Begroting: Minder geld vir onderwys kwel

‘n Skool in Xhorha in die Oos-Kaap. (Foto: Groundup/Manqulo Nyakombi.)

Basiese en hoër onderwys sal vir die volgende drie jaar die grootste sny van die begrotingskoek kry.  Kenners waarsku egter dat dié toegewing steeds jaarliks in werklikheid afneem en nie naastenby genoeg is om die probleme in die onderwysstelsel die hoof te bied nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag tydens sy begrotingsrede gesê dit is uiters belangrik dat Suid-Afrikaanse burgers gesond en geskoold is.  “Daarom dat dié twee portefeuljes ʼn groot persentasie van die begroting ontvang.”

Leer en kultuur, wat basiese en hoër onderwys, sowel as kuns, kultuur en sport insluit, kry op mediumtermyn 23% van die begroting.  Gesondheid kry 13,7%.  Die begroting vir basiese onderwys sal oor die volgende drie jaar jaarliks gemiddeld met 3,8% toeneem, van R262 miljard in 2019 tot R293 miljard teen die einde van 2022 vir albei hierdie portefeuljes.

18 klaskamers by Hoërskool Roodepoort is ontruim weens gebrekkige infrastruktuur. (Foto: Mia Slabbert)

Die drukgroep Equal Education wys egter uit dat dié bedrag sedert 2016 jaarliks afneem indien inflasie in berekening gebring word.  “In reële terme is die begroting vir die 2020-’21-boekjaar 1% minder as die 2019-’20-boekjaar s’n,” sê Hopolang Selebalo, ʼn navorser verbonde aan Equal Education.  Die nominale begroting van infrastruktuur word boonop ook in die volgende drie jaar gesny.

Die subsidie vir onderwysinfrastruktuur om nuwe skole en klasse te bou, word oor die volgende drie jaar met amper R1,9 miljard gesny, terwyl die subsidie om die agterstand in skole se infrastruktuur, onder andere water en sanitasie, uit te wis, met R112 miljoen sal afneem.  Dit is bo en behalwe die R7 miljard wat die regering reeds in 2018 van die onderwysbegroting gesny het.  “Hierdie besnoeiings sal waarskynlik ʼn aanpassing aan beplanning vir infrastruktuur en vertragings in die voltooiing van projekte tot gevolg hê,” lui die 2020-begrotingsoorsig.

Infrastruktuurprobleme by ‘n skool vir leerders met spesiale behoeftes. (Foto: Verskaf)

Die departement van basiese onderwys het reeds ʼn hopelose agterstand met die bou van skole en verskaffing van basiese infrastruktuur aan bestaande skole.  Volgens Equal Education se statistieke maak 3 710 skole nog gebruik van puttoilette. Verlede jaar is net 52 uit 225 beplande skole van water voorsien en 13 uit die beplande 40 nuwe skole gebou.  “Kinders gaan dood by die skool weens infrastruktuur wat inmekaarval, maar befondsing vir onderwys word gesny.  Dit terwyl staatsentiteite ʼn astronomiese R162 miljard oor die afgelope twaalf jaar ontvang het,” sê Selebalo.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) wys egter dat behoorlike bestuur van finansiële hulpbronne selfs belangriker is as bloot meer geld.  “Verskeie internasionale studies het uitgewys dat Suid-Afrika se per kapita besteding aan onderwys vergelykbaar is met dié van Eerste Wêreldlande.  Die opbrengs op hierdie belegging is egter teleurstellend,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS.

Buys meen daar moet veral gekyk word na die gehalte van nuwe skole, sodat dit nie nodig is om swak geboude skole ná ʼn paar jaar ten duurste te vervang nie.  “’n Fokus op die indiensneming van onderwysers met die regte vaardighede is ’n verdere stap in die regte rigting en sal bydra tot optimale gebruik van die geld wat bewillig is vir die versterking van wiskunde, wetenskap en tegnologie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ou Baardbek ·

Met verwysing na die eerste foto in die artikel, kan opgemerk word dat die “lessenaars” vir skoliere, NIE sonder ‘n hout blad vervaardig, of aangekoop word nie. Wat word daarvan? Word dit dalk gestroop vir vuurmaakhout? Wie moet dadelik sien wanneer dit gebeur, en dit rapporteer sodat die skuldige/s DADELIK tot verantwoording geroep kan word?
Wat is so moeilik om te begryp hier? Weet NIEMAND dan wat TOESIG beteken nie??

Marianna ·

Hoekom lyk alle staatsinstellings so? Hospitale, skole en alle staatsgeboue. Het dit so gelyk in 1994 toe die regering oorgegee is? Ek sien ook by my plaaslike biblioteek wat een van die mooiste nuwe biblioteke in die WEskaap is. Hoekom is die handvatsels van die toiletdeure afgeruk en daar graffiti op die mure? Hoekom is daar nie toiletpapier in die toilette nie? Hulle moes die toiletrol nou buite die toilet plaas aan ‘n ketting. Dan vra ‘n mens moet kinders nie heel eerstens geleer word oor respek vir goed en veral dit wat nie aan jou behoort nie. Dit bestaan nie in SA nie. Is dit ‘n kwessie van ‘n nuwe standaard waarby ‘n mens maar net sal moet aanpas???

Strandloper ·

Mmmmm…..Basies worry hul nie en basies brand hul dit wat oor is af

Yolandie ·

Natuurlik is daar minder geld vir onderwys, want die staatskaste loop mos leeg. So dis natuurlik dat die ongeskooldes ongeskoold en dom bly sodat hulle reg kan stem as wat hulle geleerdheid ontvang.
As mens kyk na die toestand van onderwys huidiglik is daar beslis NIKS hoop vir ons jeug nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.