Begroting: Miljarde geoormerk vir Covid-19

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Die departement van gesondheid se begroting vir die komende boekjaar is R58,4 miljard, met R5,5 miljard hiervan vir Covid-19 geoormerk.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdag gedurende ʼn mediakonferensie oor die departement van gesondheid se aangepaste begroting gesê die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het ʼn bykomende toelaag van R96,7 miljoen ontvang.

Die onderskeie provinsies het om die beurt R2,1 miljard ontvang as deel van die toelaag om die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) vir uitgebreide Covid-19-toetsing te betaal.

Volgens die minister speel dié entiteite ʼn belangrike rol in die ondersteuning van gesondheidsdienste en dus die verbetering van Suid-Afrikaners se gesondheid.

Opknappings aan gesondheidsorgfasiliteite

Mkhize het verder gesê sy departement het ʼn tienjaarplan ontwikkel wat die infrastruktuur van gesondheidsorgfasiliteite betref. Dié plan behels die bou en instandhouding van sodanige fasiliteite.

Volgens die minister is 20 hospitale en 34 fasiliteite vir primêre gesondheidsorg reeds vernuwe, terwyl sewe fasiliteite vir primêre gesondheidsorg nuut gebou en 39 fasiliteite opgeknap is.

hospitaal

Argieffoto: Erkan Utu/Pexels.com

In die lig van die Covid-19-pandemie kry die aanskaf van hospitaalbeddens in die ongevalle-eenheid van hospitale en veldhospitale nou voorkeur, terwyl nog ruimte vir waak- en isolasie-eenhede geskep moet word.

Volgens Mkhize is suurstoftoerusting aangeskaf terwyl linne en meubels in hospitale opgeknap en aangevul is.

“Hierdie verbetering in infrastruktuur sal bydra tot die gesondheidstelsel se kapasiteit, selfs ná Covid-19,” het die minister gesê.

Hospitaalpersoneel

Die minister het in sy toespraak gesê altesaam 2 547 mediese interns en 8 624 gemeenskapsdienspersoneel is tussen Januarie en Julie in poste aangestel.

Daar word boonop verwag dat nog 3 050 mediese interns en 7 389 gemeenskapsdienspersoneel teen volgende Januarie aangestel sal word. Dít te midde van ʼn personeeltekort weens die Covid-19-pandemie.

ʼn Hospitaalpersoneellid ontsmet haar hande by die Tygerberg-hospitaal. (Argieffoto: Nardus Engelbrecht/AP)

Volgens Mkhize het die tesourie in die vorige boekjaar geld beskikbaar gestel om 9 165 poste vir alle gesondheidskategorieë te vul om die tekort aan gesondheidsorgpersoneel te verlig, ondanks die finansiële beperkings binne die regering.

Dié geld het dit moontlik gemaak om 5 517 statutêre en kritieke poste te vul en 2 015 mediese interns en 3 502 gemeenskapsdienspersoneel aan te stel. Dit sluit 1 146 dokters en 284 verpleegsters in.

“Die getal permanente poste wat gevul is, is altesaam 3 648. Dit sluit in 738 dokters, 862 verpleegkundiges, 1 182 ander diensverskaffers wat met gesondheid verband hou en 866 administratief verwante poste,” het Mkhize verduidelik.

Navorsing oor Covid-19

(Argieffoto: pixabay)

Volgens die minister sal die geld wat goedgekeur is vir die komende boekjaar ook gebruik word vir verskeie kliniese proewe wat tans gedoen word om nuwe tegnologie vir die voorkoming van Covid-19 te identifiseer. Dit sluit in navorsing oor entstowwe en studies wat gemik is op die evaluering van nuwe terapieë vir vroeë behandeling asook latere behandeling van pasiënte in hospitale.

Ander navorsingstudies sluit in die opstel van ʼn swangerskapsregister om die moontlike skade van Covid-19 aan swanger vroue en/of hul babas te evalueer, asook kwalitatiewe studies wat die maatskaplik-sielkundige gevolge van Covid-19 ondersoek.

MIV/vigs

Mkhize het in sy toespraak verseker dat die departement nié sy stryd teen MIV/vigs en TB sal verslap te midde van die Covid-19-pandemie nie.

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Volgens die minister het die departement in Desember verlede jaar ʼn vaste dosis van ʼn kombinasie- antiretrovirale middel genaamd TLD (tenofovir, lamivudien en dolutegravir) bekend gestel.

Altesaam 2 414 253 pasiënte in Suid-Afrika gebruik nou van dié relatief goedkoop antiretrovirale middel wat minder newe-effekte bied.

“Ons is van plan om ʼn veldtog te begin om die verspreiding van MIV/vigs en TB te bekamp, selfs tydens hierdie uitdagende Covid-19-omstandighede in die land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Lekker , en so rol die geld net in die sakke van die mense in die stoel . Oos Kaap gebruik die geld vir motorfietse wat se wiele af is nog voor hulle begin werk het . Welkom in Afrika . Die mense gaan dood omdat daar nie n benul is van pligte en verantwoordelikheid nie .

Kobus ·

MMm, nou moet iemand net verduidelik waar die R500 Miljard heen verdwyn het?

Kobus ·

Dink net hoeveel TukTuks kan hulle nou gaan koop met die R5,5 Miljard, dalk is daar bietjie kleingeld oor vir so paar maskertjies ook..

JM ·

Die belastingbetaler natuurlik! Darem te gerieflik om net te skep.

Persheks Adri ·

Ons belasting betalers gaan al WEER betaal vir hul dom besluite en die korrupsie gaan net verder aan gaan! Genade red ‘n nasie… Verloor maar so baie belasting geld per dag op sigarette, want kopdoek maak STEEDS geld sonder vervolging…

Jan ·

Nog geld vir die bodemlose put van die korrupsiesakke van die ANC kaders wat steeds, selfs na die 500 miljard, lank nie versadig is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.