Begrotingsrede: Nóg lenings, skuld verwag

Tito Mboweni, minister van finansies, tydens die 2019-begrotingsrede. (Foto: GCIS)

Die regering sal vanmiddag (Woensdag) sy bestedingsplanne vir die 2021-boekjaar uitstippel terwyl Suid-Afrika, die vasteland se mees geïndustrialiseerde ekonomie, sukkel om sy kop op te tel weens die uitbreking van Covid-19 en ʼn ekonomie wat reeds voor die uitbreking van die virus in ʼn resessie was.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, lewer gewoonlik sy begrotingsrede met ʼn vetplant in ʼn pot langs hom. Dié plante is hoogs bestand teen die droogte en word gesien as ʼn simbool van Suid-Afrika se ekonomiese veerkragtigheid.

En veerkrag is wat nodig is ná ʼn jaar van omvattende beperkings op nie net mense se bewegings nie, maar ook ondernemings se vermoëns om sake te doen.

“Daar is nie baie geld nie en ons benodig ʼn pro-armes en ʼn pro-groei-balans,” sê Daniel Meyer, ʼn sakedosent verbonde aan die Universiteit van Johannesburg.

Hy sê belastingverhogings is nié ʼn opsie nie: Duisende mense is weens die pandemie hul werk kwyt en die plaaslike verkiesing lê later vanjaar voor.

Die amptelike werkloosheidskoers in Suid-Afrika staan in hierdie stadium op ʼn rekordhoë 32,5%.

Meyer waarsku dat Mboweni nog geld sal moet gaan leen om sy begroting te finansier, hoewel staatskuld na verwagting die 80%-kerf van die land se BBP gaan verbysteek.

“Skuld neem buite beheer toe,” sê Meyer terwyl hy terselfdertyd maan dat die land se afgradering na rommelstatus verlede jaar lenings selfs duurder maak.

“Mboweni gaan dus die staatsdiensrekening moet sny.”

Suid-Afrika is die Afrika-land wat tot dusver die swaarste deur die koronavirus getref is. ʼn Ramptoestand is in Maart verlede jaar aangekondig en die land het een van die wêreld se strengste inperkings ingestel. Dit is die afgelope paar maande minstens verslap.

Maatreëls om die verspreiding van die virus te stuit het ʼn ses maande lange sluiting van grense ingesluit, en het beteken toeriste en buitelandse kapitaal was vir Suid-Afrika verlore.

Die wêreldwye ekonomiese insinking het beteken inkomstestrome het opgedroog, ontluikende markte het gevou en voorafbestaande probleme is vererger.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het vroeër geraam dat Suid-Afrika se ekonomie verlede jaar met 8% ingekrimp het, terwyl groei van 3% vir vanjaar in die vooruitsig gestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Plaaskind ·

Ek is seker my kat sal beter kan somme maak en beplan as die klomp.

Persheks Adri ·

Nou sny julle salarisse goeie begin punt vir die land pffft

Persheks Adri ·

Wie ookal af duime gooi verstaan duidelik nie dat ek praat van die klomp in die parlement nie! Sny hulle salarisse genade ek praat nie van die gewone mens op straat nie magtag

Werner ·

Dit is nie corona se skuld nie.Die regering is die onbevoegdste ooit .Hierdie land sal nooit regkom deur politiek nie daai dae is verby.

Johanncb ·

Ons is in vir ‘n baie lang en ernstige droogte waarteen vetplante nie bestand is nie!

Peetjie ·

Ag waar is Trevor Manual…hy het die goed seker nog die beste verstaan

LANA is ELANè ·

Dit is so ironies die ANC regering het nog altyd ‘n verskoning gekry oor waarom die ekonomie lyk soos dit lyk, nooit is hulself skuldig aan wanbestuur nie, en die jaar is niks anders nie, die jaar is die maklike uitweg covid, wat vir als die skuld kry en weereens staan die regering bakhand by die wêreldbank en het CR reeds genoem dat ryk lande verantwoordelik is om arm lande finansieël moet dra.
Asof SA ‘n arm land is.
As dit nie vir die rampokkery/wanbestuur/kader aanstellings van regeringsamptenare deur die jare was nie, sou die prentjie heeltemal anders daarna uitgesien het.
Is om van siek te raak, want ek weet Jan Alleman gaan net steeds in die vorm van belasting betaal om hul rowery aan die gang te hou.
Ek het geen vertroue in CR dat dit enigsins anders gaan gaan as in die verlede ~ hy het nie ooghare vir blanke mense nie.

Herpiet ·

Nou WIE leen NOG miljarde vir hierdie onbevoegde bankrot staat van ons? Of druk hulle geld? Ieder geval gaan dit katastrofiese gevolge hê.

pokkel ·

As Tito weer ‘n plant wil soek moet hy maar by The Little Shop of Horrors gaan kyk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.