevolking se kinders in staatskole in die staatsprogram en word deur die staat geprogrammeer, sodat dit as normaal aanvaar word dat jy nie sonder die staat se goedkeuring, inmenging en voorskrifte ‘n universiteit mag oprig nie,

Flippie ·

Pukke dit is nou julle tyd – US, PU, UV,JU se afrikaanse studente het gefaal om Afrikaans se status in stand te jou. # Feesmustfall het gewys hoe dinge gedoen moet word as jy dit graag wil hê. Daar le ‘n hele vakansie voor om die rewolusie op PUK te beplan.

Dink net die PUK kan die hele Afrikaner rewolusie aan die gang sit. Ons is reg om by julle aan te sluit om ou pokgesig, die visie kanselier en die verraaiers op die RAAD tot ander insigte te dwing.

#deathbyblade

Dup du Plessis ·

……….hartseer, maar hoe gouer PUK TLOKWE word hoe vinniger kan Akademia ‘n volwaardige PUK word. Vir jare het my familie deur PUK studeer, huidig is my en my suster se seuns in koshuise op die kampus. Dit sal egter die laastes van ons familie wees. Afrikaners moet hul positiewe insette en kapitaal wegvat van plekke wat dit nie waardeer nie. Daar is gelukkig meer as een pad na Rome, ons moet net uitvind waar om af te draai……….almal wat so bele het in woonstelle in Potchefstroom sal maar mooi moet dink oor daardie beleggings. Dinge verander darem nie oornag met so ‘n parallelmedium toepassing nie maar binne ‘n paar jaar is jy ‘n vreemdeling in ‘n plek wat vir jou bekend was. Dit was die lot van ons plaaslike Laerskool en die sekondere skool in die buurdorp. As daar vir ons Afrikaanssprekendes nie een kampus (nie eers universiteit nie) kan wees nie, moet mens die staat maar begin ondermyn deur kapitaal op elke moontlike manier van hulle te weerhou en liewers op eie projekte te spandeer.

Bruno Stef ·

Menige Afrikaner kind het in Potchefstroom skoolgegaan en studeer hetsy die tegnies/huishoud/akademiese skole en universiteits kampus.Dit was in my jare die fietsry dorp in SA en het top vakmanne/tegnikuste/ingenieurs in my beroep voortgebring wat vandag al afgetree of oorlede is.Die karakter van Potchefsroom as opleiding sentrum vir Afrikaners gaan heeltemal vernietig word en verander soos vele ander in die huidige hole wat dit vandag is.

ANDRÉ ·

Sien iemand anders enige ooreenkomste hier tussen wat op PUK gaan gebeur met die Engelse wat destyds die Ierse verbied het om Gaelic te praat? Dit is net ‘n blatante poging om die Afrikaanse taal te onderdruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.