Begrotingsrede belastingbetalers dalk ‘goedgesind’

(Argieffoto: Maroela Media)

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, lewer Woensdag om 14:00 sy begrotingsrede en hy behoort bestedingseise – ook die verlenging van Sassa-toelae – te balanseer sonder om die begrotingstekort te verhoog, of staat te maak op bestraffende opwaartse aanpassings aan belasting.

Prof. Andre Roux, ʼn ekonoom verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sakeskool, meen veranderings in maatskappybelasting en BTW blyk onwaarskynlik te wees, terwyl ʼn mate van persoonlike inkomstebelastingverligting dalk in verskillende belastingkerwe moontlik is.

“Soos gewoonlik kan jy ʼn styging in sondebelasting verwag. Die styging in brandstofbelasting sal in die lig van ʼn reeds stygende brandstofprys hopelik meer aan bande gelê word,” sê Roux.

Op sommige gebiede is die wêreldekonomie nou, wanneer Godongwana sy begroting ter tafel lê, ʼn veel minder vyandige plek as ʼn jaar gelede toe die voormalige finansminister Tito Mboweni sy begroting voorgelê het. Ekonomiese groei het verlede jaar wêreldwyd kop opgetel ná die verwoesting wat die Covid-19-verwante resessie in 2020 veroorsaak het.

Ekonomie steeds broos

Roux waarsku egter dat dit roekeloos sou wees – en te vroeg – om die matige fiskale verslapping te sien as ʼn aanloop tot beter tye. In die eerste plek is rekenkunde grootliks verantwoordelik vir die oënskynlik indrukwekkende vertoning verlede jaar, met toenames in uitsette wat gegroei het van ʼn veel laer basis in 2020. Die groeivooruitsig vir vanjaar en volgende jaar dui reeds op ʼn verlangsaming in die groeikoers.

Op tuisbodem word ʼn laer groeikoers (2% of minder) vir 2022 en 2023 voorspel.

“Die Suid-Afrikaanse ekonomie kan dalk eers teen die einde van 2024 sy pre-pandemie-BBP per kapita herwin – en dit was toe die ekonomie reeds in die vroeë fase van ʼn resessie was,” sê Roux.

Daar is ook bewyse van ʼn tweeledige ekonomiese herstelproses wat hoofsaaklik gesien kan word in die verskil tussen lande met omvattende en doeltreffende inentingsveldtogte en dié lande wat dit nie het nie.

Mense se kooplus word ook gedemp – nadat die streng afsondering besteding in 2020 alreeds kwaai beperk het – deur ontwrigtings in verskaffingkettings wêreldwyd, sê Roux.

Die aggressiewe stimuluspakkette wat in werking gestel is om die uitwerking van die 2020-resessie teen te werk, het teen hierdie tyd ook grootliks hul rakleeftyd bereik. Vir die eerste keer in meer as ʼn dekade is die inflasiekoers in sommige van die wêreld se ontwikkelde lande nou bo die 2%-kerf, en selfs op vlakke van tussen 6% en 8%. Die VSA en Engeland het reeds begin om monetêre beleid strenger te maak namate rentekoerse van histories lae vlakke af begin toeneem.

In Suid-Afrika bly ekonomiese, finansiële en fiskale toestande ook steeds onder druk. “Die herstel in groei is louwarm en veel laer as wat nodig is om werklik iets te doen aan die driedubbele uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid,” sê Roux.

Werkloosheid is die afgelope twee dekades al hoog en staan tans op ʼn rekordhoë 35%.

Kragtekorte het ʼn groot uitwerking op die produksiekapasiteit van alle sektore van die formele en informele ekonomie.

Suid-Afrika het reeds twee rentekoersverhogings die afgelope paar maande agter die rug en nog is op hande.

Roux sê die kommoditeitsprys-meevaller en ekonomiese bedrywighede kan dalk tydelike fiskale verligting bied. “Struktuurgewys dobbel Suid-Afrika egter met fiskale teëspoed.”

Skuld, skuld, skuld

Staatskuld staan op ongekende vlakke en daar is ʼn werklike gevaar dat maatskaplike toelae, staatsamptenare se salarisse en die koste om skuld te diens, die grootste gedeelte van die regering se inkomste kan insluk. Roux sê ook op langer termyn kan die regering se kapitale besteding, veral aan broodnodige ekonomiese infrastruktuur, verswelg word deur veel minder produktiewe huidige besteding.

Oor die begrotingstoespraak sê Roux Suid-Afrikaners “kan nie en moenie wonderwerke verwag nie”.

“ʼn Begrotingstoespraak is nie veronderstel om ʼn bloudruk vir volgehoue ekonomiese herstel en transformasie te wees nie. Aan die einde van die dag is die begrotingstoespraak ʼn driejaarhersiening van die regering se verwagte besteding en inkomste. Terselfdertyd gee die beoogde toewysing van die inkomste aan verskillende staatsdepartemente ʼn aanduiding van die regering se prioriteitsvoorkeure en doelwitte.”

Hy sê vanjaar se begrotingsrede kan verbruikers, belastingbetalers, burgers en sakeondernemings moontlik goedgesind wees. Die probleem hiermee is egter dat sporadiese en onvoorspelbare gelukskote ʼn beeld skep wat die werklike probleme verdoesel.

Roux sê dit is belangrik dat vanjaar se begroting ʼn ernstige en haalbare bedoeling demonstreer om skuld te verminder.

“Aanneemlike en doenbare optrede sê veel meer as woorde. Indien dit beteken dat daar moeilike en ongemaklike opwegings gedoen moet word wanneer doeltreffendheid teen billid opgeweeg word, is dit wat gedoen moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Renier johannes

Stop julle grands dan het julle geld

Marius

Gratis huise, krag, water en miljarde rande se toelae gaan ons ekonomie breek.

Grassie

Daar is geen wyse waarop hierdie land se flentergat onbevoegde regering die land se finanaasies kan regruk nie. Hul onvermoë spruit voort uit hul sosialistiese denke en ook weens heeltemaal te min grysstof in die boonste verdieping.

Papsak

Ag asb hulle kan hulle self nie eers reg ruk nie patete