Behandeling gee Oos-Rand-baba kans op normale lewe

(Foto: Verskaf)

Die 11 maande oue Hanru van der Merwe van Brakpan het die eerste operasie ondergaan om sy gesplete lip en verhemelte reg te stel.

Hanru se pa en ma, Ruan en Angelique van der Merwe, is verheug dat hul eersteling dié behandeling ondergaan het.

“Hy is so ʼn kosbare seuntjie en sy gesplete lip en verhemelte het nie net ʼn uitwerking op sy voeding en spraak nie, maar ook op sy gesondheid, aangesien hy herhaaldelik oorinfeksie kry wat tot gehoorverlies kan lei,” sê Van der Merwe.

“Ons is baie dankbaar teenoor die Netcare-stigting, prof. Tim Christofides, Hanru se chirurg, die Netcare Sunninghill-hospitaal en almal wat gehelp het om dit vir Hanru moontlik te maak om hierdie operasie te ondergaan wat sy lewe kan verander.”

Van der Merwe en sy vrou is tans werkloos en was so desperaat vir hulp dat hulle die Facebook-groep “Hulp vir Hanru” gestig het.

“Hanru was op ʼn waglys vir die operasie, maar Alet Cloete, ontvangsbestuurder van Netcare Sunninghill-hospitaal, het die Facebook-blad gesien en Hanru se lot onder die aandag van Pieter Louw, die hospitaalbestuurder, gebring,” sê hy.

“Pieter het ons aangemoedig om by die Netcare-stigting aansoek te doen vir finansiering vir Hanru se behandeling. Ons is so dankbaar dat hy dit gedoen het, want Hanru het nou die eerste operasie gehad.”

(Foto: Verskaf)

Die Netcare-stigting, wat toegang tot gesondheidsorg vir ekonomies benadeelde pasiënte vergemaklik, het ingestem om te help en Hanru het ʼn eerste afspraak op 2 Oktober met Christofides gehad.

Christofides en sy span het op 16 Oktober die operasie om Hanru se lip en neus reg te stel, voltooi. Hanru se operasie was suksesvol en hy herstel tans tuis.

“Ongelukkig kan ʼn gesplete lip en verhemelte ʼn negatiewe uitwerking op die ontwikkeling van ʼn kind hê,” sê Christofides. “Dit is dus die beste om ʼn operasie te doen terwyl kinders nog relatief jonk is en dit nog nie die kind se selfvertroue beïnvloed het nie.

“ʼn Gesplete lip en verhemelte kan ook spraak en selfs die voeding van ʼn baba belemmer, omdat hul dikwels sukkel om melk te sluk.”

Volgens Christofides moet gespletelip-korrigeringsbehandeling ideaal gesproke op enigiets van drie tot ses maande gedoen word. Die [werk aan die] gesplete verhemelte kan op nege maande gedoen word om te verhoed dat die toestand ʼn negatiewe impak op spraakontwikkeling het.

“Om ʼn gesplete lip en verhemelte te behandel is ʼn proses. Die behandeling om Hanru se gesplete lip en verhemelte te herstel, is die eerste in ʼn reeks wat nodig sal wees om sy lip en verhemelte heeltemal te herstel,” sê Christofides.

“Dit is nie net die operasie wat belangrik is nie, maar ook die ondersteuning wat ná die operasies verleen word. Spraakterapie moet die kind help om te leer om behoorlik te kommunikeer en selfvertroue op te bou.”

ʼn Gesplete lip en verhemelte kan die gevolg van ʼn genetiese ingesteldheid wees, maar die presiese oorsaak daarvan is nog onbekend. Dit kom veral voor as die weefsel, spiere en soms bene nie behoorlik tydens swangerskap ontwikkel nie.

“Baie Suid-Afrikaanse ouers besef nie dat die lewenskwaliteit van kinders wat met ʼn gesplete lip en verhemelte gebore is, drasties kan verbeter as hulle hulp kry nie. Daar is altyd ʼn manier om hulp vir jou kind te kry.”

Die Van der Merwes sê die hulp wat Hanru tot dusver ontvang het, is ʼn seëning van God.

“Ek was bekommerd dat die lewe vir my seuntjie moeilik sou wees. Hanru is so spesiaal, maar op grond van sy voorkoms het ander dit nooit geweet nie. Nou sal ons spesiale seuntjie net soos ander kinders die geleentheid kry om ʼn normale lewe te lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanF

Wonderlik…..

Casper

Dankie aan almal wat die operasies vir Hanu mointlik mask.Ek weet hoe kinders jou kan spot oor jou gebrek,ek is self daar deur.Ek is met ‘n skeeloog gebore en alhoewel ek dit so klompie jare terug laat reggemaak het bly die spottery jou altyd by.Selfs nou nog maak grootmense opmerkings oor my gebrek want my oog kan nie beweeg nie. Sterkte kleinding.

Cecilia

Aaaah hy so cute. Daar is nog dr in d wereld wat omgee en nie net geld na jaag nie.

Sandy

Hanru – jy is die pragrigste seuntjie! Jitte en daardie mooi wimpers.!!!!

Mad Mike die Rhodesiër

Goeie nuus vir hierdie kleinding! En nog ‘n teken dat ons nader aan die einde is as wat baie mense wil besef.