Begrotingsrede 2017: Vat van rykes om aan armes te gee

Pravin Gordhan

Die minister van finansies, Pravin Gordhan, het volgens ontleders hom redelik goed van sy taak gekwyt om ʼn politieke balans tussen die begrotingsrede en staatsrede te vind. Ekonome is egter bekommerd oor die langtermyn impak van die begrotingsrede op entrepreneurskap, welvaart en werkskepping. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Ontleders het gister na afloop van die begrotingsrede gesê Pravin Gordhan, minister van finansies, teiken die rykes en welvaart om só geld aan die armes uit te deel – ʼn benadering wat nie entrepreneurskap kan bevorder nie en ʼn negatiewe uitwerking op enige toekomstige planne vir werkskepping sal hê.

Sommige ekonome het gesê dit was ten beste die soort begroting wat hulle verwag het, terwyl Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sover gegaan het om dit as “afskuwelik” te beskryf.

“Die staat is soos ʼn reusagtige kankergewas. Dit is al vir baie jare eenvoudig te groot en dit blyk duidelik die minister se planne is om die staat nog verder te vergroot. Dit is ontstellend om te dink ons gaan net aanhou om hierdie monster te voer wat die produktiewe sektor en ekonomie parasiteer.”

Roodt meen hy het ʼn verhoging in persoonlike belasting verwag, maar die tempo het hom verras. “Die koers in verhoging van hierdie belasting is drakonies. Dit is die mense wat reeds die produktiewe gedeelte in die ekonomie is, wat geteiken word. Daardie mense mag dalk net eendag sê hulle is nie meer lus om op so ʼn geweldige mate belas te word nie. Om die waarheid te sê Suid-Afrika is nou die land met die vierde hoogste persoonlike inkomstebelasting in die wêreld.

“Nie net het ons ʼn dramatiese progressiewe inkomstebelastingkant nie, die staat se uitgawes is ook dramaties progressief. Dit beteken jy vat by ʼn klein groepie mense en spandeer hoofsaaklik aan ander mense. Sowat ʼn kwartmiljoen individue in die land is verantwoordelik vir meer as 70% van die totale persoonlike inkomstebelasting. Minder as 30 000 maatskappye is verantwoordelik vir 96% van die land se totale maatskappybelasting.”

Dawie Klopper van PSG Wealth in Pretoria-Oos, het saam met Dawie Maree, ʼn ekonoom van FNB Landbou, Magnus Heystek van Brenthurst Wealth en Wouter Snyman van attooh! die begroting ontleed by ʼn geleentheid wat gister deur Pretoria FM in Silverlakes aangebied is.

Klopper het die begrotingsrede as oninspirerend beskryf. “Dit was ʼn pro-arm begroting, wat fokus op herverdeling en teen welvaartskepping en rykdom is. Die minister het sekerlik sy oog op die volgende verkiesing gehad. Ek sou daarvan gehou het as BTW verhoog is en die minister het nie eers daarna verwys nie.” Klopper meen daar is ook te min indirekte belasting terwyl die begroting te veel direkte belastings bevat.

Snyman meen ook Gordhan het onder groot politieke druk verkeer, terwyl die lae ekonomiese groei van die afgelope jaar hom met min beweegruimte gelaat het.

Heystek het gesê die mense wat deur Gordhan se begrotingsrede se verhoogde persoonlike inkomstebelasting geteiken word, is ʼn krimpende getal mense. “Ons praat van sowat ʼn 100 000 individue. Dit is die groepie mense wat Suid-Afrika juis benodig om werk te skep en nou word hulle wesenlik finansieel seergemaak.” Heystek het verder sy kommer uitgespreek oor die lae ekonomiese groei: “Ek dink nie ons gaan ooit weer die teikens vir groei haal nie. Die minister was elke keer nog optimisties oor die land se ekonomiese groei, net om later te erken dit was nie so goed nie. Die rede hoekom ons nie groei nie is omdat daar nie redes is om te groei nie.”

Ontleders het opgemerk dat Gordhan die woord transformasie minstens 50 keer in sy begrotingsrede gebruik het. “Radikale ekonomiese verandering is beslis nou die gonswoord. Daar was min oor ekonomiese beleid in die begroting, behalwe rondom inkomstebelasting. Die goed wat rondom die begrotingsrede gebeur is nie ekonomies van aard nie, maar eerder sosiale aspekte. Ons het ʼn regering wat op baie groot skaal sosiale ingenieurswese toepas en die begroting is net nog ʼn instrument om hulle spesifieke ideologiese en politieke doelwitte te bereik,” het Roodt gesê.

Hy meen die impak van die begroting gaan mettertyd ondermynend wees vir ekonomiese groei, en dit gaan lei tot groter vlakke van armoede en werkloosheid. “Hierdie was werklikwaar ʼn begroting waaroor ons almal baie bekommerd moet wees.”

Roodt en die rubriekskrywer Max du Preez het saam die begrotingsrede ontleed by ʼn geleentheid in die Brooklyn-teater in Menlopark, Pretoria. Du Preez het Gordhan se begrotingsrede beskryf as “ʼn politieke meesterstuk en die beste wat ons kon verwag”. Volgens hom was Gordhan in ʼn politieke hoek gedryf en die minister van finansies se opponente het as’t ware die tafel vir hom met radikale transformasie gedek. “Die minister het die bal gevat en met hom gehardloop, terwyl hy ook al sy voorbehoude in elke paar sinne ingebou het soos dat die tesourie nie vernietig mag word nie en dat korrupsie en nepotisme uitgewis moet word.

“Dit was vir my interessant dat Gordhan daarin geslaag het om weg te bly van die grondkwessie in sy begrotingsrede terwyl pres. Zuma net oor grond wou praat in sy staatsrede.

“Ons het sekerlik baie om oor ontevrede te wees soos die hoër persoonlike inkomstebelasting en twee brandstofheffings, maar ons moet fyner begin dink oor die politieke magstryd wat hom tans in die regerende party uitspeel,” het Du Preez gesê.

“As ʼn mens tussen die lyne lees kan jy sien die minister sê hy wil die regte dinge laat gebeur, maar dit lyk vir my hy het eenvoudig net nie die politieke ruimte om dit te laat gebeur nie,” het Roodt bygevoeg.

Sy boodskap aan Jan Alleman is: “Die begroting is ʼn aanduiding van wat die realiteit is waarmee ons te doen het. Die staat is al meer ingrypend. Dit is ʼn regering wat voel hulle weet baie beter hoe om ons geld aan te wend, as wat ons self weet. Die regering is wat ʼn mens ten beste as sosialisties kan beskryf en die gevolg van hulle optrede gaan op die ou einde die nadeligste wees vir die mense wat dit die nodigste het, en dit is die arm mense van die land.”

Roodt meen ook die regering verkwis geld op die land se probleme terwyl die oorsaak van die probleme nie aangespreek word nie. “Ongelukkig sal meeste van die land se grootste probleme tyd neem om te herstel en ons weet politici se tydraamwerk of -horison is uiters beperk. Hulle stel maar net belang in die volgende verkiesing. Natuurlik benodig jy ook sterk leierskap hiervoor en ons sit basies met ʼn regering wat om een individu wentel met ʼn reusagtige patronaat om hom wat soos ʼn klomp varke om ʼn trog vreet. Dit is die realiteit – Suid-Afrika kan eenvoudig nie meer hierdie kankergewas verder finansier nie.”

  • Luister na die podsending bo-aan hierdie berig om meer van Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, se ontleding van vanjaar se begrotingsrede te hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jordaan ·

Omtrent 3m belastingbetalers betaal omtrent 99% van alle persoonlike belasting., minder as 1.5m betaal steeds meer as 60% (en seker die meerderheid van BTW, KWB, dividendbelasting ook). Daar is 17m toelaes wat uitbetaal word maandeliks. Iewers moet iets breek.

AL ·

Ons belastingbetalers. 12 miljoen is kinders wie afhanklik is van maatskaplike toelae. Die bevolkingsontploffing moet in toom gebring word – want daardie kinders beland of op straat of raak geharde misdadigers oor armoede omdat hul ouers nie geboortebeperking toepas.

AL ·

Bygevoeg by die sosio-ekonomiese omstandighede van die kinders waarin hulself bevind, wanneer hul in die tronke beland, moet die belastingbetaler nog opdok vir hul tronkverblyf. Die Regering is te sleg om iets aan die kwessies te doen

Ouma ·

Daar is net een raat…..die ANC moet in die volgende verkiesing totaal uitgestem word. Anders bly daar niks van ons land oor nie. Ons het in 1994 al voorspel dat oor 20 jaar die skerwe van ons land bemekaar gemaak sal moet word. Dit word egter nou klein spintertjies om bymekaar te vee. Dit is ons plig om saam te staan en ons land te red van hierdie regering.

Spook ·

Ja vat van die rykes en gee vir die armes en die volgende dag is die arme nog steed arm en die ryke is ook arm en nou is daar nie meer n ryke wat vir die arme kan gee nie. Wie koop die goed wat die armes se lone betaal? Dis nou een som waar uit jy n faktor kan uithaal. die arme. Hou die rykes ryk en hulle sorg vir die arme maar maak hom arm, wat dan ? Ek ag myself nie ryk nie maar ek kan darm kos koop en ek het n dak oor my kop. Ek kon altyd uit eet en wegneem etes bekostig ek kon nuwe klere dra , en mooi skoene koop ek kon lekkers bekostig en n paar biere vir die naweek, ek kon vleis bekostig en n lekker sous daaroor gooi. Maar nou is ek ook arm want die belasting vat baie en nou oorleef ek net met die basiese goed .Niks nuuts nie niks spoggerig en niks ekstra nie. Nou vra jouself wat van die besighede wat aan baie mense werk gee wat al die goed maak wat ek KON bekostig nou begin hulle mense afdank en werkloosheid styg. MAAK DIT VIR DIE RYKES MAKLIK OM BESIGHEID TE DOEN DAN KAN HULLE MEER WERK SKEP EN SAAM MET DIT IS DIT MEER RYKDOM VIR ALMAL

vermeende ·

Nou weet ek waar Zuma geleer tel het, dit was by die blankes van SA.

Ouma jy het in 92 die laaste kans gehad om enige persoon, beleid of party uit te stem, nooit weer nie want demokrasie sal sorg dat die getalle teen jou sal oorweldig.
Neem met liefde kennis, ons is nie in n homogene staat nie, maak vrede daarmee, die stwmbus sal nooit weer vir jou vrede en voorspoed bring nie.

Johann ·

Maroela, waarom neem julle hierdie berig so vinnig van die voorblad af? Dis mos belangrike nuus.

Leendert ·

En hierdie hier bo terwyl meeste kommentators van die nuusmedia vandag sy lof besing het. Hierdie, soos Dawie dit uitgespel het, is nou die realiteit.

Hubrecht Brody ·

Dit is n total SOSIALISTIESE begroting.
Die klein getal groter belasting betalers ( lees wit ) kan nie hiermee volhou nie. Klap hande se Gordham toe hy die 45% aankondig !
Petrol verhoging : Taxis duurder asook alle vervoer dienste… verhoogde kleinhandel pryse en kon netsowel btw verkoog het na 15% en basiese kosse nul .
Stress op privaat mediese fondse; Staat hosp dienste huidig vrot… hoe op aarde gaan hulle die add las absorbeer. MAW hulle wil ons forseer na staats hospitale te gaan en in die q sit !!
Raai my kinders en klein kinders boot te verlaat voordat hulle alles afneem !
Slegste nuus begroting ooit !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.