‘Beheerliggame moet self oor skole se opening besluit’

Angie Motshekga. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, se onverwagse en onverklaarbare uitstel van die aanvang van kontakonderwys verwerp.

Volgens die SOS dien die besluit nie die beste belang van leerders en onderwysers nie. Die demokraties verkose beheerliggame van skole moet die reg hê om saam met skoolbestuurspanne oor die heropening van skole te besluit, het Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, gesê.

“Hulle ken hul skole se omstandighede en weet die beste wat in die belang van hul leerders en onderwyspersoneel is. Die SOS glo nie dat die sentralisering van besluitneming en sentrale beplanning van die minister van onderwys dit moontlik maak om die beste besluit in belang van elke skool se leerders en skoolgemeenskappe te neem nie. Daarvoor verskil die omstandighede van elke skool en gebied te veel.”

Volgens Buys behoort die minister slegs beleidsriglyne neer te lê soos gesondheidsmaatreëls waaraan elke skool behoort te voldoen. Daarna moet dit aan skoolbeheerliggame oorgelaat word om die beleid toe te pas, met inagneming van hulle bepaalde omstandighede.

“Die ervaring van ander lande waar skole weer stelselmatig heropen is, bevestig dat die tyd en omstandigheid vir hervatting van onderrig ten beste deur plaaslike omstandighede bepaal kan word. Dit sluit in die vlak van infeksies in die gebied, die gesondheidsmaatreëls wat skole gereed het, die sifting en toetsing van leerders en onderwysers, die risikoprofiel van die onderwysers, planne vir die gereelde ontsmetting van geboue en die gereedheid om sosiale afstandmaatreëls in te stel.”

Die SOS het ʼn gefaseerde terugkeerplan vir skole opgestel wat pasklaar gemaak kan word vir elke skool se omstandighede na aanleiding van gesondheidswetgewing en beste praktyke wat in ander lande suksesvol was.

“Die SOS glo dit sal verseker dat leerders en onderwyspersoneel se gesondheid vooropgestel word, en dit moontlik maak om onderrig veilig en gesond te hervat. Verskeie toegewyde skole het reeds planne gereed om kontakonderrig op ʼn veilige en gesonde manier te hervat.”

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Reint Dykema)

Volgens Buys het meer as 780 lede van die SOS se Leierskapvereniging tydens ʼn webinaar praktiese planne uitgeruil om die uitdagings vir heropening van skole die hoof te bied. Kwintiel 4- en 5-skole wat afhanklik is van skoolgeld is wel bekommerd oor hul begrotings, aangesien baie ouers hierdie maand nie skoolgeld betaal het nie.

“Kwintiel 4- en 5-skole is volgens die DBO se plan tans self verantwoordelik vir veiligheidsmaatreëls soos daaglikse ontsmetting van geboue, maskers, siftingstoetse en sanitering. Hoewel min. Motshekga ouers aangespoor het om aan te hou om skoolgeld te betaal sodat onderwysers steeds salarisse kan ontvang, is daar geen finansiële ondersteuning vir skoolgeldskole aangebied nie.”

Buys het gesê die SOS is uiters bekommerd oor die departement se voorstel dat gr. 12-leerders eers in Junie kan terugkeer skool toe en het besluit om Die Wolkskool se regstreekse uitsendings vir gr. 12-leerders te verleng tot 15 Mei. “Só kan die SOS onderwysers help om te verseker dat matrikulante op datum bly met hulle studie.”

Die diens is steeds gratis beskikbaar. Die Wolkskool se aanlyn klasse vir gr. 4-12 is ook tot 30 Junie 2020 gratis beskikbaar vir leerders. Die SOS gaan Maandag om 11:00 ʼn aanlyn bespreking fasiliteer om sommige vrae rakende die terugkeer van leerders na skole aan te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Kwintiel 4 en 5 moet self sorg vir vir reinigings middels en ander benodighede voor skool oopmaak. Slaan my dronk

Michael 1

Ten minste word besluite dan deur bevoegde persone geneem wat net die skoolkinders se belange en veiligheid op die hart het.

marius

Sy het geen verklaring waarom haar stelsel klaaglik misluk het , en sekere gemeenskappe ten spyte daarvan al jare terug laer getrek het om te sorg dat opvoeding suksesvol bedryf word nie. Dis net nog ‘n stok wat gebruik word sekeres by te kom .

Anel

Hier die is net weer bewys dat hulle nie eers die onderwys kan beheer nie. As dasr genoeg skole was sou daar nou geen probleem gewees het nie. Maar nou ja. Verder glo ek is hulle soooo bang dat die Afrikasnse kinders weer goed gaan doen en uit styg en our people se kinders kom nêrens nie. En dit is niemand anders se skuld as die regering nie. Hulle is so bang ons kinders kom iewers in die lewe. Onthou, volgens hulle idioligie mag niemand beter was as ‘n ander nie. Sterkte aan ouers van matrikulante en aan matriekulante van… Lees meer »

Talia

Die wolkskool is ook nou nie besonders nie. Dit het net n handvol vakke op en as daar monkey puzzle vrae is, is dit altyd die eerste antwoord wat die regte antwoord is. Dis baie swak.