Begroting: Minister hou beursie steeds styf vas

Enoch Godongwana, minister van finansies, tydens die mediumtermynbegrotingsrede. (Foto: GCIS)

Enoch Godongwana, minister van finansies, het kort gelede sy eerste mediumtermynbegrotingsrede in die parlement gelewer.

Die minister sê Suid-Afrika se ekonomie het in die eerste helfte van 2021 vinniger as verwag herstel, maar dié momentum gaan na verwagting taan weens die openbare geweld wat die land in Julie ondervind het, ontwrigting van spoorweë en hawens, asook die derde golf Covid-19-infeksies.

Die bruto binnelandse produk (BBP) sal vanjaar na verwagting met 5,1% groei (die vorige verwagting was 4%) nadat dit verlede jaar met 6,4% ineengekrimp het. Uitsette sal na verwagting ook reeds volgende jaar, ʼn jaar vroeër as wat die vooruitskatting in Februarie vanjaar was, tot voor-pandemie-vlakke terugkeer.

Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan wêreldwye aanvraag, hoër kommoditeitspryse en die verslapping van inperkingsregulasies. Die tesourie waarsku wel dat dié styging as tydelik beskou word.

Huishoudelike besteding het verbeter, maar nog nie ten volle van die pandemie herstel nie, terwyl inflasie – ten spyte van druk weens voedsel- en brandstofpryse – steeds binne die teikenband is.

Godongwana sê die regering bly daartoe verbind om die begrotingstekort te verminder en die land se skuld-tot-BBP-koers te stabiliseer.

Die regering gaan ʼn gedeelte van sy hoër belastinginkomste gebruik om die fiskale gapings toe te stop en korttermynhulp aan die land se kwesbaarste burgers te verskaf.

Godongwana sê besteding sal oor die volgende jaar beperk bly en om te verhoed dat die begrotingstekort groter word, gaan bestedingsveranderings gefinansier word deur verbeterde inkomsteprestasie, of deur die herprioritisering en hersiening van bestaande programme.

“Belangrik tot die fiskale roete wat ons gekies het, is die behoefte om duidelik en ondubbelsinning te wees oor die kompromieë wat ons as ʼn land bereid is om aan te gaan. Ons kan nie alles wat ons wil doen op dieselfde tyd doen nie.

“Eweneens belangrik is die vinniger inwerkingstelling van strukturele hervorming om groter belegging in die private sektor te ontsluit, die ekonomie te laat groei en werk te skep.”

Meer belastinginkomste, minder skuld

Volgens die tesourie het die Covid-19-pandemie Suid-Afrika se maatskaplike en ekonomiese krisisse onder die vergrootglas geplaas – en selfs groter druk op die staatskas geplaas.

Die regering gaan oor die volgende drie jaar ʼn balanseertoertjie doen met steun vir ekonomiese herstel en heropbou deur korttermynbestedingsmaatreëls en strukturele hervorming, terwyl die land se openbare finansies weer opgebou word.

Bruto belastinginkomste gaan na verwagting die vorige vooruitskatting met R120,3 miljard oorskry.

Belasting wat deur die mynbousektor ingevorder is, was die afgelope jaar besonder hoog weens die toename in kommoditeitspryse. Die minister erken wel dat belasting selfs doeltreffender ingevorder kan word. In dié verband het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens reeds begin om opgeleide ouditeurs en datakenners aan te stel.

Bruto skuld gaan teen 2025-’26 ʼn verwagte hoogtepunt van 78,1% van BBP bereik en sal daarna begin afneem. Die koste om skuld terug te betaal sal dan teen 2026‑’27 tot minder as 22% van die hoofbegrotingsinkomste daal.

Makro-ekonomiese bestendigheid, ook lae en stabiele inflasie, ʼn buigsame wisselkoers en volhoubare fiskale balanse, beskerm die ekonomie teen eksterne skokke en bevorder belegging. “Dit is ʼn voorvereiste, maar nie ʼn plaasvervanger nie, vir vinniger groei,” sê die tesourie in sy bykomende verduideliking van die begrotingrede.

“Lande met onvolhoubare openbare finansies loop ʼn groter gevaar vir ekonomiese krisisse en ʼn verlies aan fiskale soewereiniteit.”

Veiligheid, toelae is prioriteit

Die regering se uitgawes sal na verwagting oor die volgende drie jaar van R2,1 triljoen tot R2,24 triljoen toeneem.

Volgens Godongwana het die skade wat tydens die onluste in Julie in Gauteng en KwaZulu-Natal uitgebreek het, gewys tot watter mate misdaad Suid-Afrikaners onderkry. “Daarom het die tesourie dit goedgedink om geld aan die Suid-Afrikaanse Weermag, sowel as die polisie, te vermeerder.”

Sakeondernemings wat skade gely het tydens die betogings, sal ook meer ondersteuning geniet in die vorm van R11 miljard bykomende befondsing wat aan Sasria, die staatsbeheerde versekeraar teen onluste, uitbetaal sal word. Sasria was in September vanjaar wesenlik bankrot, aangesien netto eise R13,8 miljard beloop het, terwyl die instelling ʼn verlies van R12,1 miljard gely het.

Meer geld sal ook op mediumtermyn beskikbaar gestel word om arm studente gratis te laat studeer. Volgens Godongwana sal R158 miljard op mediumtermyn hieraan bestee word. Die regering wil ook werkskepping prioritiseer deur R74 miljard te bewillig vir werkskeppingsprogramme.

Hervorm ekonomie só

Godongwana sê dit is belangrik dat hervorming fokus op die verbetering van mededingendheid, produktiwiteit, belegging en werkskepping – en die eerste taak in dié verband is om te verseker dat die land ʼn stabiele energievoorraad het, die gevaar van beurtkrag verminder word en die oorgang na hernieubare energiebronne versnel word. (Lees ook Maroela Media se berig oor staatsbeheerde ondernemings.)

In die tweede plek moet die hervorming fokus op verbeterde doeltreffendheid van Suid-Afrika se logistieke infrastruktuur om groter uitvoer te steun. Sommige van die planne om dit te bereik, is reeds in werking gestel.

Godongwana sê daar moet ook gekonsentreer word om data meer bekostigbaar vir huishoudings en ondernemings te maak, terwyl die toerismebedryf ʼn hupstoot moet kry en vaardighede daarheen gelok moet word.

Planne is ook onderweg om ʼn nasionale agentskap vir waterhulpbroninfrastruktuur op die been te bring om die bestuur van grootmaatwaterhulpbronne te verbeter.

“Die hervormingspakket dui op die regering se verbintenis om ʼn bevorderlike omgewing vir die groei en ontwikkeling van ons land te skep.

“Ons moet die regulatoriese las op klein tot mediumgrootte ondernemings en koöperasies verwyder. In hierdie verband moet ons verskillende vorme van steun vir township-, middestad- en landelike ondernemings ondersoek.”

Die minister het ook benadruk dat dit belangrik is dat daar beleidsekerheid en -samehangendheid is.

“Ons moet die kapasiteit van die staat om die inwerkingstelling van beleid en ingryping in die ekonomie op ʼn manier te doen wat groei bevorder en nie inhibeer nie.”

Godongwana het ook herhaal dat die regering nie op sy eie ekonomiese herstel en groei kan bewerkstellig nie, omdat die meeste ekonomiese bedrywighede deur die private sektor oorheers word. Dit sluit in belegging, werkskepping en innovasie. “Hierin vra ons vir ʼn groter maatskaplike ooreenkoms om groei te verhoog en mense se inkomste te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pablo ·

En 6 miljoen mense moet vir alles betaal. Al die armoede na 27 jaar.

KB ·

As hy ekonomiese groei in SA wil hê, sal hy met sy president moet gaan praat om die inperking te stop, asook vir Eskom privatiseer. Anders gaan niks groei nie, behalwe sy neus.

Wielspore ·

Ons werk in die vervaardingings sektor en die maatskappy se eerste kwartaal van ons nuwejaar se syfers is ook vandag bekend gemaak. Ons lewer plaaslik en buitelandse produkte en het ook fabrieke in die buiteland. Van ons markte het onlangs soveel gegroei dat ons nie aan die aanvraag kan voorsien, wat goeie nuus is. Bedryfswins is op en vooruitsigte vir die res van ons finansiele jaar lyk goed.
Ek deel die positiewe sentiment omdat ek glo goeie gesindheid en harde werk kan bydrae lewer tot die voortbestaan van ons ekonomie en toekoms.

Pietertjie ·

Ek wonder wat gaan die vyfde golf aan ons ekonomie doen.

Johan ·

Hou net die krag aan ASB, ons het werk maar sit v ure en kyk vir mekaar in die donker (of brand ons wins in diesel weg). En nog iets, dit is nie die pandemie wat die skade veroorsaak nie, dis die regulasies….”voortgesette skade aan die ekonomie weens covid regulasies” nie weens pandemie nie, erken dat julle die skade veroorsaak regering gemors.

SlinkseKoljander ·

Nog n ANC kader wat net sakke wil vol maak. Hulle gaan aanhou om die belasting betalers te melk vir alles wat hulle het om hulle arm mense to probeer help.

Daar is moes nou bewys dit werk nie?

Net nog n swaap in parlement.

Jr ·

Hierdie boonste oplossings en budget is alles leuns om hulle “mense” te lok. Glo nie n woord wat hy praat

Nico ·

Word hierdie golwe van die covit19 nie gebruik as ‘n rookskerm om die land af te breek nie, daar is te veel langvingers in die ANC regering. Stop die verhogings.

Schalk ·

Ek hoop die regulatoriese beperkings op klein en meduim grootte besighede verwyder waarna hy verwys is die onsinnige BBBEEE wat beleggings en wantroue in die regering se doelwitte nie ondersteun nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.