Begroting: Grootskaalse twis met vakbonde kom

Begrotingsrede 2020 (Foto: Verskaf)

Die tafel is gedek vir ’n tamaaie botsing tussen die regering en die lidvakbonde van die vakverbond Cosatu, nadat die minister van finansies, Tito Mboweni, Woensdag stewige salarisbesnoeiings in die staatsdiens aangekondig het. Die instemming van staatsdiensvakbonde is nie vooraf verkry nie.

Mboweni het aangekondig dat die salarisrekening van die staatsdiens oor die volgende drie jaar met R160 miljard gesny gaan word. Hy het uitgewys dat staatsdienswerkers se salarisse en byvoordele die afgelope vyftien jaar omvattend verhoog is, en dat die aantal staatsdienswerkers van 2006 tot 2011 met 190 000 gestyg het, hoewel dit sedertdien afgeplat het.

Mboweni was so reguit as moontlik toe hy gesê het: “Ons kan nie so aangaan nie.”

Argieffoto van ‘n Cosatu-betoging deur lede van Numsa

Hy het gesê daar kan slegs meer aanstellings in die onderwys, polisie en gesondheidsdienste plaasvind as die groei van die salarisrekening, korrupsie, wanbesteding en geldmorsery onder beheer gebring word. Hy het ook gesê die regering as werkgewer het so ’n voorstel by die gekoördineerde staatsdiens-loononderhandelingsraad ingedien, met die doel om R37,8 miljard in die volgende jaar te bespaar.

Hy sluit dan af met die enigsins enigmatiese stelling: “Die vakbonde verstaan waar ons is. Hulle het konstruktiewe voorstelle oor verskeie kwessies gemaak.”

Gegewe dat hy dus geen aanduiding gee oor of die staatsdiensvakbonde se “konstruktiewe insette” insluit dat hulle met hom saamstem nie, is die vraag of staatsdiensvakbonde die voorstelle, wat op kort termyn baie negatief vir hul lede sal wees, gaan aanvaar.

Die vakbond Nehawu, ʼn affiliaal van Cosatu, het reeds gister sy ontevredenheid met dié besluit uitgespreek. “Wat die tesourie voorstel, is ʼn volslae aanval op werkers se voordele en ons beskou dit as ʼn roekelose, onnodige uittarting wat daartoe kan lei dat die staatsdiens inmekaar vou,” sê Zola Saphetha, sekretaris-generaal van Nehawu.

(Foto: COSATU Today/Twitter)

Cosatu se samestelling het die afgelope twintig jaar omvattend verander. Waar dit twintig jaar gelede ’n grootliks blouboordjievakbond met lede in veral die mynbou-, vervaardiging- en dienstesektor was, is dit deesdae ’n grootliks witboordjievakbond met lede in die staatsdiens.

Aangesien die staatsdiens-salarisvoorstelle die haak is waaraan die begroting hang, beteken dit die verhouding tussen die staat en Cosatu sal die sukses en uitvoerbaarheid van die begroting bepaal.

Vakbondleiers en vakbondkenners met wie Maroela Media gepraat het, het drie punte uitgewys. Eerstens moet Mboweni en pres. Cyril Ramaphosa bewus wees van die omvangryke risiko wat hulle hiermee geneem het, en hulle sou dit wel verreken het. Dit is dus ’n voorbedagte stap waarvan hulle moeilik sal afsien. Anders as hul voorgangers is hulle kundig oor die ekonomie en ernstig oor die geloofwaardigheid van die begroting.

Tweedens is dit uit Cosatu se versigtige en kritiese reaksie duidelik dat geen ooreenkoms oor salarisse bereik is nie. Bronne in die loononderhandelingskamers van die land het dit vertroulik aan Maroela Media bevestig.

Derdens is dit dus duidelik dat ’n sogenaamde Thatcher-oomblik vir die ANC-regering en Cosatu wink, wat die regerende alliansie onder druk kan plaas – vergelykbaar met die wyse waarop die Thatcher-regering die wurggreep van die vakbonde op die Britse ekonomie gebreek het.

So ’n botsing kan deur slim voetwerk vermy word, maar na alle waarskynlikheid is die langverwagte magstryd tussen die ANC en Cosatu op hande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

RekmyBek ·

Vakbonde se tyd moet nou uitloop…. dis tyd…
Hulle is net daar vir hul maandelikse fooi van hul lede.

Nie Verbaas ·

En so hou die vakbonde stertjie aan om die hondjie te swaai. Hulle verstaan eenvoudig nie dat daar hopeloos te veel werknemers in die staats instansies is waarvan n groot gedeelte se salarisse heeltemal te hoog is nie.

Jan ·

Nehawu dreig dat die staatsdiens sal “inmekaar vou”. Feit is dit is reeds nikswerd. Die hoofrede is nuttelose werknemers. As hulle van duisende van hulle ontslae raak sal dit waarskynlik dienslewering verbeter.

Leon ·

Ek weet nie van die dag dat die vakbonde ‘n politieke party geword het in die parlement nie. Hulle hoef nie geken te word nie. Staan vir die parlement en maak dan jou mond oop. Die EFF het dit gedoen, so nou kan hulle, hulle sê sê.

Magda ·

in mekaar vou – wys net HOE MIN julle werklik weet wat aangaan in die Staats diens ( Vakbonde) – Hulle is klaar hopeloos en HOPELOOS te veel mense in DIENS – SO Ja dit is n baie goeie begin vir geld spaar en ook werk wat WEL NOU GLAD nie gedoen wprd nie. SO Ja minder personeel en meer en verantwoordelike werk sal n baie goeie begin wees.

Pim ·

Die vakbonde wil bloed uit ‘n klip tap. Daar is heeltemal te veel staatsdienswerkers wat overpaid en underwork is. Die vakbonde gooi nou ‘n tantrum want hulle weet hulle gaan ook nou minder geld kry.

marius ·

Droom maar rustig voort in die bed wat julle opgemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.