Begrafnisse tydens afsondering ʼn ‘nagmerrie’

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Begrafnisse is ʼn moeilike tyd vir families omdat hulle die verlies van ʼn geliefde moet hanteer en mekaar moet vertroos. Roubeklaers moet nou die bykomende komplikasies van die afsonderingsregulasies ook hanteer en vir mense wat skielik ʼn geliefde aan die dood moes afstaan, is dié maatreëls ʼn nagmerrie.

Die huidige noodmaatreëls maak dit moeilik om begrafnis te hou soos voorheen, omdat groot groepe nie bymekaar mag kom nie.

Volgens die regulasies mag slegs 50 mense ʼn begrafnis bywoon en ook net as hulle direkte familielede of ʼn versorger van die oorledene is. Geen kerkdiens word gehou nie en selfs die predikant moet ʼn permit hê om ʼn diens by die graf of by die ondernemers te hou.

Begrafnisgangers moet steeds afstand behou en almal moet maskers dra. Verder moet daar handreinigers beskikbaar wees en almal moet onmiddellik na hulle huise terugkeer as die begrafnis afgehandel is.

ʼn Vrou van Mosselbaai, wie se man vroeër hierdie week dood is, vertel hoe sy gesukkel het om ʼn troosdiens voor sy verassing te hou.

Haar man het nie weens Covid-19 gesterf nie, maar sy moes gewaarmerkte afskrifte van sy doodsertifikaat, ID, hul kinders se geboortesertifikate en ʼn bewys van hul adres by die polisie indien om toestemming vir die troosdiens te kry. Sy moes ook ʼn amptelike dokument van drie bladsye voltooi.

Verdere voorwaardes was dat die kis met haar man se oorskot nie teenwoordig mag wees nie, dat almal maskers moes dra en slegs twee persone per motor na die plek kon ry.

“Van die inligting wat ons by die polisie gekry het, was verkeerd en op die ou end het net ek en my suster vir die troosdiens saamgekom en my man is die volgende dag veras,” sê sy.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Volgens die Suid-Afrikaanse begraafplaasvereniging (SACA) is verassing die ideaal, soos die gesondheidsowerhede aanbeveel. “Dit kan egter ʼn uitdaging wees aangesien Suid-Afrika baie min krematoriumfasiliteite het,” sê SACA in ʼn verklaring wat onlangs uitgereik is.

Paul Greyling van D&M Begrafnisdienste op Bronkhorstspruit sê tans word baie min mense begrawe; sowat 98 % van al die begrafnisse wat sy onderneming tans hanteer is verassings. “Die oorledenes se families beplan meestal om later, wanneer die inperking opgehef is, ʼn troosdiens vir hul geliefdes te hou,” sê hy.

Die oorspronklike maatreëls wat reis tussen dorpe en provinsies vir begrafnisse verbied het, is sedert die begin van die inperking aangepas. Roubeklaers kan wel reis indien hulle as naaste familie na die begrafnis genooi word en vooraf ʼn permit by ʼn polisiestasie of landdroskantoor kry. Die permit is slegs vir 48 uur geldig.

ʼn Egpaar van Graaff-Reinet in die Oos-Kaap wat gister die begrafnis van hul kleindogter in Pretoria moes bywoon, het byvoorbeeld so ʼn permit by die plaaslike landdros gekry om die reis te onderneem.

Hul predikant, dr. Ben van Tonder, van die NG Kerk op die dorp, het aan Maroela Media gesê die dood van hul kleinkind is vir die grootouers hartverskeurend, maar nou moet hulle ook minstens agt ure per motor ry om die begrafnis by te woon. “Hulle vrees ook dat hul oral in padblokkades gestop gaan word,” sê hy.

Argieffoto

ʼn 92-jarige vrou van die Wes-Rand wat onlangs aan natuurlike oorsake gesterf het, se dogter sê die inperking het haar eintlik meer tyd gegee om rustig van haar ma, wat sy jare lank versorg het, afskeid te neem. “Daar was geen haas nie, my ma is veras en as die inperking verby is sal ons haar lewe vier,” sê sy.

“Die samesyn van familie en vriende om iemand se lewe te gedenk is belangrik, maar dit kan ook later gedoen word,” sê ʼn vrou van Rustenburg wie se ouer suster onlangs op ʼn dorp in ʼn ander provinsie dood is. Sy weet nie of haar suster se liggaam reeds veras is nie, maar sê sy het vrede omdat sy haar suster gereeld besoek het voor die inperking in werking getree het.

Intussen het SACA munisipaliteite gemaan om gereed te wees om sterftes en begrafnisse weens Covid-19 te hanteer. Munisipaliteite is onder meer gevra om grond binne bestaande begraafplase te identifiseer wat voorberei moet word vir noodbegrafnisse.

Die organisasie sê munisipaliteite moet dit oorweeg om draagbare verbrandings-oonde en verkoelings-houers – wat soveel as 100 liggame kan stoor – aan te skaf om die oorskot van mense wat weens Covid-19 sterf te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fedup ·

I am no expert, but i actually think cremation is the best way to go with this virus doing it’s rounds. Just a shame that people who pass on cannot have a decent wake or funeral. Hope this problem can be solved.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.