Begrafnisondernemers beplan staking

(Foto: Unsplash)

Die departement van gesondheid sê hy is bewus van die talle begrafnisondernemers wat beplan om van Maandag tot Woensdag aan ’n landwye staking deel te neem. Dit volg nadat die ondernemersbedryf se versoeke aan die regering oor die regulasies wat die bedryf beheer, op dowe ore geval het.

Een van die bedryf se versoeke is dat die uitkontraktering van lykshuisgeriewe erken en gewettig moet word. Daarby vra die bedryf ook dat munisipale bepalings gewysig moet word om voorsiening te maak vir “trosberging”.

Die regering word ook deur ondernemers daarvan beskuldig dat hy sekere begrafnisondernemings selektief vir staatsbegrafnisse aanstel.

Duisende ondernemers beoog om Maandag te begin met die staking, wat insluit die weiering om lyke te gaan haal by private en openbare gesondheidsinstellings.

Popo Maja, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê die beplande staking is vir die departement kommerwekkend aangesien hierdie aksie kan lei tot ongewenste toestande en gesondheidsrisiko’s.

Die departement het gesê hy gaan egter voort om met die ondernemers te onderhandel in ʼn poging om ʼn oplossing te bereik voordat die beplande staking begin.

Die departement het volgens Maja in Augustus en September verskeie vergaderings met die ondernemers belê ná ʼn ope brief wat die Nasionale Vereniging van Begrafnisondernemers aan die departement gerig het.

“Na aanleiding van dié brief wil die departement beklemtoon dat alle begrafnisondernemings en lykshuispersele wat gebruik word in die voorbereiding, berging en bewaring van menslike oorskot, in besit moet wees van ʼn geldige sertifikaat van bevoegdheid wat deur die betrokke plaaslike owerheid uitgereik is. Omgewingsgesondheidspraktisyns sal voortgaan om inspeksies te doen by alle persele van die begrafnisondernemings landwyd om na te gaan of die regulasies nagekom word. Regstappe sal gedoen word teen eienaars van persele wat oortree,” sê Maja.

Maja sê familielede word ook versoek om die wettigheid van die begrafnisondernemers en agente wat vir die algemene bestuur van die begrafnis van hul geliefdes gebruik word, na te gaan om te verseker die hantering van die oorskot geskied binne die wetgewing.

“Omgewingsgesondheidspraktisyns in distriks- en/of metropolitaanse munisipaliteite kan gekontak word vir hulp met betrekking tot kwessies rakende die bestuur van menslike oorskot en vir advies om die nakoming van die regulasies te verseker.”

Die departement doen ook ʼn beroep op lede van die publiek om onwettige bedrywighede aan te meld om te verseker dat die publiek beskerm kan word teen moontlike risiko’s en die verspreiding van oordraagbare siektes as gevolg van swak bestuur van menslike oorskot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre ·

As die Covid sterftes nou so mooi afneem, waarvoor is trosberging nodig? Of is statistieke moeilik om behoorlik te mislei?

Annelize ·

Nie eens in die dood is jy verlos van hierdie land se belaglikhede nie….

Oom Hennie Pennie ·

Wys jou net, geen respek selfs vir die dood nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.