Begroting: Tesourie verminder 2020-groeivooruitsig tot 0,9%

(Foto: Jason Coudriet/Unsplash)

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het Suid-Afrika se groeivooruitsig tot 0,9% aangepas van die 1,2% wat in Oktober voorspel is.

Die begrotingstekort vir 2020-’21 staan op 6,8% van die bruto binnelandse produk (BBP) en die minister waarsku dat elektrisiteitstekorte boonop oor die volgende paar jaar verdere druk gaan veroorsaak.

Mboweni het vanmiddag die begroting aan die parlement voorgelê. Dit wys dat die ekonomie in 2019 na raming met net 0,3% gegroei het, ʼn daling van 0,5% van wat in Oktober tydens die mediumtermynbegroting voorspel is.

Die regering se bruto skuld gaan na verwagting teen 2022-’23 tot 71,6% van die BBP styg, terwyl rente op skuld reeds 15 sent van elke rand wat deur belasting ingevorder word, insluk. Wat die vooruitsig verder vererger is dat daar na verwagting R63,3 miljard minder belasting ingevorder gaan word.

Die tesourie sê stappe wat sedert 2012 gedoen is om regeringsbesteding in te perk en belastinginvordering te verbeter, het weens laer groei en hoër staatsbesteding nie die gewenste uitwerking gehad nie. Laasgenoemde is grootliks aangedryf weens die talle reddingsboeie wat aan sukkelende staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) uitgedeel is.

Maatreëls gaan nou ingestel word om die begrotingstekort teen 2022-’23 van 6,8% na 5,7% te probeer verminder.

“Bruto nasionale skuld gaan na verwagting styg van 65,6% van die BBP in 2020-’21, na 71,6% van die BBP in 2022-’23.”

(Argieffoto: Eskom/Twitter)

Die staat het die afgelope agt jaar R162 miljard bestee om semi-staatsinstellings aan die gang te hou en meer as 80% van dié geld is aan Eskom uitgedeel.

Mboweni het gesê dit is oorweeg om belasting te verhoog, maar die tesourie het besluit om dit nie te doen nie en eerder te fokus op die herstel van openbare vertroue in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Die regering stel voor dat uitgawes met R156,1 miljard verminder word, grootliks deur die salarisrekening vir staatsamptenare te verminder. Volgens die tesourie gaan die vergoeding van staatsdienswerkers oor die driejaarmediumtermyntydperk met 1% verminder, wat ʼn besnoeiing van R160,2 miljard beteken.

Mboweni sê die regering wil ook korrupsie en verkwistende besteding verminder en om sy erns met die kwessie duidelik te maak, gaan verskeie stappe gedoen word.

Daar gaan onder meer weggedoen word met die verkwistende reistoelae, die beleid oor die vervanging van selfone gaan aangepas word en alle binnelandse vlugte gaan, behalwe in uitsonderlike gevalle, voortaan in ekonomiese klas wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wondermaarnet ·

En in 8 jaar wat daar soveel miljarde aan Eskom betaal is, was daar net agteruitgang en geen groei nie. Hoe verklaar ‘n mens dit? Eskom moet ontslae raak van werknemers wat gereeld “siek” is en dan fuif en partytjies hou ipv werk. Onbevoegde mense moet ook uit poste ontslaan word. Hoe moeilik kan dit wees Eskom?

koos10 ·

Tito, gaan kyk na jou departement se aankope beleid en spesifiek die aankope deur kwotasies. Deur jou beleid met die PFMA te laat strook en nie deur interne regulasies nie, kan ek amper ‘n 30% besparing op aankope waarborg.

Nell ·

Talk is cheap , minister Mboweni – ons sal maar wag en sien hoe lyk sake hier na die jaar einde se kant toe, maar nietemin sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.