Beheerliggaam ruggraat van skool; gaan stem – dept

(Argieffoto: Elaine Krige)

Die beheerliggaam is die “ruggraat van ’n skool”, en daarom moedig die departement van basiese onderwys alle toepaslike rolspelers aan om vandeesmaand aan skole se beheerliggaam-verkiesings deel te neem.

Die SBL-verkiesings vind landwyd in Maart vanjaar plaas. Meer as 250 000 SBL-lede moet verkies word by die land se 22 511 openbare skole.

“Ons nooi alle geskikte rolspelers – ouers, onderwysers, skoolpersoneel, hoërskoolleerders en die gemeenskapslede om deel te neem en hul sê te sê,” het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Dinsdag gesê.

“Volgens wet is skoolbeheerliggame die ruggraat van skoolgemeenskappe. Hulle verseker dat ons skole nie bloot net onderriginstellings is nie, maar bakens van hoop, karakter en gemeenskapsgees. Hul impak is diepgaande en verreikend, met verantwoordelikhede wat finansiële bestuur, beleidsformulering en personeelaanstellings insluit.”

Volgens Motshekga wys navorsing dat skole met betrokke beheerliggame op verskeie vlakke presteer. Dit sluit akademiese prestasie, die welstand van leerders en gemeenskapsbetrokkenheid in.

“Die verband tussen betrokke beheerliggame en die sukses van ’n skool is onmiskenbaar. Skole met hoë SBL-deelname het gemiddeld ’n slaagsyfer van 20% hoër as dié met laer SBL-betrokkenheid.

“Boonop neem voorvalle van vandalisme en stokkiesdraai aansienlik af in skole met aktiewe beheerliggame. Dit is ook nie net statistieke nie, maar dwingende bewyse van die krag van aktiewe deelname.”

Motshekga sê voorts SBL-verkiesings dra geweldig gewig. Benewens dat dit demokrasie verteenwoordig, bied dit ook die geleentheid vir ouers, opvoeders en gemeenskapslede om hande te vat en tot die verbetering van skole by te dra.

In dié lig hiervan is die onderwysdepartement tot ’n beheerliggaam-verkiesing met “onwrikbare integriteit” verbind, aldus Motshekga.

Sy meen besluite wat nou geneem word, kan bepalend wees in die toekomstige opvoedkundige landskap in Suid-Afrika.

“Die oproep tot aksie vandag is eenvoudig maar kragtig: Raak betrokke. Of jy jouself verkiesbaar stel of net jou stem laat hoor, jou bydrae geld en dra groot gewig.

“Dit beïnvloed nie net die toekoms van ons kinders nie, maar ook die vorming van ons nasie.”

Die Federasie vir Suid-Afrikaanse Beheerliggame (Fedsas) het ouers vroeër vanjaar al aangemoedig om aan die SBL-verkiesing deel te neem.

Fedsas beskryf vanjaar se verkiesings as “’n maak of breek vir onderwys in Suid-Afrika”, veral in die lig van die omstrede Bela-wetgewing – die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys – wat in ’n gevorderde stadium is.

Dié wetgewing bevat talle veranderinge wat skoolgemeenskappe gaan stroop van hul sê in hoe openbare skole bestuur word.

“Die algemene verkiesing later vanjaar sal ’n groot invloed hê op die beleidsrigting vir onderwys vir minstens die volgende vyf jaar,” het dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Nou verstaan ek nie mooi nie. Die Bela wet wil beheerliggame van hul magte stroop, soos ek verstaan, maar aan die anderkant moedig die onderwys minister die verkiesing aan want dit is die ruggraat van die skool! Hoekom het sy dan nie in die eerste plek gesê dat die wet nie water dra nie!!! Al wat ek kan sê, is mense met ki ders op skool, gaan doen julle plig en woon die vergaderings by julle skole by.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.