Begrotingsrede: Mboweni moet haas uit hoed ruk

Tito Mboweni. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Woensdag is begrotingsdag en gegewe die land se ekonomiese toestand en politieke werklikhede moet die minister van finansies, Tito Mboweni, dringend ʼn haas uit die hoed pluk, maar geen haas of hoed is op die oog af beskikbaar nie.

Fiskale werklikhede soos stygende staatskuld en ʼn dikwels te hoë begrotingstekort is op die oog af onmoontlik om op te los.

Met die gevolglike ekonomiese afplatting wat dit onmoontlik maak vir staatsinkomste om deur ekonomiese aktiwiteit betekenisvol te groei en die verswakte vermoë van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om die belastinginkomste wat daar wel is, in te vorder, moet die minister na ander maniere kyk om die staatskas ʼn bietjie voller te kry.

Een daarvan is die verkoop van staatsbates, maar ondanks die Suid-Afrikaanse staat se absolute en herhaaldelike onvermoë om enigiets van saakmakende omvang finansieel suksesvol of volhoubaar te bestuur, word so ʼn logiese stap gekortwiek deur twee luukshede – nasionalisme en onpraktiese ideologie.

Dié sienings verhoed dat sukkelende nasionale bates soos SAL verkoop word.

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Nasionalisme is uit ʼn liberale hoek alte dikwels die skuilplek van die swakkeling, maar die ergste van hierdie spesifieke SAL-siening is dat dit bykans ondenkbaar siek en immoreel is om soveel geld te vermors op lugvervoer terwyl mense in armoede krepeer.

Juis daarom vra die Transvaalse Landbou-unie (TLU) in sy voorskou tot die begroting dat die ekonomie die politiek moet troef vir ʼn goeie begroting om beslag te kry.

ʼn Ander manier om geld vir die staat in te kry is deur direkte en indirekte belasting. In hierdie verband is dit ʼn onverstaanbare sneller vir jaarlikse gelag in die parlement wanneer die sogenaamde sondebelasting op byvoorbeeld sigarette aangekondig word.

Ekonomies en juridies gesproke is dit egter Suid-Afrika wat vir die gelag betaal, want dit is die oordadige belasting van sigarette wat die ruimte bied vir tabaksmokkelaars om soos paddastoele op te skiet, met gevolglike verlies aan belastinginkomste en ʼn omvattende las op die regstelsel.

Die ander belasting wat elke jaar werktuiglik tot die punt van ekonomiese ongeletterdheid opgestoot word, is die petrolheffing. In hul voorlegging wys die Automobiel-Assosiasie (AA) uit wat die gevolge van só ʼn verhoging op die pryse van vervoer en wesenlik alle verbruikersgoedere sal wees, en vra vir groter deurdagtheid wanneer belasting hierop oorweeg word.

Dat Mboweni op ʼn verhoog staan sonder sigbare hoed en vermoedelik sonder ʼn haas om daaruit te pluk, is waar. Die aanvanklike en onmiddellike sukses van die begrotingstoespraak sal gemeet word daaraan of die krediteringsagentskap Moody’s Suid-Afrika se soewereine welstandstatus na rommelstatus afgradeer.

As dit vermy kan word, sal Mboweni stellig met reg kan beweer hy het ʼn veldslag gewen. Dit sal ʼn prestasie wees, maar dan lê ʼn lang en taai stryd voor om Suid-Afrika weer op die ekonomiese wenpad te kry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Baie maklik, hou op om julle kommunistiese meesters na te volg en gebruik gesonde verstand. Dit neem nie baie verstand om te sien dat die pad waarop ons huidiglik is, oor ‘n afgrond loop nie. Inden nie, is dit nag vir SA.

Werner ·

Niks wat hy se kan ons van rommelstatus af weghou nie bevrees die paw paw slat nou die waaier

Johan Venter ·

Die vlakhaas het nou die aand op die pad tussen Kroonstad en Welkom in ‘n kar se ligte verstar, die kar is oor hom en die res is geskiedenis.

BoerSonderRoer ·

Die haas se reuk van vrot is al weg, so verteer is die haas.

Hy drink Vaaldam riool.

Amanda ·

Die regering moet ophou met sy BEE slimmigheid dan sal meer mense werk kry. Meer sal die vermoe he om belasting te betaal (meer geld in staatskas) meer omset , as gevolg van hoër getal mense wat koop, meer “Vat” word betaal weereens na staatskas. As meer mense koop kan meer vervaardig word en so aan en so aan. MAAR die soustrein verlam die hele stelsel, die hele Suid Afrika!!!!!!!!!!!!!Alles moet afgevat word “mahala” verniet!

Leon ·

Ons moet onthou dat Mboweni is nommer een ‘n lid van of die ANC of die SAKP. So die ANC/SAKP moet die meeste baat vind by die begroting, dan die parlementariërs en kaders en dan eerst die land. So moenie iets intelligents verwag nie. Dit sal maar dieselfde dinge as elke jaar wees. Die bankrot staatsondernemings moet onderhou word en die ANC moet reuse vehogings en bonusse kry.

marius ·

Haas uit die hoed of een Vaal rivier baber op die spit vir die hele nasie ?

BoerSonderRoer ·

Hy moet net die Apartheids wette onder die vaandel van transdormasie uit die grondwet ruk.

Tot dan skop hy ‘n dooie perd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.