Begunstiging in ANC ‘springlewendig’

Ramaphosa tydens die aankondiging van sy kabinet. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa se kabinet wys “begunstiging in die ANC is steeds springlewendig”.

Dít volgens Mmusi Maimane, DA-leier, wat gesê het die aanstelling van die adjunkpresident (David Mabuza) en ministers in die kabinet was Ramaphosa se eerste groot toets, ná sy beloftes van ʼn skoonmaakproses en ʼn sterk standpunt teen korrupsie.

“Ongelukkig het Ramaphosa faksiebelange in die ANC bó landsbelang gestel,” het Maimane gesê.

Ramaphosa het Woensdagaand sy nuwe kabinet aangekondig.

Volgens Maimane het Suid-Afrikaners groot verwagtinge van verandering en hernuwing vir dié administrasie gehad, maar het Ramaphosa die oorlewing van die ANC eerste gestel.

Die DA het veral kritiek gehad op Ramaphosa se aanstelling van Mabuza, Fikile Mbalula as minister van vervoer en Gwede Mantashe as minister van minerale hulpbronne.

Maimane sê Ramaphosa se aanstellings in die ekonomiese groepering dui daarop dat hy geen nuwe planne het om die land se werkloosheidskrisis te pak nie. Tien miljoen Suid-Afrikaners is werkloos en die land steier onder die hoogste jeugwerkloosheidsyfers ter wêreld.

“Suid-Afrika verdien in dié stadium ʼn uiteenlopende, bevoegde kabinet wat nie ʼn onderhandelde skikking tussen faksies is nie, maar eerder ʼn span toegewyde individue wat Suid-Afrika kan lei,” het Maimane gesê.

Die kabinet is tot 28 portefeuljes verklein. Volgens die DA wys dit dat Ramaphosa, soos sy voorgangers, lojale kamerade in die ANC met kabinetposte beloon.

“Om die ministers minder te maak en die adjunkministers meer, flous Suid-Afrikaners nie. Hy het die geleentheid gehad om sy eie kabinet saam te stel, maar het die ANC se oorlewing bo dié van Suid-Afrikaners gestel,” het Maimane gesê.

Die DA sê Ramaphosa, wat hom al telkemale tot die stryd teen korrupsie verbind het, moes sy kabinet selfs verder verklein het.

Maimane het gesê die president moet dadelik ʼn leefstyloudit van al sy kabinetslede laat doen, soos die DA-geleide Wes-Kaapse provinsiale regering onlangs aangekondig het hý gaan doen.

“Doen weg met BBP-beskerming van alle kabinetsministers en verseker elke prestasiebestuurskontrak van ministers dien voor die parlement vir oorsig deur die betrokke portefeuljekomitee,” het hy gesê.

Maimane het gesê hy gaan binnekort sy skadukabinet aanstel en deur hulle die uitvoerende gesag verantwoordbaar hou.

“Die president se kabinet moet die land aan die gang kry en ʼn werk in elke huis in Suid-Afrika skep vir diegene wat steeds buite die ekonomie staan. Soos ek al telkemale tevore gesê het, as die president die land en sy burgers eerste stel, sal hy deur die bank steun in die parlement kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Ons belastingbetalers het beskerming teen die Kakistokrasie nodig…. ..ook BBP Beskerming onder meer teen die mal petrolprys om maar een te noem! Sport, Polisie en nou Vervoer se nuwe mini-ster” het n groot taak op sy skouers. As hy ons ouens met “Common Sense” se GRATIS en verniet raad/insette as ” konsultante” oor die slagting op ons paaie weens oa. roekelose en nalatige bestuur, blatante
ignorering van padverkeersreels oor n wye veld (nie net die taxis nie), padwaardig heid van voertuie, asook algemene padvarkerige gedrag wat insluit “selfoon-” bestuur/dryf, sal oorweeg, kan hy n Flippen goeie mini-ster word. Ander ouens kan hom weer oor die vervoer-aspekte van sy oortefuelje bystaan/help!!!

Linda ·

Hierdie is n goed gebalanseerde Kabinet as in ag geneem word dat Mabuza n moontlike staatsgreep wou uitoefen. DA is naar oor Patricia de Lille se aanstelling ! Tyd vir DA om sy eie huis te begin regstel en om op te hou instruksies van Malema neem !!!

kolla ·

Dis die eerste worrd wat ek hoor die DA het iets te sê oor antie Pat se aanstelling. Is jy lief om storietjies op te maak? Persoonlik dink ek nie dit is ‘n goeie aanstelling nie.

sweis ·

Dit is die verskil tussen Ramaposa en n regte leier soos Presedent Trump ,presedent Trump hoef nie bang te wees die tribe skop hom uit uit nie hy sou die beste persoon kies vir sy adjunk en sy land.

KrokodilBotha ·

Solank hulle ondersteuning kry, veral die kaapenaars, sal dit nooit gebeur. Die DA is vir regstellende aksies ensv.

kolla ·

Hoekom moet hy? Dis tans hul beleid om BEE en regstellende aksie te steun. As jy nie saamstem nie, stem dan vir iemand anders en hou op moan daaroor.

Penellope Jones ·

Die ANC sal nooit enigiemand of iets anders begunstig nie – alles net vir hulself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.