Begrafnis gehou ná 20 in ongeluk sterf

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, tydens die begrafnis in Verena in Mpumalanga. Foto: ANA

Die begrafnis van 17 van die 20 mense wat op 21 April gesterf het nadat ʼn minibus teen ʼn vragmotor op die R25-pad buite Bronkhorstspruit gebots het, is Saterdag in Verena in Mpumalanga gehou.

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het tydens die begrafnis gesê dit is kommerwekkend dat menslike faktore die hoofoorsaak van padongelukke in Suid-Afrika is. “As regering is ons baie bekommerd oor die hoë voorkoms van motorongelukke en beserings in ons land. Dit kan vermy word indien ons padveiligheid prioritiseer en ons paaie verantwoordelik gebruik,” het Maswanganyi gesê.

“Enigiemand wat op die paaie jaag, weet hy of sy sal moontlik nie betyds kan stop indien ʼn voetganger voor die voertuig oor die pad loop nie. En enigiemand wat onder die invloed van alkohol bestuur, weet hy of sy kan enige tyd in die aankomende baan inswenk en ʼn noodlottige ongeluk veroorsaak.”

ʼn Man en 16 leerders wat tydens die tragiese ongeluk verlede maand dood is, is Saterdag onderskeidelik in Verena, Wolvenkop, Kwaggafontein en Vlaklaagte ter ruste gelê. Die ander twee leerders wat oorlede is, sal Sondag onderskeidelik in KwaZulu-Natal en Limpopo begrawe word.

Foto: ANA

Maroela Media het vroeër berig die minibus-taxi het tydens die botsing in vlamme uitgebars met van die insittendes nog binne. Die leerders was van Refano Primary School en Mahlenga Secondary School in Sokhulumi op pad na hul huise in onderskeidelik Wolvenkop en Verena in Mpumalanga.

Slegs een mens kon ná die ongeluk uitgeken word en daar moes DNS-toetse op die ander leerders gedoen word om hul identiteit vas te stel. Sewe leerders het die ongeluk oorleef.

Maswanganyi het Saterdag gesê die departement is in ʼn gevorderde stadium met sy onderhandeling met die departement van justisie om minimum vonnisse vir nalatige en roekelose bestuurders in te stel. Dit het ten doel om te verseker daar is ernstige gevolge vir diegene wat die verkeersreëls oortree.

Hy het gesê afgesien van die begrafnis, sal die families van die oorledenes ook ondersteuning van die Padongelukkefonds (POF) ontvang. Hy het ook in sy toespraak na voormalige pres. FW de Klerk gekap en beweer slegs wit mense het uit die POF voordeel getrek toe De Klerk aan bewind was.

“Ons kan nie deur FW de Klerk, wat die leier van die apartheidsregering was, voorgeskryf word hoe om ons regering te bestuur nie. Dit is belangrik dat ons mense nie deur voormalige onderdrukkers geflous word nie,” het hy gesê.

David Mabuza, premier van Mpumalanga, het aan die begrafnisgangers gesê hy het kennis geneem van mense se besware oor die toestand van die R25. Hy het belowe dat hy sal verseker dat die pad herstel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Carl Volschenk ·

Skokkend hoe politici ‘n begrafnis kaap om punte te wen, om sodoende die aandag van die werklike probleem af te lei. Die probleem is dat die taxi-bedryf ‘n multi mijard rand industrie is wat weinig tot die land se inkomste bydra, en heel waarskynlik het al die politici ‘n finger in die paai. Daar word nie teen taxi-drywers opgetree nie, en paai word nie in stand gehou nie. Nou hoe betrek hulle FW hierby? Africa intellegensie op sy beste. Ek is seker dis nie wat die ouers van daai oorlede kinders graag nou wil hoor nie. Hulle kinders is oorlede, hulle het vrede met FW. Dis nou ongevoeligheid op sy beste.

LMF ·

Hoe lank kan daar nog begrafnis gehou word oor die geval ek vra maar net

Alida ·

LMF, lyk my jy verstaan nie mooi nie! Die arme kinders het onherkenbaar verbrand. DNA moes gedoen word om die lyke te identifiseer. Jou kommentaar is onvanpas. Een gesin het 3 kinders verloor. Plaas jouself in so’n posisie. My hart bloei vir die ouers.

riv ·

ek hoop die saak is nou afgehandel. die anc moet ophou om skoliere soos pionne op n skaakbord te manipuleer om rassehaat aan te blaas. voed die mense op. niemand het die reg om enige iets af te brand uit protes nie.

Sonja ·

Tragies dat die rassekaart op ñ begrafnis gespeel word. Dit sal seker nooit ophou nie!!

Johann ·

As ou sien hoe sommige bestuurders net absoluut ry asof hulle alleen op die pad is, is ek verbaas dat die ongeluksyfer so laag is. Die strawwe vir wangedrag op ons paaie behoort te drie dubbeld

Annie ·

Minister, ‘n vriend van my was betrokke by die reëlings van hierdie begrafnis, en ek weet wat was die emosionele impak op hom. Dit is gepas om hierdie begrafnis te hou, want soveel ouers en families is in rou gedompel. Minister jy is’ n nuwe besem. Hou op om politiek te gebruik by so ‘n hartseer geleentheid. Jou doel was om hierdie hartseer ouers en families te vertroos. Jou doel was om’ n oplossing te vind. Doen jou werk met waardigheid en respek Minister en los politiek uit so ‘n geleentheid. Hou jou politieke oortuigings vir die gepaste platform. Aan al daardie ouers en families, ek is so baie hartseer saam met julle. RIV

nikki ·

sal ons dan nooit ophou om apartheid te blameer vir alles wat verkeerd loop in ons land nie?

AL ·

Hy klink soos n lakei vir Julius Malema wie Zuma se Mini-Me is.

goliat ·

mabuza maak alweer beloftes wat hy nie kan nakom nie. maar nou is, dalk het De Klerk die paaie vol gate geksp in die nag. ek wonder of mabuza die begrafnisgangers vertel het sy blouligbrigade het gister self n vietganger op due n4 doodgery. n ouman wiese taxi gebreek het. De Klerk was ook nie daar naby nie.

Michael ·

Ek stem saam met hom de klerk is die oorsaak van al die gemors waarin ons onsself bevind as hy voor die oordrag vroegtydig beplan het en bevoegde mense opgelei het sou sa vandag ‘n beter plek gewees het .

Blits ·

Michael, wat laat jou dink dat al was bevoegde mense op gelei dat hulle inelke geva in die regeering sou dien, ????? asb vergeet van di twak, ons mense word vermoor en kry die skuld vir elke klein ding al is daar geen teken van enige witmense in n miljoen myl nie, al het hulle hoe onderhandel sou daar niemand van hulle inelke geval hulle poste behou het nie.

Michael ·

Die skuld hiervoor kan voor die anc gelê word pleks dat hulle skole bou vir kinders betaal hulle taxi’s om kinders aan te ry na skole wat nog funksioneer……patetiese regering

pieter ·

Dis julle eie mense wat die ongelukke veroorsaak en so doende julle eie mense dood maak. Haal die taxis vd paaie af wat so onverskilig ry.

Frikkie ·

Ai…en vir n’ oomblik simpatiseer ek met ALLES rondom hierdie uiters hartseer gebeurtenis net om verder af myself vas te lees in rasisme, weer! Met die aanvang van die artikel het ek nogal gewonder hoe gaan wit mense aandadig gemaak word hieraan? Wel…tarraaaa!
Mag die betrokke ouers spoediglik hul vergoeding kry van die POF af (want dit is blykbaar waaroor dit mos gaan nou), en mag hulle troos vind vir hul eindelose pyn van die verlies van hul kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.