Begroting: ‘Gebruik van pensioenfonds vir Eskomskuld nie slegte idee’

Minister Tito Mboweni tydens sy toespraak by die begrotingsrede (Foto: South African Government, Twitter)

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag gesê dit is ’n blink idee om van Eskom se skuld met geld van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) te delg. Dié maatreëls behoort egter ook vir die private sektor te geld.

“Dit is nie ’n slegte idee nie, maar ons moet baie versigtig wees dat ons nie voorstel dat slegs die pensioen van werkers in die staatsdiens gebruik moet word nie. Dit moenie net oor die staatsdiens se pensioen gaan nie, maar oor alle pensioene,” het die minister voor die begrotingsrede gedurende ’n mediakonferensie gesê.

Mboweni het gesê daar moet meer insette vanaf die private sektor aan Eskom wees.

Dit volg nadat Cosatu onlangs ʼn plan voorgestel het om Eskom uit sy finansiële verknorsing te help. Dié plan behels dat die OBK R245 miljard van Eskom se skuld moet oorneem. Dit beteken dat werkers in die staatsdiens se pensioen as reddingsboei vir Eskom aangebied moet word.

Tito Mboweni lewer Woensdag sy begrotingsrede in die parlement. (Foto: Siyabulela Duda)

President Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het reeds aangedui dat hulle moontlik ten gunste van die voorstel sal wees. Mboweni het tot dusver geswyg wat dié onderwerp betref.

Die minister het gedurende vanmiddag se begrotingsrede gesê die stabilisering van Eskom om sodoende kragonderbrekings uit die weg te ruim, bly die regering se eerste prioriteit. “Die regering sal alles moontlik nodig doen om ’n stabiele elektrisiteitsvoorsiening te verseker.”

Mboweni het bevestig dat die staat oor tien jaar R230 miljard bewillig om die herstrukturering van die energiesektor te bewerkstellig en gesê huidige elektrisiteitstekorte, wat tans beurtkrag noodsaak, sal opklaar namate Eskom kritieke instandhoudingswerk voltooi het.

Daar is wel gedurende die begrotingsrede gewaarsku dat die uitwerking van kragonderbrekings en beurtkrag ’n groter uitwerking op die ekonomie in 2020 kan hê as in 2019, toe dit ’n verlies van 0,1% aan die bruto nasionale produk veroorsaak het.

Mboweni het egter verdere vrae rakende Eskom afgeweer en gesê sy kollegas in die kabinet het dit reeds volledig bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

En dis ook nie n slegte idee om op te hou belasting te betaal nie

Agter die skerms.....

Dit is vir my ‘n grap – gebruik alle pensioene, hoekom nie – mense het nie geld nodig om van te lewe nie. Ek kan nie eens dink dat so iets aan gedink word nie.

Nie Verbaas

In eenvoudige terme ANC, die staat se skuld is meer as inkomste met instansies wat geen tekens van n ware bate toon nie. Nou, hoe gaan julle slim menere die pensioen geld wat julle wil gebruik weer terug betaal saam met rente?? Almal se IK is nie ondergemiddeld nie menere.

Johann

Hoe beplan die Regering om hierdie pensioene terug te betaal? Gaan hulle nóg meer skuld maak?

Anel

En ons het ons self te kort gedoen terwyl ons gewerk het om pensioen te betaal en nog ‘n aniteit sodat ons nie hoef te sukkel tydens ons oudag nie. Nou wil hulle die bietjie wat ons het en waarvoor ons hard gewerk het ook sommer net vat. Soos alles wasrvoor hulle nie gewerk het nie. Hoeveel het hulle aan enige fonds bygedra? Ek gee nie my toestemming nie. Dis diefstal.