Begrotingsrede: Nuus oor brandstofheffings verwelkom

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het die nuus dat die minister van finansies Woensdag tydens sy begrotingsrede nie brandstofheffings verhoog het nie, verwelkom.

Minister Enoch Godongwana het terselfdertyd “ʼn hersiening van alle aspekte van die brandstofprys” aangekondig ná voortgesette veldtogte en ʼn petisie deur die AA wat die herhaaldelike brandstofprysverhogings bevraagteken het.

Die AA het vroeër ʼn beroep op die minister gedoen om nie die twee grootste heffings op die brandstofprys (die algemene brandstofheffing en Padongelukkefondsheffing) te verhoog nie. Dié twee heffings word tans gekombineer en dra R6,11 by tot elke liter brandstof wat in Suid-Afrika verkoop word.

Die AA het ʼn beroep op die minister gedoen om nie dié heffings te verhoog, soos wat in vorige jare gebeur het nie, en gesê só verhoging sal skadelik wees vir die ekonomie, die armstes van die land die ergste raak en lei tot verhoogde pryse op goedere en dienste, veral aangesien brandstofpryse na verwagting weereens rekordhoogtes in Maart sal haal.

“Dit is ʼn landmerk-oorwinning vir alle verbruikers, nie net motoriste nie,” sê die AA. “Alhoewel brandstofpryse waarskynlik steeds sal verhoog, is die bykomende las van hoër belasting nou uit die weg geruim. Ons is natuurlik baie dankbaar dat ons pleidooi beantwoord is.”

Die AA verwelkom ook minister Godongwana se aankondiging dat hy en die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, alle aspekte van die brandstofprys sal hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

R 6.11 per liter wat in ‘n bodemlose put verdwyn. Dit eindig op in skelms se sakke.

Wiehann ·

Dit voel of die wa voor die is gespan word. Laat ons eers sien wat die nuwe formule oplewer. Dit vat dalk 10 jaar voor hul dit in plek kry. Kos pryse wissel ongelukkig nie soos die petrol prys nie.

Christine ·

Dis nie genoeg nie, maar darem ‘n begin. Die brandstofprys in die geheel moet voor die hof gedaag word om dit te bestry. Die prys maak ons dood en jaag alle ander pryse op.

Josua ·

Hier is geen oorwinning om te vier nie dis snert, ons betaal deur ons ore vir petrol om nie eens van kos te praat nie, die tyd het aangebreek om werk in die land te skep en beleggers SA toe te lok sodat mense kan werk vir n inkomste en hierdie grand snert n einde kry, pensioenarisse se inkomste kan verhoog word maar teveel geld word gebruik om mense wat werkloos is te help, werk moet vir hulle geskep word dan sal ons deur ons ore hoef te betaal vir petrol nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.