Begrotingsrede 2016: ‘Paaipolitiek en -ekonomie sal nie afgradering keer’

dawie-roodt-2

Dawie Roodt. Foto: Facebook

Woensdag se begrotingsrede is nie genoeg om ʼn kredietafgradering te keer nie, maar dit skep ruimte vir ʼn meer stabiele politieke klimaat.

“Die begroting was vir my oor die algemeen teleurstellend. Pravin Gordhan, die minister van finansies, het die toestemming van die privaat sektor gehad om belasting te verhoog. Almal sou dit aanvaar het, want mense besef ons is in ekonomies moeilike omstandighede, maar hy het nie die geleentheid gebruik nie,” het Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, gesê.

Die groep het ʼn debatgesprek met Roodt, Tim du Plessis en dr. Piet Croucamp ná afloop van die begrotingsrede by die Hoërskool Garsfontein in die ooste van Pretoria aangebied waar hulle die begroting ontleed het. Die sprekers het ook die implikasies van die begroting op die verbruiker, ekonomie en politiek bespreek.

Roodt verduidelik waarom hy glo ons gaan nie ‘n kredietafgradering kan keer nie:

Roodt meen dat Gordhan nie belasting verhoog het nie omdat hy optimisties is oor Suid-Afrika se vooruitskatting vir ekonomiese groei – hy reken die ekonomie sal vanjaar teen 0,9% groei. “Gordhan weet as jy belasting verhoog, ondermyn jy groei op kort termyn. Tog het hy daarop gesinspeel dat persoonlike inkomstebelasting in die toekoms verhoog kan word.”

Volgens Roodt lê die staat se grootste uitgawes by die enorme staatsdienssalarisrekening wat met R50 miljard oor die komende drie jaar besnoei sal word. “Gordhan het gesê poste sal ingeperk word, maar hy het nie genoeg besonderhede verskaf van hoe dit gedoen moet word nie. Die ANC se grootste politieke vennoot is Cosatu, wat uit staatsamptenare bestaan en wat hierdie besnoeiing verder gaan bemoeilik.” Hy het ook gesê dat die sosiale besteding, wat onderwys insluit, en die staat se stygende renterekening druk op die begroting plaas.

Roodt sê sy grootste teleurstelling in die begroting is dat die minister nie aangedui het dat semi-staatsinstellings geprivatiseer sal word nie. “Daar is ʼn groot ophef gemaak van SAL en SA Express wat gekonsolideer sal word, maar dit is ʼn klein beweging in die groter prentjie.”

Roodt verduidelik die begroting se impak op die verbruiker:

“Almal het verwag die verskillende soorte belasting sal verhoog word, die vraag is hoekom Gordhan dit nie gedoen het nie. Ek vermoed hy het ʼn begroting opgestel om die burgerlike samelewing te paai,” het Croucamp gesê. Hy het verwys na Gordhan se oop agenda rondom die privatisering rondom semi-staatsinstellings. “Hy het daarop gesinspeel dat hierdie instellings moontlik verkoop kan word, wat eintlik maar ʼn privatisering is, maar wie gaan dit koop?”

Hy meen verder dat die regering nie werklik enige plan of begroting tot behoorlike uitvoering kan bring nie. “Die ANC het te swak geword, hulle is lamgelê wat beleid betref. Die enigste plek waar die party beleid kan vorm en deurvoer of afdwing is wanneer hy groepe teiken wat nie deel van sy kiesafdeling is nie soos boere en sekere dele van die sakesektor. Wanneer dit gaan oor die ANC se eie kiesafdeling, het hy nie die vermoë om enige ongewilde beleid te formuleer en deur te voer nie. Daarom sal ons nie ʼn ordentlike begroting sien nie.”

Du Plessis stem saam: “Gordhan moes meer gedoen het, hy het die geleentheid gehad, maar hy wil nie vir groepe soos vakbonde of studente ʼn vastrapplek vir nog ʼn ‘site of struggle’ verskaf nie. Die regering kan nie nog betogings, optogte en lawaai teen hulle bekostig nie, daar is tans te veel wat aangaan.”

Hy sê Gordhan is ingestuur om dinge reg te ruk en te laat bedaar. “Hy het ʼn hele klomp kwessies oop en onaangeraak gelaat, maar ek dink hy wou net eers die hele situasie stabiliseer.”

Du Plessis sê dis ook veelseggend dat die rand gedaal het terwyl Gordhan ʼn begrotingsrede gelewer het wat bedoel is om vertroue te skep. “Die staat probeer die ekonomie ʼn hupstoot gee, maar ons is in moeilike ekonomiese omstandighede met ʼn minder stimulerende fiskale beleid wat gaan lei tot hoër vlakke van werkloosheid – en dit is volgens Gordhan se eie syfers,” het Roodt gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

TTh ·

Ek dink die ANC sal nie afwyk van sy plan om van SA ‘n kommunistiese land te maak nie en kan nie bekostig om sy slapende oningeligte kiesers te verloor nie. Ek dink SA samelewing gaan baie onstabiel raak, met minder werksgeleenthede, duurder kos, energie en water. En dit gaan vir die blanke minderheid baie moeilikheid op die hals haal.

m ·

Arme Gordhan moet ook seker maar die regte geluide maak om sy werk te behou.

Dee ·

Gordhan se posisie behoort redelik veilig te wees vir ten minste ‘n jaar of twee want wat dink jy sal die impak wees as hý nou aangesê word om sy baadjie te vat en die lessenaar te ontruim.

Michael ·

Die piesang republiek ,maar hier sal ek bly al is dit ook net om die spul te irriteer

Ben ·

die samelewing verander baie vinnig en met groot agressie. Mens voel onveilig oor alles. die land sit met ‘n siek regering wat haat saai om stemmers te behou . kyk mooi aan wie jy jou huis verkoop of met wie jy besigheid doen. dink mooi oor jou kind se toekoms, want dit sal maar kraak . min mense wil nog hierdie gemors uitwag e n soek uitwegte. selfs politieke asiel is al n uitweg beter as hierdie gemors

Johannes Meintjes ·

Daar is verskeie selfbestuur meganismes waarmee landsburgers hulle eie en die tuis-gemeenskap se mikro ekonomiese, beveiligende en dienslewering situasie kan verbeter, soos bv. deur middel van belastingbetaalersvereenigings waarby GPF inisiatiewe aansluit . Dit word egter dikwels in versuim ook nie gedoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.