Begroting: SA se groeikoers afwaarts aangepas

Nhlanhla Nene. Foto: GCIS

Nhlanhla Nene. Foto: GCIS

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het Woensdag tydens sy eerste mediumtermyn-begrotingsraamwerk die verwagte jaarlikse groeikoers verlaag.

Nene het gesê toe die begroting in Februarie ter tafel gelê is, was die verwagte jaarlike groeikoers 2,7%. Die hersiene beraming is egter 1,4% terwyl die Tesourie ’n groeikoers van 3% in 2017 verwag. “Die afwaartse aanpassing is deels as gevolg van ‘n swak internasionale omgewing, insluitend die verlangsaming in Europa, China en ander opkomende ekonomieë. Maar dit weerspieël ook die struikelblokke in ons eie ontwikkeling: energiebeperkings, ontwrigting in die arbeidsmark, vaardigheidstekorte, administratiewe tekortkominge en probleme in ons industriële transformasie.”

Nene het gesê daar word nie genoeg vordering gemaak om inkomste te vermeerder of armoede te verlig nie. “Te veel mense is werkloos, wat ongelykheid verdiep en kwesbaarheid verhoog. Ons voer aansienlik meer in as wat ons uitvoer. As gevolg van die stadige groei, is belastinginkomste minder as waarvoor daar begroot is. Die regering se skuld gaan voort om te toe te neem as ‘n persentasie van die BBP.”

Nene het veral klem gelê op die hoofdoelwitte van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk wat aansienlike gevolge vir die begroting inhou. “Die kwaliteit van ons onderwysstelsel en ons gesondheidstelsel moet verbeter word. Dit sal die topprioriteite van die regering se besteding bly. Die uitbreiding van kapasiteit en die bevordering van aanspreeklikheid van die openbare sektor is baie belangrik, veral op plaaslike regeringsvlak en in maatskappye wat in staatsbesit is.”

Nene het bekend gemaak dat daar stappe geneem is om Eskom se finansiële stabiliteit te verseker. “Eskom sal oor die volgende vyf jaar R250 miljard leen wat verder ondersteun word deur huidige waarborge van die regering. Die regering sal minstens R20 miljard se befondsing verskaf deur die verkoop van nie-strategiese bates.”

Nene het ook aangekondig dat die regering R32,6 miljoen vir die departement van gesondheid beskikbaar gemaak het om voorsorgmaatreëls in plek te kry vir ebola en om ander lande wat daardeur geraak word by te staan.

Nene het gesê die totale besteding in 2014/15 gaan sowat R6 miljard minder wees as wat in Februarie geskat is. “Die hersiene geskatte inkomste is R956 miljard, ‘n tekort van R180 miljard op die hoofbegroting,” het Nene gesê.

Klik hier om Nene se volledige mediumtermyn-begrotingsraamwerk te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois ·

Wat het hjulle dan gedink…ons bly in Afrika! Ons gaan nie een tree vorentoe nie..dalk so vier agteruit ja…

Drieks ·

Jy reg, ons gaan net agter uit, en Nene en die hele ANC weet hoekom maar hul stop nie hul foute nie, hul maak net meer en zumpie skep die gerieflike omgewing vir hul…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.