Beheerraad moet gebruik van ivermektien vir Covid-19-behandeling heroorweeg – drukgroep

(Foto: Andres Larravere/AFP)

Daar is toenemend oproepe op Suid-Afrika se regulatoriese owerhede om die gebruik van ivermektien, in Suid-Afrika bekend as Ivermax, vir die behandeling van Covid-19 te oorweeg.

Die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) het egter vandeesweek weereens benadruk dat studies wat oor die gebruik van die middel vir die behandeling van Covid-19 gedoen is, in hierdie stadium steeds beperk is.

Die middel word gebruik vir die behandeling en beheer van parasiete in diere, asook vir die behandeling van tropiese siektes wat nie algemeen in Suid-Afrika voorkom nie. Dit word soms ook voorgeskryf vir die behandeling van skurfte of kopluise.

Volgens Sahpra is dit nie in Suid-Afrika geregistreer vir gebruik deur mense nie, hoewel die raad soms toelaat dat dit as ongeregistreerde produk vir die behandeling van individuele pasiënte gebruik mag word.

Die middel word in sommige lande reeds gebruik vir die behandeling van Covid-19-pasiënte, maar die kliniese verantwoordelikheid vir die veiligheid en doeltreffendheid berus dan net by die dokter wat dit voorskryf, sê Sahpra.

Die raad sê weens die groeiende belangstelling in die gebruik van ivermektien en meer data wat sedertdien oor die gebruik daarvan in die behandeling en voorkoming van Covid-19 beskikbaar geword het, het hy weer kliniese datastudies daaroor hersien.

Een van die studies is gedoen deur dr. Andrew Hill, verbonde aan die Universiteit van Liverpool, en het tot die gevolgtrekking gekom dat die gebruik van ivermektien in die bestuur van Covid-19-infeksies verbind kan word met ʼn korter tydperk van hospitalisasie, ʼn hoër kliniese herstelkoers en ʼn 75%-verbetering in oorlewingskoers.

Hill het tot die gevolgtrekking gekom dat nog kliniese proewe nodig is om genoeg wetenskaplike data in te samel vir die gebruik van ivermektien in die behandeling van Covid-19.

Sahpra sê nou onder meer die gehalte van die kliniese proewe oor ivermektien in Covid-19-pasiënte is swak en dat die dosisse in die verskillende studies boonop nie eenvormig is nie.

“Daar word kennis geneem dat verdere kliniese data teen die middel tot einde van Januarie beskikbaar sal wees. Sahpra wag op dié inligting om sy standpunt oor die gebruik van ivermektien in die bestuur van Covid-19-infeksies te hersien.

“Sahpra neem kennis dat daar tot dusver geen positiewe aanbevelings is vir die gebruik van ivermektien in die bestuur van Covid-19-infeksies deur enige regulatoriese owerheid met wie Sahpra ooreenkomste het nie en dat die Wêreldgesondheidsorganisasie in die stadium ook nie die gebruik van ivermektien vir die behandeling of profilakse van Covid-19-infeksies aanbeveel nie.”

Die beheerraad sê hoewel ivermektien as grootliks veilig beskou word, sluit newe-effekte ʼn veluitslag, naarheid, braking, diarree, maagpyn, swelling, lighoofdigheid, toevalle, ʼn daling in bloeddruk, veluitslag en hepatitis in.

“In hierdie stadium is geen kliniese proef-aansoeke by Sahpra vir hersiening ingedien nie. Sahpra moedig die voorlegging van kliniese proef-aansoeke aan wat die veiligheid en doeltreffendheid van ivermektien in die bestuur van Covid-19-infeksies vir die behandeling en profilakse aan en onderneem om sy hersiening daarvan te bespoedig.”

Sahpra sê hy het ook nog geen aansoek gekry om ivermektien te registreer as óf ʼn profilakse óf behandeling van Covid-19 nie, maar dat hy ook só ʼn hersiening vinnig sal hanteer indien dit ingedien word.

Die organisasie Ivermectin South Africa (IVSA) sê intussen in ʼn prokureursbrief aan Sahpra dit is duidelik uit data dat die gebruik van die middel veilig is vir menslike gebruik en min newe-effekte het.

Die organisasie sê onder meer in die afwesigheid van enige betroubare, alternatiewe behandeling, is Sahpra se weiering om ivermektien te oorweeg onbillik en dat mediese praktisyns toegelaat moet word om ivermektien as alternatiewe behandeling te gebruik.

IVSA sê die pandemie het nie grense nie en Sahpra moes die data oorweeg het wat reeds die veiligheid van die middel bevestig het. “Dit kan wees dat die data wat die gebruik van ivermektien as behandeling vir Covid-19 steun, beperk is, maar hoe onbenullig of op klein skaal kliniese proewe in die konteks van doeltreffendheid vir die behandeling van Covid-19 ook al is, moet dit oorweeg word in die lig van dringendheid en, indien nodig, geëskaleer word.”

Die drukgroep het Sahpra 14 dae gegee om op sy skrywe te reageer en sê hy kan hom daarna in die openbare belang na die hof wend.

Maroela Media het vroeër berig Ivermax is landwyd glo uitverkoop weens ʼn stormloop desperate Suid-Afrikaners wat hoop dit kan hulle teen Covid-19 beskerm.

Ahmed Munzoor Shaik Emam, ʼn NFP-parlementslid en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, het vroeër ook in ʼn prokureursbrief aan onder meer die minister van gesondheid en Sahpra gesê daar is nie in Suid-Afrika enige onafhanklike navorsing gedoen of bewyse verskaf wat bevestig dat die Covax-entstof verdere Covid-19-infeksies sal voorkom nie.

Emam sê Suid-Afrika vertrou die internasionale resultate en op daardie basis het die regering die Covax-entstof aangekoop.

Hy sê dit is dus nie onredelik of irrasioneel om van die regering te verwag om konsekwent op te tree en die gebruik van ivermektien teen Covid-19 te oorweeg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.