Begroting: Gigaba sê oor kernkrag, NGV en droogte

Malusi Gigaba, minister van finansies, tydens die begrotingsrede 2018 (21 Februarie 2018) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Malusi Gigaba, minister van finansies, het Woensdag gesê Suid-Afrika kan nie bekostig om sy kernkragprogram uit te brei nie, en bygevoeg die land se steenkoolstasies verskaf tans voldoende elektrisiteit.

“Sedert die verklaring deur die president in Davos het nog niks verander nie. Ons kan dit nie bekostig nie,” het hy tydens ʼn mediakonferensie net voor sy begrotingsrede in die parlement gesê.

Hy het verwys na die uitlating deur Cyril Ramaphosa, in daardie stadium adjunkpresident, by die Wêreld Ekonomiese Forum.

Gigaba het reageer op ʼn vraag waarom die begroting nie voorsiening maak vir nuwe kernkragaanlegte nie – iets wat deur Jacob Zuma gedryf is.

Gigaba het gesê kernkrag bly deel van die land se geïntegreerde hulpbronneplan, maar dit is iets wat “later gewysig kan word”. “Indien ʼn elektrisiteitstekort intussen homself voordoen, is dit onwaarskynlik dat die regering op kernkrag sou besluit, gegewe die koste.”

Hy het gesê die Medupi-kragstasie, een van die grootstes in die wêreld, is besig om beduidend die prentjie te verander wat kragopwekking betref.

Nasionale Gesondheidsversekering

Gigaba het tydens sy begrotingsrede in die parlement gesê tesourie het ʼn bykomende R4,2 miljard opsy gesit vir die NGV.

Altesaam R700 miljoen is opsy gesit vir 2018/19, R1,4 miljard vir 2019/20 en R2,1 miljard vir 2020/21. Dit sal alles deur wysigings aan die mediesebelastingsubsidie gefinansier word.

Hy het gesê dit is deel van die regering se plan om die lewensverwagting van Suid-Afrikaners tot minstens 70 jaar te verhoog teen 2030.

Droogteverligting

Gigaba het ook aangedui dat R6 miljard beskikbaar gemaak word in die 2018/19 finansiële jaar vir droogteverligting. “Groot dele van die land word geteister deur erge droogtetoestande en dit plaas baie druk op die waterverskaf van nagenoeg 4 miljoen inwoners in Kaapstad.”

Hy het bygevoeg dat, alhoewel Kaapstad en ander dele in die Wes-Kaap onder druk geplaas is, is daar ook kleiner dorpe in die Noord-Kaap en Oos-Kaap, insluitend Nelson Mandelabaai, wat geraak word.

Hy het gesê waterbesparing moet ʼn prioriteit wees terwyl die land steeds ʼn swakker reënval beleef met waterskaarste.

Hy het gesê die regering sal so ver as moontlik poog om werksverliese in plaasgemeenskappe te verhoed, deur tydelik die Werk vir Water-program te verhoog. “Finansiering vir waterinfrastruktuur-projekte sal in die wysigingsbegroting gemaak word. Die begroting sal verligting ter waarde van R473 miljoen in 2018/19 bied aan provinsies en munisipaliteite.”

Hy het bygevoeg dat ander voorwaardelike toelaes ook geherprioritiseer kan word om op rampe te reageer.

Die regering sal ook seker maak dat sy damkapasiteit in die land verhoog. Gigaba het gesê R91,6 miljard sal spandeer word aan die opgradering, uitbreiding en instandhouding van water-infrastruktuur. Altesaam R34 miljard sal oor dieselfde periode spandeer word aan waterdienste, hoofsaaklik deur munisipale toelaes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Die bou en herstel van damme en ander betrokke infrastruktuur behoort een van die hoofitems te gewees het. Om oud te word sonder drinkwater en kos is nogal moeilik.

Sarie ·

Ek stem John dit moet hul prioriteits voorkeurprogram wees. Vergeet van al die miljarde rande vir die Nasionale Gesondheidsversekering gegee word, dit is net geld mors. Ek wonder maar net hoeveel van daardie miljarde is al in hulle eie sakke want hulle kom nie verder as wat hulle is nie en ons moet net bly geld gee. Daardie geld kan elders aangewend word. Hierdie gesondheidsversekering gaan eenvoudig nie werk nie. Knap liewers die staatshospitale op tot die standaard wat dit voor 1994 was en meer mense sal daarvan gebruik maak. Die goed lyk soos varkhokke met die uitsondering van ‘n paar wat mooi opgeknap is en kry ordentlike dokters.

Koos1 ·

En agbare minister, hoeveel jaar is die Medupi kragstasie agter wat betref die voltooing daarvan? En gaan die Klanwilliam dam, wat vanjaar klaar moet wees, gaan dit wel vanjaar klaar wees?
Ons begroot jaarliks vir nuwe projekte wat nie kan begin nie want die ou projekte is nog nie klaar nie, en word uit gerek!
SA regering kan bitter goeie planne beraam, maar het nie dit will om dit uit te voer nie.

Jordaan ·

Ek dink weer die regering kan droom en idees uitdink, maar het nie die bestuurskapasiteit om behoorlik te beplan nie – die probleem ontstaan nog voor die uitvoering moet geskied.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.