Kragkrisis: ‘Moeilike winter’ wag

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die lewering van sy begrotingstoespraak Woensdag in die Nasionale Vergadering in Kaapstad. (Foto: Fikile Marakalla / GCIS)

Die regering se hoogste prioriteit is om beurtkrag te beëindig en energiesekerheid te bereik, het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag gedurende die presidensiële begrotingstoespraak by die Nasionale Vergadering in Kaapstad gesê.

Ramaphosa het gewaarsku dat ʼn “moeilike winter” vir Suid-Afrikaners voorlê wat beurtkrag betref, maar verseker dat die kanse op ʼn nasionale ineenstorting van die kragnetwerk “uiters laag” bly.

“Daar is baie beskermingsmaatreëls ingestel om só iets te voorkom. Beurtkrag stel Eskom in staat om die balans van die kragstelsel te alle tye te verseker.”

Ramaphosa het die Nasionale Vergadering verseker dat die regering se kragplanne “op dreef” is.

Dié planne vorm deel van die omvattende aksieplan wat die president in Julie verlede jaar aangekondig het om die energiekrisis te hanteer. Hy het ook die nasionale energiekrisiskomitee (Necom) op die been gebring en later vir Kgosientsho Ramokgopa as minister van elektrisiteit aangestel.

“Ons het oor die afgelope nege maande vordering gemaak met die implementering van die maatreëls wat ons in die energie-aksieplan uiteengesit het,” het Ramaphosa Woensdag gesê.

“Eerstens, in ooreenstemming met ons ekonomiese hervormings in netwerkbedrywe, het ons die private sektor toegelaat om in elektrisiteitsopwekkingsprojekte van enige grootte te belê.

“Daarna is meer as 100 projekte nou in verskillende stadiums van ontwikkeling, wat meer as 10 000 MW se nuwe opwekkingskapasiteit en meer as R200 miljard se belegging verteenwoordig.”

Ramaphosa het voorts gesê die eksponensiële groei van beleggings in die private sektor is ʼn bewys dat hierdie hervorming ʼn groot uitwerking het en die tekort aan kragvoorsiening aansienlik sal verminder.

“Provinsies soos die Noord-Kaap het minstens R100 miljard se beleggings in hernubare energie gelok, en beleef tans goeie ekonomiese groei wat ook tot werkskepping lei.

“Die regering het ook die verkryging van nuwe opwekkingskapasiteit versnel. Drie projekte van die risiko-versagtingsprogram is nou op dreef, met ʼn verdere vyf projekte wat na verwagting gedurende hierdie kwartaal finansieel beklink sal word.”

Volgens Ramaphosa is projekooreenkomste met 25 voorkeurbieërs onderteken, wat uiteindelik 2 800 MW tot die kragnetwerk sal voeg, waarvan 784 MW reeds in wording is.

Die president het voorts gesê die regering sal oor die volgende paar maande die verkryging van meer as 10 000 MW se bykomende opwekkingskapasiteit van wind-, son-, gas- en batteryberging bekom, wat verder sal bydra om kragtekorte te verminder.

“Ons het munisipaliteite ook in staat gestel om krag onafhanklik te bekom.”

Volgens Ramaphosa het munisipaliteite oor die afgelope paar maande reeds 1 500 MW se bykomende krag bekom.

Die regering gaan ook voort met die proses om Eskom te ontbondel in “afsonderlike entiteite vir opwekking, transmissie en verspreiding”.

Ramaphosa sê vordering is reeds hiermee gemaak, onder meer die vestiging van die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika as ʼn onafhanklike filiaal van Eskom.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is getaak om te verseker dat ʼn onafhanklike direksie vir dié maatskappy teen Junie aangestel word.

Oor Eskom se skuldlas het Ramaphosa gesê die 2023-begroting het R254 miljard se skuldverligting aan Eskom bewillig. Hy meen dit sal die druk op die kragvoorsiener se balansstaat verlig, wat dit in staat sal stel om die nodige instandhouding te doen en die herstrukturering van die elektrisiteitsmark te ondersteun.

Volgens Ramaphosa streef die regering ook na “ingrypende wetgewende hervorming om die energiekrisis eens en vir altyd te beëindig”. Daarvoor is die samewerking van die hele Nasionale Vergadering nodig.

“Ons het reeds die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering bekendgestel, wat poog om ’n mededingende elektrisiteitsmark te vestig en die ontbondeling van Eskom te ondersteun.

“Dit sal die elektrisiteitsektor, soos ons dit ken, aansienlik transformeer en sal ’n gelyke speelveld skep vir verskeie kragopwekkers om deel te neem aan die opwekking van die energie wat ons nodig het.  “Ons sal binnekort nog ’n belangrike stuk wetgewing, die Wetsontwerp op Energiesekerheid, bekendstel om die regulatoriese raamwerk te vereenvoudig en die inwerkingtreding van hernubare energieprojekte te versnel.”

Ramaphosa het ’n beroep op lede van die Nasionale Vergadering gedoen om dié wetgewing in rekordtyd deur te voer, terwyl hulle by die vereiste parlementêre prosesse hou.

“In krisistye moet ons saamstaan en die belange van Suid-Afrikaners bo alles stel.”

Moeilike winter wag

Ramaphosa sê ondanks hierdie vordering wat reeds gemaak is, boer Eskom se opwekkingsvermoë steeds agteruit – onder meer weens Eskom se ouderdom en swak instandhouding.

“Daar lê ʼn moeilike winter voor, aangesien die vraag na krag toeneem en verskeie eenhede by die Medupi-, Kusile- en Koeberg-kragstasie tans herstel word en van lyn af is. Hierdie ses eenhede alleen verteenwoordig ongeveer 4 500 MW se kapasiteit, of tussen vier en vyf stadiums van beurtkrag.

“Die situasie sal verbeter soos ons hierdie eenhede teen die einde van vanjaar weer in werking stel. Tot dan moet ons poog om die erns van beurtkrag te beperk deur die druk op die netwerk te verminder.”

Ramaphosa sê die publiek kan help om druk op die kragnetwerk met tot 1 000 MW te verminder deur onder meer ligte en kragtoestelle af te skakel wanneer dit nie gebruik word nie, geisers se hitte te verlaag en swembadpompe af te skakel.

Hy benadruk verder dat die regering steeds verbind bly om Suid-Afrika se koolstofvrystellings teen 2030 te verminder, maar sê dat dit dalk nodig sal wees om die uitdiensstelling van steenkoolkragstasies tydelik uit te stel om die land se tekort aan kapasiteit te hanteer.

“Terselfdertyd sal ons die tempo van investering in nuwe hernubare elektrisiteitsopwekking verder versnel as ʼn belangrike deel van die plan om beurtkrag te oorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Harley Davidson ·

Hy verwys na ” beplanning ” dit is die anc se probleem hulle kan nie beplan nie en die nagevolge is duidelik sigbaar in suid afrika vandag.

Geert ·

Nee wat Cyril dit sit nie in die ANC se broek om iets behoorlik te bestuur nie. Julle het oor en oor bewys dat alles waraan julle raak in bollie verander. “Talk is cheap money buys the Whiskey”

LANA is ELANè ·

Miskien moet die regering net ophou om ons eerstegraadse steenkool uit te voer na oa Nederland en Duitsland en dit op tuisfront in ons eie steenkool kragstasies gebruik.
Hierdie sg groen-energie is net ñ klug en word georkestreer deur die WEF wat beslis niemand, behalwe hul eie belange op die hart dra nie.
Terwyl die ANC regering hulself kan verryk uit die krisis waarin die land hom bevind en self kwytgeskeld is van die ongerief tov beurtkrag wat dit veroorsaak aan die gewone en armstes van die armes, en dan praat ons nie eers ekonomie hier nie.

Elma ·

Die “afgelope nege maande se vordering” wat julle gemaak het, is DUIDELIK SIGBAAR.

Vettiemaragartos ·

Wat die kabinet se kragopwekkers weg en dat hul ook loadshedding beleef so die res van die land. Dan sal julle sien hoe vinnig word daar planne gemaak.

Herman L ·

Die regering het skielik agtergekom dat die tekort aan krag hulle baie stemme gaan kos. Nou val hulle oor hulle voete om iets daaraan te doen. Ons kan net hoop dat dit te min, te laat is soos gewoonlik. Hulle verwag dat ons nou moet help om die gemors reg te maak, maar hulle het nog nooit hulle werk behoorlik gedoen nie. Daarom lyk die land al hoe meer na ‘n plakkerskamp!

annie ·

Gaap! Jare gelede wou boere biobrandstof maak. Hulle wag nog vir goedkeuring. Ons kan doen sonder ‘n president. Om so niksseggend te wees is erger as ‘n swak graad 1 -onderwyser. Miskien moet hy maar Phala gaan oppas sodat die matrasse nie ook oopgesny word nie…

Anton ·

Dis net die ongeskoolde cANCer lede wat hulle nog glo. As hulle monde oopgaan, lieg hulle!!!!!

Sean ·

En so val die wiele af Dit gaan so as 90% van die inkomste aan salarisse en bonusse gaan

JvR ·

Hierdie klink na daardie copy and paste speeches wat die prezzie elke dan en wan deur lockdown gegee het. MAW. Nie sy eie woorde. Voorgeskryf.

SjN ·

Eskom vra dat krag nie gebruik word nie, Randwater vra dat kraan water nie gebruik word nie, Wag vir Sars om te vra dat tax nie betaal hoef te word nie.

Vanessa ·

Ek is jammer, maar ek glo ongelukkig nie ‘n woord nie. Ek wil dit eers sien.

Jacobus ·

Nou weet ek nie meer – gedurende sy jollifikasies oorseeverkoop jy ons vermoeë om krag op te wek deur aan te bied om kragstasies te sluit om van vuil lug ontslae te raak – en terselfdertyd verkoop hy ons steenkool hand-oor-hand. Alles natuurlik teen ‘n fooitjie! Sy medekaders sit snoesig in hulle tuistes terwyl ons en ons besighede krepeer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.