Begrotingsreaksie: Regering maak regte geluide oor hervorming

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer sy begrotingsrede in die parlement. (Foto: GCIS)

Tito Mboweni moet erkenning kry vir die afwesigheid van groot belastinguitbreidings, maar selfs groter besnoeiing is nodig.

“Sonder besnoeiings is daar geen hervorming nie,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, in reaksie op die minister van finansies se begrotingsrede gesê.

Stygende skuld

Sakeliga sê Mboweni het met sy begroting ʼn “sprong die skuld in” gegee en beplan nou om in die komende fiskale jaar 50% meer skuld aan te gaan as sy verwagtinge in verlede jaar se begroting en 80% meer as die verwagting in die 2018-begroting.

Die organisasie sê nie net bevat Mboweni se begroting geen besnoeiings ten opsigte van totale gekonsolideerde staatsbesteding nie, dit sluit selfs marginale bestedingstoenames in. Dié begroting is die tweede een waarin Mboweni beduidende toenames in geprojekteerde leningsbehoeftes aankondig deur hoë bestedingsvlakke te midde van skerp dalings in inkomste te handhaaf.

Le Roux sê Mboweni beplan om byna dubbel soveel te leen as wat sy voorganger, Malusi Gigaba, in 2018 voorgestel het en 50% meer as wat hy self hierdie tyd verlede jaar gesê het. Hy beplan om die tekort teen 6% vir die volgende drie jaar te handhaaf.

Die geprojekteerde tekorte neem toe vanaf R205 miljard (3,5% van die BBP) in die 2018-begroting, tot R253 miljard (4,3% van BBP) in die 2019-begroting en dan weer tot R371 miljard (6,8% van BBP) in vanjaar se begroting.

FJ 2020/2021 soos geprojekteer in verskillende Feb.-begrotings

R miljard

BegrotingsjaarGeprojekteerde tekortGeprojekteerde inkomsteGeprojekteerde besteding
20182051 7371 942
20192531 6961 949
20203711 5841 954
Grafiek: Sakeliga

“Hierdie verwikkelinge beklemtoon dat besighede in Suid-Afrika moet seker maak dat hul korporatiewe strategieë dinamiese bestandheid teen ʼn verswakkende fiskale situasie bied,” het Le Roux gesê.

Maarten Ackerman, hoofekonoom by Citadel. (Foto: Citadel)

Maarten Ackerman, hoofekonoom by Citadel, het ook die besluit om verdere beduiende belastingverhogings te vermy, as goeie nuus vir maatskappye en huishoudings verwelkom. Hy sê die begroting het al die aanduidings gehad van ʼn regering wat hervorming-georiënteerd en reg is om sy spiere te bult.

“In ʼn poging om die stygende begrotingstekort te verstadig en die land se fiskale situasie te stabiliseer, het die regering besuinigingsmaatreëls van R261 miljard oor die volgende drie jaar aangekondig. Dit sluit ʼn vermindering van R160,2 miljard in die opgeblase salarisrekening van staatsdiensamptenare in.”

Hy sê dié maatreëls, asook die hertoewysing van geld, gaan die begrotingstekort hopelik van 6,8% van die BBP in 2020-’21 na 5,7% in 2022-’23 laat krimp. Dit beteken ʼn effense styging in die skuld-tot-BBP-verhouding na 71,6% in dieselfde tydperk, veel beter as die 80% waarteen in die mediumtermynbegrotingsrede gewaarsku is.

Ackerman sê Suid-Afrika is steeds op die rand van ʼn afgrond en net een fout kan die hele plan in duie laat stort. “Die regering se geskiedenis van inwerkingstelling en optrede is maar swak, so terwyl Mboweni al die regte dinge gesê het, moet die regering nou die werk doen om sy planne uit te voer.”

Sou Suid-Afrika dit nié doen nie, kan die kredietgraderingsagentskap Moody’s die land afgradeer.

Grootste struikelblokke

Ackerman sê vier kwessies hou die grootste gevaar vir sukses in.

Swak groei: Ackerman sê ʼn ekonomiese groeivooruitsig van 0,9% is realisties, maar Suid-Afrika moes dié syfer die afgelope paar jaar deurlopend afwaarts aanpas, wat weer druk op inkomste-invorderingsteikens plaas.

Staatsdiens se salarisrekening: Ackerman waarsku as die regering nie teen Oktober dié uitgawe verminder nie, hy nie sy teikens gaan bereik nie. Cosatu het reeds gewaarsku dat hy dit nie vir die regering gaan maklik maak nie, maar die regering se hantering van die staking by die Suid-Afrikaanse Lugdiens verlede jaar kan vakbonde moontlik minder rammetjie-uitnek maak.

Eskom: Die kragvoorsiener se verswakkende infrastruktuur en moordende skuldvlakke beteken hy kan nie aan opwekkingsbehoeftes voldoen om groei te handhaaf nie en dit strem die vooruitsig op enige verbetering.

Padongelukkefonds: Die POF se laste groei teen ʼn onvolhoubare pas en gaan teen 2022-’23 waarskynlik die R600 miljard-kerf verbysteek, waarsku Ackerman. Die fonds se laste oorskry deurentyd sy inkomste en hou ʼn wesenlike bedreiging vir die regering se besuinigingsmaatreëls in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leon ·

Moenie bekommerd wees nie. Die unies gaan Boe sê en die regering sal 16% salarisverhoging vir die amptenare gee en 100% vir die top bestuur. Dit gebeur elke jaar. hoekom sal dit verander. Die ANC kom mos eerste. Die land is is die tiende plek.

Johan Venter ·

En Fitch Ratings, wat Suid-Afrika reeds op rommelstatus gradeer, beskou die plan om die staat se salarisrekening te besnoei, as wensdenkery.

Nie Verbaas ·

Wanbestuur, korrupsie en plundering gaan Suid Afrika oor afgrond stuur, plus nie werkende ideologie.

Pampoen ·

Die afgelope dekade of twee dip elke jan-rap en sy maat hulle lang vingers in die staatskas. Nou skuur hulle naels al op die bodem. En daar in die hoekie glinster ‘n edelgesteente – die staatsdienspensioenfonds!

Johan Venter ·

Nie nét staatspensioenfondse nie, maar ALLE pensioenfondse!

Johan Venter ·

En Tito Mboweni raak nou vandag die allergrootste wyshede kwyt, vir elke wysheid het hy ‘n wiel uitgevind. Nou beduie hy die ekonomie moet groei sodat die regering meer inkomste kan kry. En ek dag almal weet dit, self daardie wat in matriek met 30% slaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.