Begroting: Landbou het meer van Tito verwag

(Argieffoto: Kwanalu/Facebook)

Die landboubedryf is volgens die minister van finansies, Tito Mboweni, die enigste sektor wat vanjaar gegroei het, maar organisasies in die bedryf sê hulle het ʼn veel kragdadiger aanslag in steun vir die bedryf verwag.

Mboweni het die mediumtermynbegrotingsraamwerk Woensdag bekend gemaak.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër die belang van die landboubedryf benadruk en gesê dit gaan een van die sleutelsektore wees om die ekonomie weer ná die Covid-19-pandemie aan die gang te kry.

Agri SA het in reaksie op die begroting gesê die sektor is een van die land se grootste werkgewers en is verantwoordelik vir nagenoeg 4,6% van die arbeidsmag. Die organisasie sê die minister het ʼn geleentheid vir groter belegging deur sy vingers laat glip om selfs meer werksgeleenthede moontlik te maak.

Die organisasie sê die herprioritisering van geld en die vermindering van toelae voorspel niks goed nie.

“Agri SA verwelkom die regering se verbintenis om sy salarisrekening met R310,6 miljard oor vier jaar te verminder, ook die besnoeiing van R36,5 miljard vir 2020, omdat dit wys dat daar pogings is om druk op die staatsbeursie te verlig.

“Ons verwelkom ook die verdere toewysing van R7 miljard vir die Landbank, maar selfs meer kon gedoen word,” het die organisasie gesê.

Agri SA het die toewysing van R10,5 miljard vir die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gekap en sê die geld kon beter vir ontwikkeling gebruik word.

TLU SA sê op sy beurt die ekonomie kan net opgebou word as die private sektor dit dryf en nie as ʼn ongunstige beleggersklimaat volgehou word nie.

Die organisasie sê hoewel die minister vantevore gesê het daar is nie geld vir die Landbank en SAL nie, het hy steeds geld vir die lugdiens bewillig.

“Selfs ná die vorige R3 miljard inspuiting vir die Landbank, kon hy steeds nie die een taak wat hy moet verrig, uitvoer nie,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

“Die geld kom eenvoudig nie by die strukture uit wat dit na landbouers moet kanaliseer om insetfinansiering te kry nie. Die landbousektor benodig op die oomblik R10 miljard om die komende produksieseisoen aan die gang te kry. Ons is nie oortuig dat die Landbank in staat is om betyds en deursigtig daardie rol te speel nie.”

Die organisasie sê Mboweni se beloftes dat hy staatsbesteding gaan besnoei en korrupsie wil vasvat is prysenswaardig, maar hy het kommer oor of die planne ʼn werklikheid gaan word.

TLU SA sê daar flikker vir hom ook reeds rooi ligte oor Mboweni se aankondiging dat pensioenfondse binnekort in infrastruktuur sal kan belê. Die organisasie sê pensioenfondse moenie gebruik word om die regering se staatskuld te delg nie.

“Dit klink asof die minister meen die ekonomie gaan omgedraai word deur Suid-Afrikaners se lewens uit die staatskas te verbeter. Suid-Afrika se ekonomie gaan net omgedraai word as beleggers vertroue in die land het omdat die beleidsomgewing gunstig is vir belegging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Stem saam landbou, maar SAA wil ons help- LOS ONS GELD UIT- SAA MOET WEG.

Persheks Adri ·

SAL is mors mors van ons geld. Die vliegtuig gaan seker vir hulle kos gee regtig mmmmm die redenasie vermoë darem

Punisher ·

Jy kan moes saad saai uit die lug uit terwy SAL vlieg en dan help dit die boere en ook die res van almal wat ron vlieg

Kokerboom ·

So baie is al geskryf oor SAL en steeds kan mens die staat en vakbonde se diepe obsessie met SAL NIE verstaan!!!So veel so dat hul bo hul beterwete miljarde bereid is om te vermors ten koste van segmente van die ekonomie wat dit dringend benodig. Toon hul absolute gebrek aan begrip, sinvolheid en verantwoordelikheid/aanspreeklikheid. Dis tragies!!!

Mariana ·

Verkeerde mense in belangrike poste. Geen minister in finansies kon al SA sedert 1994 van gewisse ondergang red nie. Ekonomie gaan net verder afwaarts. Iewers moet iemand ingryp voor als heeltemal uitmekaar val. Hulle luister nie na kenners nie. Weet zero van finansies af.

daniel ·

Die regering kan nie verwag dat die pensioenfondse die spit moet afbyt vir die regering se swak en korrupte bestuur van die ekonomie nie .

Mad Mike die Rhodesiër ·

Tipies! Hulle kom weg met die meeste van die geld in hul eie sakke en dan lei die boere EN die oues en kreupeles daaronder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.