Begrotingsrede 2016: ‘Staat gaan gordel intrek’

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan. Foto: GCIS

Pravin Gordhan, minister van finansies, het Woensdag tydens sy begrotingsrede gesê staatsbesteding moet aansienlik verminder word.

Gordhan het gesê groeikoerse van minder as 1% val tekort aan dit wat nodig is om werk te skep en armoede en ongelykheid te verminder. Die tesourie verwag ekonomiese groei van net 0,9% vanjaar in vergelyking met die 1,3% in 2015. “Dit weerspieël die benarde internasionale toestande sowel as die impak van die droogte. Dit weerspieël ook beleidsonsekerheid, die effek van uitgerekte arbeidsgeskille op sakevertroue, die beperkings in elektrisiteitsvoorsiening en regulatoriese hindernisse vir beleggings.”

Gordhan het gesê die begroting word gelei deur die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). “Dit is ʼn begroting vir inklusiewe groei. Dit beklemtoon vennootskappe tussen rolspelers in ons ekonomie, dit prioritiseer onderwys en belegging in infrastruktuur, dit word ondersteun deur werkskepping en dit dra by tot die bou van ʼn bekwame ontwikkelingstaat.”

Gordhan het teen die agtergrond van die trae groei, stygende skuld en hoër rentekoerse voorgestel dat die tempo van fiskale konsolidasie versnel word en die begrotingstekort teen 2018/19 met 2,4% verminder word. “Die bestedingsplafon sal oor die volgende drie jaar met R25 miljard gesny word, hoofsaaklik deur die personeelbesteding te beperk. Belastingverhogings ten bedrae van R18 miljard word vir 2016/17 voorgestel, en ʼn verdere verhoging van R15 miljard per jaar in 2017/18 en 2018/19.”

Gordhan het aangekondig dat ʼn bykomende R16 miljard oor die volgende drie jaar aan hoër onderwys toegeken sal word en dat dit befonds sal word deur die herprioritisering van bestedingsplanne. ʼn Bykomende R11,5 miljard word oor die volgende drie jaar vir maatskaplike toelae beskikbaar gemaak. Volgens Gordhan is daar ook fondse beskikbaar gemaak om die impak van die droogte op die landbousektor hok te slaan.

Gordhan het met betrekking tot groei en ontwikkeling gesê daar is verskeie uitdagings in Suid-Afrika. “Ons reageer op ʼn beroep van die sakesektor vir groter sekerheid ten opsigte van beleid wat beleggingsbesluite beïnvloed. Ons is besig met voorstelle van georganiseerde arbeid vir ʼn minimumloonbeleid en vir vordering rakende geleenthede vir jong mense. Ons reageer op aksies in gemeenskappe waar dienste ontbreek of swak bestuur word. Ons werk aan oplossings rakende studente se kommer oor universiteitsgeld en behuising.”

Gordhan het gesê vanjaar se begroting is gefokus op fiskale konsolidasie. “Ons kan nie geld bestee wat ons nie het nie. Ons kan nie geld leen buite ons vermoë om dit terug te betaal nie. Totdat ons groei kan bespoedig en meer inkomste kan genereer, moet ons streng wees met onsself.”

Gordhan het gesê die regering gaan sy gordel styf intrek deur onder meer beperkings te plaas op die vul van regeringsposte; ʼn nasionale beleid rakende die kostes van reis en verblyf sowel as konferensies; nuwe riglyne rakende die waarde van voertuigaankope vir politieke ampsdraers en verpligte gebruik van die nuwe e-tenderportaal om sodoende deursigtigheid ten opsigte van verkryging te handhaaf.

Lees ook: Begrotingsrede 2016: Só word jou sak geraak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

waarheid ·

Begin sommer by wes kaapse dept van kultuursake en sport waar mense jaaaaare op siekverlof is met pay en bonus.en verhogings! Asook die tenderproses waar toiletpapier vanaf kaapstad na george gestuur word aangesien n kaapse besigheid die tender gekry het!!! En stel die performance bonus snert ook af. Dis net die.amptenare wat in die.bestuurder se.goeie boekies is wat dit kry

PJ ·

Gaan hulle gordel intrek ? Ou zumpie se R4bilj vliegtuig nie gekanseleer

Maddox ·

Ag asseblief, en die maan is van kaas gemaak. Lewe mense werklik in la-la land om te glo die regering sal besteding inperk?. Kyk net nou hoe val die Rand- baie goeie indikasie van wat die wereld dink van hierdie liegstorie.

Johann Marx ·

Ou Parrafientjie verstaan ook nie mooi nie. Daar is een helse verskil tussen “besteding” en “vermorsing”. Met besteding kom iets positiefs tot stand, tot almal se voordeel. Met vermorsing gaan alles tot niet, tot niemand niks meer oor het nie. En, net so tussen ons, werkskepping beteken nie net om meer staatsamptenare aan te stel nie……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.