Begrotingstekorte strem bouwerk by skole

Puttoilette by ‘n skool in die Oos-Kaap. (Foto: Equal Education/Twitter)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sê begrotingsbesnoeiings gaan die departement striem om sy infrastruktuurteikens te bereik en dat dit ʼn “negatiewe uitwerking” gaan hê wat betref die haal van die minimum standaarde vir staatskole.

Motshekga het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA gesê die besnoeiings gaan boonop ook beteken dat vervalle skole nié ingevolge sy inisiatief vir versnelde skoolinfrastruktuur (ASADI) soos beplan opgeknap kan word nie.

Wat betref beoogde infrastruktuurprojekte by skole het Motshekga gesê “provinsies gaan hul planne moet aanpas en beoogde projekte moet uitstel wat weens die besnoeiings nie gefinansier kan word nie”.

Onderwys ontvang een van die grootste snye van Suid-Afrika se begrotingskoek en in sy begrotingsrede vroeër vanjaar het die minister van finansies, Tito Mboweni, nagenoeg R262,4 miljard aan die departement van basiese onderwys toegewys. Die grootste gedeelte hiervan word aan salarisse bestee.

Meer as R30 miljard is begroot vir die bou van nuwe skole en die instandhouding van bestaande infrastruktuur. ʼn Bykomende R2,8 miljard is ook bygevoeg tot die skoolinfrastruktuuragterstand-toelaag om puttoilette by meer as 2 400 skole met behoorlike geriewe te vervang.

KwaZulu-Natalse leerders op pad skool toe. (Foto: Equal Education/Twitter)

“Dit is ʼn duidelike aanduiding van hoe die ANC se wanbestuur van die landsekonomie nou toekomstige geslagte leerders begin raak. Hulle gaan heel waarskynlik nie toegang hê tot die voorreg van onderwysinfrastruktuur en ontwikkeling wat ons jong leerders so broodnodig het nie,” het Desiree van der Walt, die DA se woordvoerder oor onderwys, gesê.

“Die nasionale regering hou aan om miljarde rande se reddingsboeie aan Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Denel en andere te gee, terwyl hy eintlik miljarde aan onderwys moet bestee.

“Die minister se antwoord is ʼn aanduiding dat begrotingsbesnoeiings, wat ongetwyfeld die gevolg is van die druk wat staatsbeheerde ondernemings op die staatskas plaas, nou ook ʼn uitwerking gaan hê op die departement se vermoë om bouprojekte af te handel.”

Van der Walt het gesê om die departement se begroting vir infrastruktuurontwikkeling te verminder, is soos om ʼn reddingsboei van hoop weg te neem van leerders wie se enigste kans om hul lewe en omstandighede te verbeter deur onderwys is.

“Begrotingsbesnoeiings en projekte wat stilstaan, beteken nie net ʼn gebrek aan infrastruktuur nie, dit simboliseer ook ʼn voortgesette gebrek aan geleenthede vir leerders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Feite ·

Toe daar nie begrotingsbesnoeiings was nie het die ANC se onderwysdepartement doelbewus deur wanbestuur ook nie infrastruktuurontwikkeling teikens gehaal nie. Die begroting wat dus wel beskikbaar is, sal dus ook nie die infrastruktuurontwikkeling teikens binne die begroting behaal nie, want die wanbestuurderkaders van staatskaping is steeds in diens!

Gemaskerde Sopbeen ·

Feite, dis miskien so……..maar nou is daar ‘n “explanation”!! Wasn’t me!!

Jacques ·

Moet die volk enigsins verbaas wees dat die teikens nie gehaal gaan word nie ?????? Met al die fondse wat spoorloos verdwyn is dit niks snaaks dat daar nie fondse is om die land te bou of te herbou nie . Vertel ons eerder iets wat ons nie weet nie .!!!

André-Chris ·

Maar me Angie, as julle nie eens die minimum vir staatskole gaan bereik nie, sal daar die genoeg klaskamers wees waarin julle seks kan onderrig nie, dan maar sommer onder ‘n boom?

Bert ·

Wonder wat sou ‘n werknemer van saa of denel gesè het as SY kinders so moes skoolgaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.