Begroting: Moenie dink regering gaan verander

Argieffoto van ANC-ondersteuners. (Foto: GCIS)

Dawie Roodt, bekende ekonoom en hoof van Efficient Group, het nie veel hoop dat die ANC ná die komende nasionale verkiesing die tuig gaan neerlê nie. Daarom, sê hy én ander ekonome, moet Suid-Afrikaners self woeker om verandering te bring.

“Ek kan nie sien dat die ANC sommer uit die kussings gelig gaan word nie. Hulle sal steeds vir die volgende vyf jaar op een of ander manier betrokke wees by die regering van die land. Ongelukkig is die skade aan die ekonomie reeds van so ʼn aard dat ons nie nog vyf jaar van die ANC-regering kan bekostig nie.”

Roodt het gereageer op Enoch Godongwana, minister van finansies, se begrotingsrede Woensdag.

“Die minister van finansies het eintlik die beste gedoen wat hy kon en hard probeer om lipstiffie op dié varkie te sit, maar dit verander nie waaroor die begroting eintlik gaan nie, naamlik politiek,” sê Roodt.

“Wat nodig is, is ʼn groeiende ekonomie, wat slegs bereik kan word deur sakevriendelike beleidsbesluite, veral in sleutelsektore soos vervoer, energie en infrastruktuur.

“Die ekonomie stagneer, met ʼn belastingbasis wat reeds tot kapasiteit gedruk is. Vir elke belastingbetaler met ʼn werk is daar twee werklose Suid-Afrikaners wat van ʼn maatskaplike toelae afhanklik is. Baie topbelastingbetalers het geëmigreer en die res sukkel om die belastinglas te dra.”

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Die ekonoom Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Volgens Roodt is Suid-Afrika se skuldvlakke ook onvolhoubaar, aangesien die regering al meer geld leen en hopeloos te veel bestee. Roodt verwys ook na syfers wat wys hoe belangrike maatskaplik-ekonomiese maatstawwe konsekwent oor die afgelope drie dekades agteruit geboer het. Dit sluit in dat die bruto binnelandse produk (BBP) per capita gedaal het en dat armoede en werkloosheid toegeneem het. Roodt sê onomwonde dit is weens die ANC se “wanbestuur” van die land. Nou “het die Suid-Afrikaanse soustrein ontspoor”.

Oor die nasionale tesourie se plan om die Reserwebank se goud- en dollarreserwes vir die staatskas aan te wend sê hy dit kan wel ʼn korttermynoplossing vir Suid-Afrika se hoë skuldvlakke wees, “mits die geld reg bestee word”.

Die fonds is opgebou uit al die verliese en winste op alle wisselkoerstransaksies, om sodoende die sentrale bank teen wisselvalligheid in die wisselkoers te verskans. Die rekening sit tans op R500 miljard weens die beduidende verswakking in die rand.

Vind self oplossings

Roodt en die ekonoom Dricus Combrinck is dit eens dat Suid-Afrikaners nie vir die staat kan wag om die probleem op te los nie.

“Daar waar die staat faal, skep dit eintlik die perfekte geleentheid vir die privaatsektor om betrokke te raak, soos met die bou van skole,” sê Combrinck. “Ons leef in ʼn land waar die staat jou darem nie verhinder om dienste te lewer wat hy nie self kan lewer nie.”

Roodt stem saam. “Ons sien dit oral om ons. Die privaatsektor en burgers kom self altyd met ʼn oplossing vorendag.”

Combrinck sê hoewel beleid soos swart ekonomiese bemagtiging dit soms moeilik maak vir groot besighede om te floreer, het kleinskaalse entrepreneurs meer beweegruimte. “Hierdie entrepreneurs het sekere vaardighede opgedoen wat hulle weer in die buiteland kan verkoop en só die swak rand tot hul voordeel kan gebruik.”

Roodt sê ook veranderende tegnologie maak dit moontlik vir Suid-Afrikaners om enige plek in die wêreld te werk.

Combrinck raai Suid-Afrikaners aan om veral te belê – tyd én geld – in die plaaslike gemeenskap en in burgerlike organisasies wat verandering bring.

  • Bykomende inligting deur Elisma van der Watt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Korrek, die ANC gaan nog vir dekades die septer swaai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.