Begrafnisreëlings vir ontslape minister bekend

Edna Molewa. Foto: Henk Kruger/ANA

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn amptelike begrafnis vir min. Edna Molewa verklaar.

Die interministeriële komitee oor staatsbegrafnisse, onder leiding van minister in die presidensie dr. Nkosazana Dlamini Zuma, het Maandag vergader om die begrafnisreëlings te bespreek vir Molewa, gewese minister van omgewingsake, wat Saterdag in die ouderdom van 61 dood is.

Ramaphosa het hierna ʼn amptelike begrafnis (kategorie 1) vir Molewa verklaar. Dié kategorie-begrafnisse is vir dienende ministers, die speaker van die Nasionale Vergadering, die hoofregter, voorsitter van die nasionale raad van provinsies, die premiers van die onderskeie provinsies en vir persone wat deur die president aangewys is.

Dr. Molewa het in verskeie regeringsportefeuljes gedien en onlangs die Legioen van Eer, Frankryk se hoogste toekenning, ontvang. Molewa is vereer vir haar toewyding aan Suid-Afrika, die stryd vir vryheid en demokrasie, vroueregte en die geveg teen klimaatsverandering.

ʼn Roudiens sal volgende Woensdag vir Molewa in Pretoria gehou word. Lede van die publiek sal die diens kan bywoon en meer inligting oor waar en hoe laat dit sal plaasvind, sal binnekort bekend gemaak word.

Molewa se begrafnis sal op 6 Oktober in Pretoria plaasvind en die tyd en plek sal ook later bekend gemaak word. Intussen sal daar daaglikse biddienste om 19:00 by Molewa se huis gehou word en is lede van die publiek welkom om dit by te woon.

Daar is ook ʼn boek van medelye by Molewa se huis geplaas wat die publiek kan teken. Daar sal ook van dié boeke beskikbaar gemaak word by die Uniegebou, die departement van omgewingsake se kantore in Pretoria en Kaapstad sowel as by die Sefako Makgatho Universiteit, die Vaal Universiteit van Tegnologie, SANParke se kantoor, die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut en die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantore.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

charmaine ·

Sy was ook betrokke in n geveg teen klimaatsverandering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.