Begroting: Belasting nié die oplossing vir vinnig ryk word, pleit Solidariteit

Enoch Godongwana (Foto: Presidensie)

Suid-Afrika kan nie deur belasting ryk word nie. Daar kan ook nie nóg meer swaarverdiende geld uit reeds oorbelaste Suid-Afrikaners getap word nie.

Só sê Solidariteit in aanloop tot Enoch Godongwana, minister van finansies, se begrotingsrede van volgende week.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die staat het nie ʼn probleem met inkomste nie, maar eerder ʼn probleem met sy uitgawes.

“Tans word omtrent ʼn kwart van alle geld in omloop in Suid-Afrika aan belasting bestee. Dit kan eenvoudig nie so aangaan nie. Minister Enoch Godongwana moet besef dat belasting nie ʼn land ryk kan maak nie. Groei is nodig en hier by ons is dit dringend nodig,” sê Du Buisson.

Du Buisson stel voor die regering verslap die wurggreep van hoë belasting op die ekonomie.

“Daarom moet die persoonlike inkomstebelastingkerwe vanjaar met meer as inflasie aangepas word. Landsburgers is onder groot finansiële druk. Hulle kan beslis nie bekostig dat hulle verhogings swaarder belas word as wat reeds die geval is nie.

“Solidariteit hoop dat gesonde verstand en goeie oordeel sal seëvier sodat die minister planne kan aankondig wat tot beter resultate vir die geld wat bestee word sal lei.

“Hoe gebeur dit dat Suid-Afrika aansienlik meer aan onderwys as meeste ander lande bestee, maar ons uitkomste is doodeenvoudig pateties? Dieselfde kan gesê word van gesondheidsorg, polisiëring en allerlei ander departemente. Die insette en die uitkomste klop nie.

“Elke jaar praat die minister oor hoe oormatige uitgawes reggeruk gaan word, maar ons sien nie dat iets gebeur nie. Die staat se salarisrekening is die beste voorbeeld daarvan. Die rekening self is nie noodwendig so ʼn groot probleem soos die feit dat die opbrengs, in terme van produktiewe uitkomste, net die daar is nie.

“Suid-Afrika het ʼn land van projekte sonder planne geword. Hoe bestee ʼn regering amper R400 miljard aan maatskaplike toelaes in ʼn jaar, sonder enige plan om daardie mense se afhanklikheid van toelaes te verbreek, en hulle aan die werk te kry?” sê Du Buisson.

Solidariteit sê hierdie vrae moet so gou moontlik beantwoord word. Die organisasie sê daar word ook daadwerklike optrede benodig om aandag te gee aan die land se probleme.

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Solidariteit stel voor

Solidariteit stel ʼn spesiale prioriteitsfonds van ongeveer R5 miljard voor, wat jaarliks toegeken word.

“As die prioriteitsfonds bloot aan die betrokke departement toegeken word, vorm dit deel van die algemene begroting van daardie departement en skep dit ʼn verwagting dat daardie geld volgende jaar weer beskikbaar sal wees. Dit is daarom belangrik dat dit apart hanteer moet word,” sê Du Buisson.

“Ons voorstel is om eerstens wet en orde te herstel deur toe te sien dat die polisie se toerusting en voertuie behoorlik aangevul word. Volgende jaar kan die vervoerkrisis die prioriteit wees, en die jaar daarna kan infrastruktuur by skole aandag geniet. Hoe verwag ons van leerders om in die moderne era te werk as die meeste skole nog in ʼn vergange era voortploeter sonder rekenaars of internettoegang?”

Du Buisson hoop ook dat die minister dringende optrede aankondig wat bevorderlik is om beleggings na Suid-Afrika te lok.

“Die Nasionale Ontwikkelingsplan stel teikens vir ekonomiese groei, byvoorbeeld dat 30% van die bruto binnelandse produk (BBP) vaste kapitaalvorming moet wees. Ons sien egter niks in die regering se beleid wat hierdie groei sal aanwakker nie.

“Ons wil daarom voorstel dat alle beleggings in infrastruktuur, geboue of masjinerie onmiddellik belastingaftrekbaar moet wees in die jaar van kapitaaluitleg. Die plaaslike staalbedryf het dringend ʼn herlewing in nuwe konstruksieprojekte nodig.

“Vir werknemers om te floreer, moet hul werkgewers ook floreer. Die tesourie moet dringende stappe neem om ʼn meer sakevriendelike beleid daar te stel. Om korporatiewe inkomstebelasting in 2023 te verlaag was ʼn stap in die regte rigting, maar dit was beslis nie genoeg nie.”

Du Buisson glo die staat se gebrek aan beplanning word weerspieël in staatskuld wat jaarliks vererger. Volgens hom is daar ook nog geen aanduiding van hoe die staat beoog om die begrotingstekort hok te slaan nie.

Solidariteit stel daarom nou voor dat regulasies verslap word om die private sektor toe te laat, en selfs aan te moedig, om die probleme by staatsondernemings op te los.

“Privatiseer van ons hawens en privatiseer ons treinspore. Laat die private sektor toe om nuwes te bou. Die land verloor miljarde rande aan voorraad wat ophoop en nie uitgevoer kan word nie. Daar is oplossings beskikbaar, maar dan moet die minister gehoor gee.”

(Argieffoto: Transnet)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wondermaarnet ·

Verhoog BTW na 16%. en los die verhoging van inkomstebelasting. Dit is al hoe almal gaan bydra tot die staat se inkomste.

Nicholaas ·

Niks sal klop solank die anc aan bewind is, hul sakke het masiewe gate in.

anna2023 ·

@ Wondermaarnet – Nee, ‘n verhoging in BTW gaan net die algemene persoon se las nog groter maak om te oorleef en maar net ekstra geld aan die regering gee om hulle korrupte bedrywe voort te sit en te befonds, Dis sso die artikel noem – hulle moet eerder kyk na hoe die inkomste bestee word.

Johan ·

ANC beleid is om ons to die maksimum te belas en ek haal aan: “so that there is enough money for our people”. SARS is die wapen en die belasting die ammunisie teen die minderheidsgroep van hardwerkende belastingbetalers.

Jacobus ·

Ek stem saam maak BTW hoër dan dra almal by, van die taxie eienaar tot die negeriese spasa winkel op die hoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.