Begroting dalk eers week later bekend

Tito Mboweni, minister van finansies. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, se mediumtermynbegroting sal nou eers ʼn week later bekend gemaak word – mits die parlement se programkomitee die versoek goedkeur.

Die begroting sal nou na verwagting op 28 Oktober ter tafel gelê word, pleks van ʼn week vroeër op 21 Oktober.

Die nasionale tesourie sê Mboweni het die versoek gerig gegewe die oorweging van die ingewikkelde en ongewone omstandighede wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is. Dit sluit in die aanvullende begroting wat in Junie vanjaar bekend gemaak is.

“Die departement van finansies en die nasionale tesourie moes die aanslag en beraadslaging oor die begrotingsproses aanpas,” lui ʼn verklaring van die tesourie.

Luidens die verklaring is die regering vasbeslote om ʼn verstandige fiskale standpunt in te neem wat in die beste belang van die land op medium- en lang termyn is.

Mboweni het in sy versoek aan die parlement gesê die uitwerking van die tydsraamwerke vir die afhandeling van die regering se ekonomiese herstelplan op die begrotingsproses is nog een van die redes vir die voorgestelde vertraging.

Die komitee sal die versoek nou oorweeg.

Mboweni het in Junie al gewaarsku Suid-Afrika is in die grootste ekonomiese krisis sedert die Groot Depressie. Hy het tydens die aanvullende begrotingsrede gesê die hooffokus gaan voortaan wees om staatskuld te verminder omdat die lenings wat die land moes aangaan om die hulppakkette weens Covid-19 te betaal, staatskuld beduidend gaan laat toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kosie ·

In 26 jaar kon hierdie regering nog nooit ‘n verstandige fiskale standpunt handhaaf nie. Waar gaan hulle dit nou skielik kry? Nee wat, Tito is maar net besig om te soek waar hulle die laaste paar randjies kan uitmergel van die paar mense wat nog werk het….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.