Behandeling in Texas dalk kleuter se ‘laaste kans’

Janique Venter. (Foto: Back a Buddy)

Peperduur behandeling in die VSA kan dalk klein Janique Venter (4) van Bloemfontein in die Vrystaat se “laaste kans” op oorlewing wees.

Janique was maar ses maande oud toe fase 3-neuroblastoomkanker by haar gediagnoseer is.

Neuroblastoom is ʼn seldsame kanker waar gewasse uit onvolwasse senuweeselle in verskeie dele van die liggaam ontwikkel.

Haar ouers kon dit egter tot dusver nog nie oor hul harte kry om die kankernuus aan hul borrelende dogtertjie te breek nie. Hoewel haar gesondheid toenemend agteruitgaan, is Janique ook nie bewus van hoe ernstig haar toestand werklik is nie.

“Janique het altyd ʼn glimlag op haar gesig, ondanks die pyn wat sy weens talle prosedures moes verduur vandat sy ʼn baba was. Ons kan onsself net nie sover kry om vir ons kleinding te sê sy het kanker nie. Ons sê vir haar sy het ʼn ‘gogga’, en dat Jesus besig is om dit weg te vat,” sê Janique se ma, Nadine.

Janique Venter. (Foto: Back a Buddy)

Die kleuter het al verskeie behandelings in Suid-Afrika ondergaan wat tot dusver geen vrugte afgewerp het nie. ʼn Operasie kan boonop lewensbedreigend wees aangesien die gewas aan die kant van Janique se nek sit.

Luidens ʼn inskrywing op ʼn Facebook-blad wat aan Janique toegewy is, ontvang sy tans bestraling.

Dié behandeling laat haar keel baie sensitief en seer. Gevolglik eet sy nie goed nie en bring gereeld op weens die slym wat in haar keel opbou.

Die gesin hoop om hul dogtertjie binnekort na Houston, Texas, te neem om geengeteikende antineoplastoon-behandeling te ontvang. Dít lewer glo hoogs belowende resultate met die behandeling van neuroblastoomkanker.

Karin Harmse, stigter van die Arms of Mercy-organisasie, staan die gesin tans by om Janique so gou moontlik by die Burzynski-kliniek te kry. Sy het ook ʼn geldinsamelingsinisiatief op Back a Buddy van stapel gestuur in die hoop om genoeg geld bymekaar te maak om die behandeling te dek. Dit kan glo meer as R750 000 kos. Daar is tot dusver R3 000 ingesamel.

Volgens Harmse kan dit Janique se “laaste kans” wees.

“Janique wag al langer as 15 maande vir haar wonderwerk en die tyd raak min. Sy is baie na aan my hart en ek kan net nie meer die pyn verduur nie. Maak asseblief jul harte vir hierdie kankervegtertjie oop en deel haar storie wyd en syd,” het Harmse in ʼn verklaring op Back a Buddy gepleit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.