Begrotingsrede 2017: Hoër BTW sou belastingbasis verbreed het

V.l.n.r. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, president Jacob Zuma en minister van finansies Pravin Gordhan tydens die begrotingsrede (Februarie 2017) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

V.l.n.r. Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, president Jacob Zuma en minister van finansies Pravin Gordhan tydens die begrotingsrede (Februarie 2017) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Dit is jammer dat minister Pravin Gordhan nie die moed gehad het om Suid-Afrika se belastingbasis te verbreed deur BTW te verhoog nie. Met die begroting wat Woensdag aangekondig is, is dit net die handjievol belastingbetalers wat die belastingwa verder moet trek, het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

Groenewald het gesê die begroting van die minister van finansies is nie goeie nuus vir reeds swaar belaste belastingbetalers nie, aangesien persoonlike belasting weer verhoog is.

“Die VF Plus sê dit is jammer dat BTW nie met ten minste ʼn halwe persent verhoog is nie. Sekere basiese voedselsoorte is uitgesluit van BTW en ʼn verhoging sou die armstes van die armes nie geraak het nie.

“Wat ʼn verhoging wel sou beteken, sou wees dat die land se belastingbasis verbreed word. Daar is tans net sowat 4 miljoen belastingpligtiges wat meer as 90% van die land se persoonlike belasting betaal en só moet sorg vir die land se 55 miljoen mense.

“Deur hulle jaar na jaar oor te belas, gaan maak dat die belastingkoei binnekort leeg gemelk gaan wees. ʼn BTW-verhoging sou beteken dat ʼn groter deel van die bevolking sou help om die land se fiskus aan te vul.

“Daar is kommer oor die staatskuld van R2,2 duisend miljard (51% van die land se BBP) wat sowat twee keer soveel is as die inkomste van die staat. Die rente op die skuld beloop R169 miljard per jaar en dit is nie volhoubaar nie. Die minister se mikpunt is om die skuld af te bring tot sowat 48% van die BBP,” het Groenewald bygevoeg.

Hy het gesê aan die positiewe kant is die minister se uitsprake dat hy strenger gaan optree teen korrupte staatsamptenare, dat besteding in die departemente verder ingeperk gaan word en verantwoordbare amptenare verantwoordelik gehou sal word vir ongerymdhede en vermorsing.

“Die belofte is al voorheen gemaak en die VF Plus sal wil sien wat die resultate daarvan is. Die minister moet sê hoeveel amptenare is tot nou ontbloot en vervolg weens korrupsie en die VF Plus sal die vraag aan die minister vra,” het Groenewald bygevoeg. “Hy het voorheen ook gesê dat besparingsmaatreëls toegepas sal word met dinge soos luukse voertuie, konferensies en reis en verblyfkostes. Ons wil hoor wat die resultate hiervan is, anders is dit blote lippediens.”

Volgens Groenewald is dit nogtans duidelik dat Gordhan alles in sy vermoë doen om ʼn stabiele ekonomie te verseker en nieteenstaande vele beperkinge sy begroting so aanwend om aan die een kant die land se sosio-ekonomiese probleme soos maatskaplike toelaes te behandel en aan die ander kant ook beleggers te lok. “Hy kry dit tot ʼn mate reg, maar die probleem is dat al hierdie goeie werk ongedaan gemaak word deur pres. Jacob Zuma. Die oomblik as die president sy mond oopmaak skep hy onsekerheid en vernietig hy al Gordhan se goeie pogings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Die twee aan die linkerkant is die hansworse. Die een heel links is ook nie die oplossing na Zuma nie.

Johann ·

Mnr Pieter Groenewald, waarom gee jy nie eers vir die Pensionarisse ‘n kaartjie vir BTW vrystelling by die betaal punte nie, ek dink hulle het hulle deel vir die land bygedra,dan verhoog jy die BTW na jou smaak

Estie du plessis ·

Stem volkome saam met Johann en dit sou uitstekend gewees het as btw opgestoot sou word maar dan sal alles weer afgebrand word….

Cherokee ·

Gaaf Pieter, hier is van die kommentators wat jou aanstel as minister van finansies sodat jy BTW-vrystellings kan verleen. En net so terloops, vir my was dit ‘n verligting dat BTW nie verhoog is nie. Ons is nou dik dik dik vir allerhande maniere om belasting uit inkomstes waarvoor gewerk word, te put. Belasting wat verdubbel en verdriemaal word soos byvoorbeeld by petrol en padaministrasie. As BTW verhoog word sal dit nie weer verlaag word nie. Laat ons sien of die kruideniers waarvan pryse gesryg het as gevolg van die droogte(s) nou verlaag gaan word. Nee, dit sal eerder weer verhoog word as teenvoeter vir muf in die na toestande.
Ek is bly BTW is nie verhoog nie want BTW is belasting op reeds belaste geld.

Jan maak n Plan ·

is daar nie iets van speak no evil, do no evil of see no evil nie????

Uvonka ·

LOL Jan maak ‘n Plan die gesegde is speak no evil, see no evil, hear no evil maar die drie intrepeteer dit presies na die teenoorgestelde want hulle speak evil, see (to do) evil en hear evil!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.