‘Begroting negatief as na syfers gekyk word’

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die VF Plus het Woensdag, in reaksie op die aankondiging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR), gesê hoewel die begroting positief klink, is dit eintlik negatief wanneer die syfers van nader bekyk word.

Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het in ʼn verklaring beklemtoon Pravin Gordhan, minister van finansies, het tydens die MTBR aangedui dat sy verwagte belastingtekort R11 miljard is en R23 miljard op die langer termyn. Volgens Mulder beteken dit daar is reeds sprake dat meer as R40 miljard in bykomende belasting in die toekoms ingewin moet word.

“Die risiko is dat jy met ‘n te hoë belastinglas ekonomiese groei verder kan demp in plaas van stimuleer,” het hy gesê. “Die VF Plus is teleurgesteld dat die regering steeds net oor semi-staatsinstellings praat, sonder om enige werklike aksie of besluite te neem. [Gordhan] het breë riglyne aangekondig oor hoe semi-staatsinstellings hanteer moet word, maar dit lyk asof hy die bal vir die president en die adjunk-president aangee, vanwaar geen besluite oor semi-staatsinstellings kom nie.”

Mulder het gesê belastingbetalers kan nie langer semi-staatsinstellings, soos onder meer SAL, Eskom, die Suid-Afrikaanse Poskantoor en Landbank finansieel dra nie. “Selfs al word die SAL weggegee, is dit steeds positief vir die stygende skuldsituasie van die Suid-Afrikaanse regering,” het hy gesê.

“Tans word reeds vir R147 miljard begroot om net die rente op staatskuld te betaal. Hierdie begrotingsitem styg die vinnigste van alle items in die begroting. Dan kom die waarborge van die staat vir hierdie semi-staatsinstellings ook nog by.”

Mulder het bygevoeg hy voel positief dat Gordhan nie onder druk geswig het om “allerlei populistiese aankondigings” te doen nie. Hy het gesê die VF Plus ondersteun Gordhan se pogings om by sy aangekondigde fiskale dissipline te hou, aangesien dit sal help om ‘n kredietafgradering te voorkom.

“Die VF Plus glo die kredietgraderingsmaatskappye kyk tans meer na die politieke gevolge van die minister se hofverskyning binnekort en of hy nog ses maande polities gaan oorleef, as spesifiek net na die begrotingsyfers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Die enigste verskil tussen die toesprake/termyne van die wyd gerespekteerde Trevor Manuel en Pravin Gordhan, is die feit dat die staatskas tans so te sê leeg geplunder is.
Mnr. Manuel het jaar in en jaar uit baie sedig en waardig die begroting gelewer, terwyl presies dieselfde misdrywe by semi-staatsinstellings, gekonkel met tenders ens. aan die gang was. Papier is geduldig.
Net omdat Jacob Zuma so blatánt sy streke uitvoer en die geld op is, word die héle misoes op sy skouers geplaas. Dit kom al reg van die begin af aan.

Johann Marx ·

Die regering bly praat oor “job creation”…..maar verstaan nie die konsep nie. Om net meer staatsamptenare aan te stel is NIE “job creation” nie. Ons patetiese regering doen NIKS om die ekonomie te stimuleer nie…..99% van hulle aksies het juis net die teenoorgestelde uitwerking. Om die “belasting koek” se skyfies net dunner te sny, is NIE ekonomiese stimulasie nie. Selfs ek weet dit…en ek is nie eens amper ‘n “ekonoom” nie. My werkers en ons regering is presies dieselfde…..kry Vrydae “pay” en staan Maandag voor die deur om geld te leen. Geld leen is ook nie die oplossing nie. SA se probleem kan in EEN SIN saamgevat word: Hopeloos teveel mense kry hopeloos teveel geld vir hopeloos te min werk!!

JA ·

Johan, Jy is 100% korrek, veral die “Hopeloos teveel mense kry hopeloos te veel geld vir hopeloos te min werk!!”

TDW ·

Ek kan nie verstaan hoe hulle die tax wil hoër maak vir diegene wat dit reeds betaal om te sorg vir diegene wat nie betaal nie. Ek glo dat kinders, siek mense en oumense die enigstes is wat nie vir hulself kan sorg nie, en dis die enigstes vir wie die belastingbetaler moet help en dra, maar nou word studente ook op die lysie gesit en die social grants word met R10 verhoog, en baie mense op social grants is mense wat nie wil werk nie. Op die oomblik is daar meer mense op social grant as wat daar belastingbetalers is. Wil hulle almal bankrot maak of gaan hulle met die idee dat die wat reeds betaal altyd sal kan? Maak nie saak hoe hoog hulle die belasting maak nie? Ek is glad nie ingenome met Gordan se toespraak nie.

Koos1 ·

Lui die basise beginsels van komunisme dalk al ‘n klokkie by iemand?
Geen regering ter wereld kan vir die armes gee sonder om by die rykes te vat nie.
Die armes wil meer he en die rykes moet meer gee, totdat die rykes hulle m..r pluk en land verlaat, dan is daar geen rykes om by te vat nie! Wat dan, dan moet die regering ingryp en dan is dit komunisme op sy beste. Geen ekonomiese graad is nodig om dit te verstaan nie, net matriek, wat Nr.1 nie het nie!!

CH ·

Is 2% vir agri nie baie min nie? Veral in n droogte tyd? Is daar werklik ondersteuning vir ons boere in hierdie tyd wat die land moet voed?

Net die Waarheid ·

Verhoog BTW om die tekort van universiteitsopleiding aan te spreek. Die demografiese bydrae is dan proporsioneel korrek en die huidig studente gaan dan nes almal vir die res van hul lewens help om ander studente te finansier. Die jong meisies wat toelaes ontvang vir kinders moet ook bydra want dis juis hierdie kinders wat oor ‘n paar jaar op gratis onderwys gaan aandring. Daar behoort egter steeds universiteite te wees waar betaal word anders is daar nie uitnemendheid nie

Schalk ·

Daar is te veel mense wat onder die inkomste skaal val wat nie hoef belasting betaal nie. Ek is jammer maar net terminal siekes en oues behoort vrygestel te word.

Rina XX ·

Wel ek wil vra na die begroting……..kry pensioenarrisse R10 n maand …… wat de joos kan jy koop met R10 ekstra……..dis lagwekkend……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.